MIGA 7:18-19
MIGA 7:18-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wie is 'n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.
MIGA 7:18-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wie is 'n God soos U? U is 'n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vir altyd vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde, wat ons weer genadig sal wees, ons skuld sal vertrap. U sal al ons sondes in die dieptes van die see gooi.
MIGA 7:18-19 Bybel vir almal (ABA)
Daar is nie nog 'n God soos U nie, Here. U vergewe ons sonde. Ons is die mense van u volk, die mense wat nog lewe. U bly nie altyd kwaad nie, U wil graag lief wees vir ons. U sal weer goed wees vir ons, U sal ons sonde stukkend trap en dit in die see gooi.
MIGA 7:18-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het 'n welbehae in goedertierenheid. Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.
MIGA 7:18-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie is 'n God soos U, wat ongeregtigheid vergewe en die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou sy toorn nie vir ewig vas nie, want Hy het 'n welbehae in goedertierenheid. Hy sal weer omdraai, Hy sal Hom oor ons ontferm; Hy sal ons ongeregtighede onderwerp; en U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.
MIGA 7:18-19 Die Boodskap (DB)
“Daar is nie nog ’n God soos die Here nie. Hy vergewe die mense van Israel wat oor is vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy wys vir sy mense dat Hy vir hulle lief is. Hy sal ons weer jammer kry. Al die verkeerde dinge wat ons gedoen het, sal Hy onder sy voete vertrap. Hy sal nog meer as dit doen, Hy sal dit baie diep in die see gooi. Dit sal so goed wees of hierdie verkeerde dinge nooit eers gedoen is nie.
MIGA 7:18-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde en straf nie die sonde of die oortredings van hulle wat oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou. U sal weer medelye hê met ons. U sal ons sonde onder u voete vertrap, dit weggooi in die diepte van die see!