MARKUS 12:28-44

MARKUS 12:28-44 Bybel vir almal (ABA)

Een van die skrifgeleerdes het gehoor Jesus en die Sadduseërs praat met mekaar en hy het nader gekom. Toe hy hoor dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy vir Jesus: “Wat is die belangrikste wet in die Ou Testament?” Jesus het geantwoord: “Die belangrikste wet is: ‘ Julle moet luister, mense van Israel, die Here ons God is die enigste Here, en jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede belangrike wet is: ‘ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Daar is nie 'n ander wet wat belangriker is nie.” Die skrifgeleerde sê toe vir Jesus: “Jy het goed geantwoord, Meneer. Dit is waar wat jy sê: ‘ Daar is net een God, daar is nie 'n ander God nie.’ Dit is belangrik ‘ om vir God lief te wees met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag’ en ‘ om lief te wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Dit is belangriker as al die brand-offers en al die ander offers wat mense vir God gee.” Toe Jesus hoor dat die skrifgeleerde goed geantwoord het, het Hy vir hom gesê: “Jy verstaan nou amper wat dit beteken dat God Koning is.” Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie. Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat die Christus die Seun van Dawid is? Dawid self het gesê wat die Heilige Gees vir hom gesê het: “ Die Here het vir my Here, die Koning, gesê: Sit hier langs My, op die belangrikste plek. Ek sal jou vyande voor jou laat buig en jy sal jou voete op hulle sit. “Dawid self noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?” Die groot klomp mense het graag na Jesus geluister. Toe Jesus vir hulle geleer het, het Hy gesê: “Pasop vir die skrifgeleerdes. Hulle wil graag met deftige klere rondloop en hulle wil hê almal moet hulle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. Hulle wil graag sit op die belangrikste plekke in die sinagoges en by die feeste. Maar die skrifgeleerdes is mense wat weduwees bedrieg en wat hulle huise vat. En hulle is mense wat baie lank bid sodat ander mense dit moet sien. God sal hulle baie swaar straf.” Jesus het voor die dankoffer-kis in die tempel gaan sit en Hy het gekyk hoe al die mense koper geldstukke in die kis gooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. Daar kom toe 'n arm weduwee en sy gooi twee klein geldstukkies in. Dit was baie min geld. Jesus het sy dissipels geroep en vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat geld in die dankoffer-kis gegooi het. Die ryk mense het baie geld om in te gooi en daarna het hulle nog baie geld. Hierdie vrou is baie arm, maar sy het alles ingegooi, sy het nie meer geld om kos te koop nie.”

MARKUS 12:28-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal? En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is 'n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie. En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers. Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie. EN terwyl Jesus in die tempel leer, antwoord Hy en sê: Hoe sê die skrifgeleerdes dat die Christus die seun van Dawid is? Want Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete. Dawid self noem Hom dus Here; waarvandaan is Hy dan sy seun? En die groot menigte het graag na Hom geluister. EN Hy het aan hulle in sy onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye — hulle wat die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang. EN Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi. En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is 'n oortjie. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.

MARKUS 12:28-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle 'n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?” Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” “Pragtig, Meneer!” sê die skrifgeleerde vir Hom. “Dit is waar wat u gesê het: ‘Die Here is die enigste God,’ en ‘daar is geen ander God as Hy nie. ’ En ‘om Hom lief te hê met jou hele hart en met jou hele denke en met al jou krag’ en ‘om jou naaste lief te hê soos jouself’ is van meer belang as al die brandoffers en ander diereoffers.” Toe Jesus hom so verstandig hoor praat, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom 'n vraag te stel nie. Jesus het toe voortgegaan om die mense in die tempel te leer, en Hy het vir hulle gesê: “Hoe is dit dat die skrifgeleerdes sê dat die Christus die seun van Dawid is? Dawid self het deur die ingewing van die Gees gesê: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande aan jou onderwerp het.’ “Dawid self noem Hom ‘Here’; hoe kan Hy dan sy seun wees?” Die groot menigte mense het graag na Hom geluister. Terwyl Jesus die mense leer, het Hy gesê: “Pas op vir die skrifgeleerdes, wat daarvan hou om met swierige klere rond te stap en om op straat begroet te word, wat die voorste sitplekke in die sinagoges en die ereplekke by die feesmaaltye wil hê. Hulle palm die huise van die weduwees in en sê vir die skyn lang gebede op. Hulle sal baie swaar gestraf word.” Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi. Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi. Dit was baie min werd. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

MARKUS 12:28-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Een van die skrifkenners wat hulle hoor redeneer het, het nader gekom. Toe hy sien dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy Hom: “Watter gebod is die belangrikste van almal?” Jesus het geantwoord: “Die eerste is, ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag’. Die tweede is dit, ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is belangriker as dié nie.” Die skrifkenner het vir Hom gesê: “Uitstekend, Meester, dit is waar wat u sê, dat ‘Hy die Enigste is en dat daar geen ander is as Hy nie’. ‘Om Hom lief te hê met jou hele hart, jou hele verstand en met al jou krag, en om jou naaste lief te hê soos jouself’, is belangriker as al die •brandoffers en diereoffers.” Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die •koninkryk van God nie.” Niemand het dit toe meer gewaag om Hom iets te vra nie. Ná hierdie antwoord van Hom het Jesus op die tempelterrein onderrig gegee en gesê: “Hoe is dit dat die skrifkenners sê dat die Christus Dawid se seun is? Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: “ ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande onder jou voete geplaas het. ’ “Dawid self noem Hom ‘Here’. Hoe kan Hy dan sý seun wees?” Die groot skare het graag na Hom geluister. In sy lering het Jesus gesê: “Pasop vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met lang stolas rond te loop, op die markpleine begroet te word, en die voorste sitplekke in die •sinagoges en ereplekke by die feesmaaltye in te neem. Hulle verslind die huise van die weduwees, en vir die skyn bid hulle lang gebede. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.” Jesus het oorkant die offergawekis gesit en kyk hoe die skare kopermunte in die offergawekis gooi. Baie rykes het baie ingegooi. 'n Arm weduwee het gekom en twee lepton, wat saam 'n kwadrant werd is, ingegooi. Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle dat hierdie weduwee, wat brandarm is, meer ingegooi het as almal wat geld in die offergawekis gegooi het. Want almal het uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het ten spyte van haar behoeftigheid alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud. ”

MARKUS 12:28-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En een van die skrifgeleerdes het gekom en hulle hoor redeneer en verneem dat hy hulle goed geantwoord het, en vir hom gevra: Wat is die eerste gebod van almal? En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel! Die Here ons God is een Here: En jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag: dit is die eerste gebod. En die tweede is soos, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as hierdie nie. En die skrifgeleerde sê vir hom: Wel, Meester, u het die waarheid gesê, want daar is een God; en daar is niemand anders as hy nie: En om hom lief te hê met die hele hart en met die hele verstand en met die hele siel en met al die krag, en om sy naaste lief te hê soos homself, is meer as alle heelbrandoffers en slagoffers. En toe Jesus sien dat hy verstandig antwoord, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En geen mens het daarna gedurf om hom enige vraag te vra nie. En Jesus antwoord en sê terwyl Hy in die tempel leer: Hoe sê die skrifgeleerdes dat Christus die Seun van Dawid is? Want Dawid het self deur die Heilige Gees gesê: Die HERE het tot my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank vir u voete. Dawid noem Hom dan self Here; en waar is hy dan sy seun? En die gewone mense het hom met graagte gehoor. En Hy het in sy leer vir hulle gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat lief is om in lang klere te gaan en begroetinge op die markpleine liefhet, En die owerstes sit in die sinagoges en die boonste kamers by feesmaaltye; wat die huise van die weduwees opeet en vir 'n skyn lang gebede doen: hulle sal groter veroordeling ontvang. En Jesus het teenoor die skatkis gaan sit en gesien hoe die skare geld in die skatkis gooi, en baie wat ryk was, het baie ingegooi. En daar het 'n sekere arm weduwee gekom, en sy het twee geldstukke ingegooi wat 'n geld verdien. En Hy het sy dissipels na Hom geroep en vir hulle gesê: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want alles het hulle van hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, selfs haar hele lewe.

MARKUS 12:28-44 Die Boodskap (DB)

’n Geleerde Jood wat veral goed was met die uitlê van wat die Skrif sê, kom toe daar verby. Hy het gehoor met watter goeie antwoord Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hy begin toe ook met Jesus argumenteer: “As ’n mens nou aan al die opdragte en wette van God dink, watter een dink jy is die belangrikste?” Jesus antwoord toe: “Boaan die lys staan: Luister mooi, die Here ons God is die enigste Here wat daar is. Jy moet Hom liefhê met alles wat jy is en het. Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Maar langs hierdie opdrag staan ’n tweede een: jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy self is. Daar is nie ’n ander opdrag wat naby hierdie twee kom nie.” “Jy het dit baie mooi gestel. Ek kan sien dat jy mense goed kan leer,” sê die Joodse geleerde toe. “Dit is waar, daar is net een God en daar is geen ander nie. Dat ons Hom moet liefhê met alles wat ons is en het, is regtig baie belangriker as allerhande godsdienstige dingetjies wat ons doen, soos om geskenke vir God tempel toe te bring of om spesiaal tempel toe te kom om aan God te offer.” Jesus kon sien dat hierdie Joodse geleerde weet waarvan hy praat en het toe vir hom gesê: “Jy is baie naby aan God se nuwe wêreld.” Die vrae het opgedroog, want niemand het meer kans gesien om met Jesus in ’n argument betrokke te raak nie. Jesus was weer in die tempel besig om mense van God te vertel. Hy vra toe vir die mense by Hom: “Hoekom sê die Joodse skrifkenners dat die beloofde Redder uit die familie van koning Dawid gaan kom? Kyk wat het die Heilige Gees Dawid in die Skrif laat skryf: ‘Die Here het vir my Here gesê: Sit hier op die ereplek langs My tot Ek met al jou vyande klaargespeel het en hulle magteloos voor jou lê.’ “Uit hierdie deel sien ons dat Dawid die Redder wat beloof is ‘Here’ noem. Hoe kan Hy dan terselfdertyd ook Dawid se seun wees?” Vir die groot groep mense wat daar na Hom gesit en luister het, was dit lekker om te hoor hoe Hy oor God se dinge praat. Terwyl Jesus so oor die dinge van God praat, sê Hy: “Wees baie versigtig vir die geleerde Jode wat so alles van die Skrif af weet. Hulle hou tog so daarvan om gesien te word. Hulle loop met hulle spoggerige klere rond waar die meeste mense hulle kan sien en groet almal dan kamma vriendelik. As jy hulle in die erediens soek, kyk maar net daar op die voorste plekke waar almal hulle kan sien. En as die mense ’n fees hou, hou net die belangrikste plekke dop - daar sal jy hulle kry. Maar kyk ’n bietjie wat hulle regtig doen. Hulle sal vroue wat nie mans het nie en nie mooi weet hoe dinge werk nie kul sonder om ’n oog te knip. So sal hulle die vroue se huise kry. Ai, dan bid hulle nog sulke lang gebede om mense met hulle vroomheid te beïndruk. God gaan sulke mense dubbel en dwars straf.” Jesus het toe ’n rukkie lank regoor die kollekteborde in die tempel gaan sit. Hy kyk toe wat die mense vir die tempel ingooi. Daar was ryk mense wat sommer baie geld ingegooi het. ’n Baie arm vrou, wat nie meer ’n man gehad het om vir haar te sorg nie, kom gooi toe twee stukkies kopergeld in. Dit was so te sê niks werd nie. Jesus roep toe sy dissipels. “Luister nou mooi wat Ek vir julle sê. “Het julle daardie arm vrou gesien wat die twee koperstukkies ingegooi het? Sy het meer vir God gegee as enigeen van die ander. Al die ander het gegee omdat hulle so baie het. Hulle sal dit nie eens mis nie. Maar sy is brandarm en het niks nie. Die bietjie wat sy gehad het om iets mee te koop om te eet het sy vir God gegee. Ja, sy het alles vir Hom gegee.”

MARKUS 12:28-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Een van die skrifkenners het nadergestaan en geluister na die argument. Beïndruk deur Jesus se goeie antwoord aan die Sadduseërs, vra hy Hom toe: “Watter gebod is die heel belangrikste?” Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’ Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.” Die skrifkenner sê toe vir Hom: “Leermeester, u het dit pragtig gestel. U het tereg gesê dat daar net een God is. En ek stem volkome saam dat ek Hom moet liefhê met my hele hart, met my volle denke en met al my krag, en my naaste soos myself. Dit is belangriker as al die brandoffers en ander offers.” Beïndruk deur die man se insig het Jesus vir hom gesê: “Jy is inderdaad naby aan God se koninkryk!” Hierna het niemand Hom weer met ’n strikvraag in ’n hoek probeer dryf nie. Later, toe Jesus besig was om die mense by die tempel te onderrig, het Hy die volgende vraag gestel: “Hoe is dit dan dat die skrifkenners beweer dat die Messias die seun van Dawid is? Dawid het tog self deur die Heilige Gees gesê: ‘Die HERE het vir my Here gesê: Sit aan my regterhand totdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’ “Dawid noem Hom tog self Here. Hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?” Die groot skare het dit geniet om na Hom te luister. In sy onderrig het Jesus ook nog gesê: “Oppas vir die skrifkenners! Hulle hou daarvan om met swierige klere te paradeer en om op die dorpspleine begroet te word. En hoe verlustig hulle hulle nie in die ereplekke in die sinagoges en by feesmaaltye nie! Hulle beroof die weduwees skaamteloos van hulle huise en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal hulle ekstra swaar gestraf word.” Jesus het regoor die offerkis gaan sit en gekyk hoe die skare hulle geld in die kis gooi. In die proses het baie welgesteldes groot bedrae geld ingegooi. Toe kom daar ’n brandarm weduwee en sy gooi net twee klein geldstukkies in. Daarop roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: “Weet vir seker, hierdie arm weduwee het meer in die offerkis gegooi as al die ander. Julle sien, almal het ingegooi vanuit hulle oorvloed, maar sy het, arm soos sy is, alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”