MARKUS 14:32-72

MARKUS 14:32-72 Bybel vir almal (ABA)

Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.” Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Jesus het teruggekom en toe sien Hy die drie dissipels slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Simon, slaap jy? Kon jy nie een uur wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.” Jesus het weer weggegaan en Hy het dieselfde woorde gebid. Toe Hy terugkom, het Hy gesien die drie dissipels slaap weer, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Jesus die derde maal by hulle kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Dit is nou klaar! Dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.” Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer!” en hy het vir Jesus gesoen. Die mense wat saam met Judas was, het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester daarmee geslaan en hy het sy oor afgekap. Jesus het gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek was elke dag saam met julle by die tempel. Ek het vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Maar dit alles moet gebeur sodat dit waar kan word wat die Ou Testament sê.” Jesus se dissipels het Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Daar was 'n jongman wat saam met Jesus gegaan het. Hy het nie klere aangehad nie, net 'n stuk lap om sy liggaam. Die mense het hom gegryp en probeer om hom vas te hou, maar hy het die lap daar gelos en kaal weggehardloop. Die mense het Jesus weggevat na die hoëpriester toe, en al die priesterleiers en die familieleiers en die skrifgeleerdes het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het saam met die wagte by die vuur gaan sit en hy het homself warm gemaak. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad het iets gesoek om Jesus te beskuldig sodat hulle Hom kon doodmaak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vertel wat Jesus gedoen het, maar nie een van hulle het die waarheid gepraat nie, hulle stories was nie dieselfde nie. Party mense het opgestaan en hulle het leuens vertel oor Jesus. Hulle het gesê: “Ons het gehoor Jesus sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat mense gebou het, afbreek en Ek sal in drie dae 'n ander tempel bou. Dit sal nie mense wees wat hierdie tempel bou nie.’ ” Maar ook hieroor het die mense nie dieselfde gepraat nie. Die hoëpriester het in die vergadering opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly, Hy het niks geantwoord nie. Toe vra die hoëpriester vir Hom: “Is jy die Christus, die Seun van God vir wie ons moet prys?” Jesus het gesê: “Ja, Ek is! En julle sal sien Ek, die Seun van die mens, sit op die belangrikste plek langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Ons het nou genoeg gehoor. Julle het gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Almal het gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Party van die mense het op Jesus gespoeg. Hulle het sy oë toegebind en hulle het Hom met hulle vuiste geslaan en vir Hom gesê: “Wys vir ons jy is 'n profeet!” Die wagte het Hom weggevat en hulle het Hom geklap. Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het daarnatoe gekom. Sy het vir Petrus gesien, hy het by die vuur gesit om homself warm te maak. Sy het lank na hom gekyk en vir hom gesê: “Jy was ook saam met Jesus, die man van Nasaret.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Haan het gekraai. Die meisie het weer vir Petrus gesien en sy het weer vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man is een van Jesus se dissipels.” Maar Petrus het weer gesê dit is nie waar nie. 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, vir Petrus gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want jy kom ook van Galilea!” Petrus het gesê: “Julle praat van hierdie man, maar ek ken hom glad nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” Toe het die haan die tweede maal gekraai. Petrus het onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan twee maal gekraai het.” Petrus het baie hartseer geword, hy het aangehou huil.

MARKUS 14:32-72 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy gaan toe weer weg en bid dieselfde woorde. En toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar; en hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. En Hy kom vir die derde keer en sê aan hulle: Slaap maar voort en rus. Dit is genoeg; die uur het gekom. Kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van die sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai. EN dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge. En sy verraaier het 'n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen — dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg. En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom. Daarop slaan hulle hul hande aan Hom en gryp Hom. En een van die wat daar gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag was Ek by julle in die tempel besig om te leer, en julle het My nie gegryp nie. Maar die Skrifte moes vervul word. Toe het almal Hom verlaat en gevlug. En 'n sekere jongman met 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg; en die jongmanne het hom gegryp; maar hy het die linnedoek laat staan en naak van hulle weggevlug. EN hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester. En al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes het by hom vergader. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot binne-in die paleis van die hoëpriester, en het saam met die dienaars gesit en hom by die vuur warm gemaak. En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie; want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie. En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê: Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie. En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie. Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God? En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig! Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was. En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan. EN terwyl Petrus onder in die binneplaas was, kom daar een van die diensmeisies van die hoëpriester, en toe sy Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: Jy was ook by die Nasaréner, Jesus. Maar hy het dit ontken en gesê: Ek weet nie en begryp nie wat jy sê nie. En hy het buite na die voorplein gegaan; en die haan het gekraai. En toe die diensmeisie hom weer sien, begin sy aan die wat daar staan, te sê: Hierdie man behoort by hulle. Maar hy het dit weer ontken. En 'n bietjie later weer sê die wat daar staan vir Petrus: Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook 'n Galiléër en jou spraak is net so. Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken nie daardie man van wie julle praat nie. En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars.

MARKUS 14:32-72 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!” Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.” Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.” Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. 'n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net 'n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop. Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om 'n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie. Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae 'n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie. Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie. Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra. “Ek is,” het Jesus geantwoord, “en julle sal die Seun van die mens sien waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is, en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?” Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!” Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer 'n bietjie!” Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat. Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.” Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het 'n haan gekraai. Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” Maar hy het dit weer ontken. 'n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook 'n Galileër.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.” En onmiddellik het die haan 'n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan 'n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het in trane uitgebars.

MARKUS 14:32-72 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gebid het.” Hy neem toe vir •Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het erg ontsteld en beangs begin word, en sê toe vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak.” Hy het 'n entjie verder gegaan, op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik is, die uur by Hom moet verbygaan. Hy het gesmeek: “ Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik. Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil. ” Hy kom en vind hulle toe aan die slaap, en sê vir Petrus: “Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het weer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë het swaar geword. Hulle het nie geweet wat om Hom te antwoord nie. Hy kom toe 'n derde keer en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Genoeg! Die uur het gekom. Kyk, die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan! Kyk, die een wat My verraai, is naby!” En dadelik, terwyl Jesus nog praat, daag Judas, een van die twaalf, daar op. En saam met hom was daar 'n menigte, met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters, skrifkenners en familiehoofde. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg onder bewaking.” Toe Judas daar aankom, het hy dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Rabbi”, en Hom gesoen. Hulle het Hom gegryp en Hom gevange geneem. Een van dié wat naby gestaan het, het sy swaard getrek, die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Jesus sê toe vir hulle: “Het julle soos teen 'n rower met swaarde en knuppels uitgetrek om My gevange te neem? Dag ná dag was Ek by julle op die tempelterrein besig om onderrig te gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar laat die Skrifte vervul word!” Almal het Hom in die steek gelaat en weggevlug. Ook 'n sekere jong man met net 'n linnedoek om sy naakte lyf het Hom gevolg. Hulle het hom ook gegryp, maar hy het die linnedoek laat los en nakend weggevlug. Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en al die leierpriesters, familiehoofde en skrifkenners het daar saamgekom. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het saam met die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak. Hulle kon egter niks vind nie. Baie het vals teen Hom getuig, en die getuienisse het nie met mekaar ooreengestem nie. Sommige het toe opgestaan en valse getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het Hom hoor sê, ‘Ek sal hierdie •tempel, wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander bou, wat nie met hande gemaak is nie.’ ” Maar ook hieroor was hulle getuienis nie eenders nie. Die hoëpriester staan toe in hulle midde op en vra vir Jesus: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Die hoëpriester vra Hom toe weer: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Jesus antwoord: “Ek is! En “julle sal die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en sien kom met die wolke van die hemel.” Die hoëpriester skeur toe sy klere en sê: “Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle almal het geoordeel dat Hy die dood verdien. Sommige het begin om op Hom te spoeg, Hom geblinddoek en Hom met die vuis geslaan, en vir Hom gesê: “Profeteer!” Ook die dienaars het Hom klappe gegee. Terwyl •Petrus onder in die binnehof was, kom een van die diensmeisies van die hoëpriester, en toe sy vir Petrus sien, besig om homself warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Ook jy was saam met Jesus, die Nasarener.” Hy het dit ontken deur te sê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie en verstaan ook nie wat jy sê nie.” Hy het buitentoe gegaan na die voorhof toe, en 'n haan het gekraai. Toe die diensmeisie hom sien, het sy vir die mense wat daar naby gestaan het, weer begin sê: “Hierdie man is een van hulle.” En weer het hy dit ontken. Ná 'n kort rukkie het die mense wat daar naby gestaan het, weer vir Petrus gesê: “Sowaar, jy is een van hulle, want jy is ook 'n Galileër.” Hy begin toe vloek, en sweer: “Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie!” En onmiddellik het 'n haan 'n tweede keer gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat 'n haan twee maal kraai, sal jy My drie keer verloën.” En hy het bitterlik gehuil.

MARKUS 14:32-72 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hulle het by 'n plek gekom met die naam van Getsemane, en Hy sê vir sy dissipels: Sit hier terwyl Ek bid. En hy het Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en begin verbaas word en baie swaar geword; En sê vir hulle: My siel is baie bedroef tot die dood toe; bly hier en waak. En hy het 'n bietjie vorentoe gegaan en op die grond geval en gebid dat, as dit moontlik was, die uur by hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alles is vir U moontlik; neem hierdie beker van my weg; nogtans nie wat ek wil nie, maar wat U wil. En Hy kom en kry hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? kon jy nie een uur waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is waarlik gereed, maar die vlees is swak. En weer het Hy weggegaan en gebid en dieselfde woorde gespreek. En toe hy terugkom, vind hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar, en hulle het nie geweet wat om hom te antwoord nie. En Hy het vir die derde keer gekom en vir hulle gesê: Slaap nou verder en rus. Dit is genoeg, die uur het gekom; kyk, die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy wat My verraai, is naby. En dadelik, terwyl hy nog spreek, kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, van die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge af. En hy wat Hom verraai het, het hulle 'n teken gegee en gesê: Wie ek ook al sal soen, dit is hy; neem hom en lei hom veilig weg. En sodra hy gekom het, gaan hy dadelik na hom en sê: Meester, meester! en hom gesoen. En hulle het hom die hande opgelê en hom gegryp. En een van die wat daar gestaan het, het 'n swaard getrek en 'n dienaar van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle soos teen 'n dief uitgetrek met swaarde en stokke om My te vang? Ek was daagliks saam met julle in die tempel en leer, en julle het My nie geneem nie, maar die Skrifte moet vervul word. En hulle het hom almal verlaat en gevlug. En 'n sekere jongman het Hom gevolg, met 'n linnedoek om sy naakte liggaam gegiet; en die jongmanne het hom gegryp. En hy het die linnedoek gelos en naak van hulle weggevlug. En hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester, en saam met hom het al die owerpriesters en die ouderlinge en die skrifgeleerdes vergader. En Petrus het hom van ver af gevolg tot in die paleis van die hoëpriester; en hy het by die dienaars gaan sit en hom by die vuur warm gemaak. En die owerpriesters en die hele Raad het 'n getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak; en het niks gevind nie. Want baie het valse getuienis teen hom gelewer, maar hulle getuies het nie saamgestem nie. En sommige het opgestaan en valse getuienis teen hom gelewer en gesê: Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek, en binne drie dae sal ek 'n ander bou wat sonder hande gemaak is. Maar hulle getuie het ook nie so saamgestem nie. En die hoëpriester het in die midde opgestaan en Jesus gevra en gesê: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar hy het stilgebly en niks geantwoord nie. Weer vra die hoëpriester Hom en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die Geseëndes? En Jesus sê: Ek is, en julle sal die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het hom almal tot die dood veroordeel. En sommige het begin om op hom te spoeg en sy gesig te bedek en hom met die vuis te slaan en vir hom te sê: Profeteer! en die dienaars het hom met hul handpalms geslaan. En terwyl Petrus onder in die paleis was, kom daar een van die diensmeisies van die hoëpriester. En toe sy sien hoe Petrus homself warm maak, kyk sy na hom en sê: En jy was ook by Jesus van Nasaret. Maar hy het dit ontken en gesê: Ek weet nie, en ek verstaan nie wat jy sê nie. En hy het uitgegaan na die voorportaal; en die haanspan. En 'n diensmeisie het hom weer gesien en vir die wat daar staan, begin sê: Dit is een van hulle. En hy het dit weer ontken. En 'n rukkie daarna sê die wat daar staan weer vir Petrus: Waarlik, jy is een van hulle, want jy is 'n Galiléër, en jou spraak stem daarmee ooreen. Maar hy het begin vloek en sweer en sê: Ek ken nie hierdie man van wie julle praat nie. En die tweede keer het die haan geklim. En Petrus dink aan die woord wat Jesus vir hom gesê het: Voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En toe hy daaraan dink, het hy gehuil.

MARKUS 14:32-72 Die Boodskap (DB)

Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit is ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag hier, Ek gaan bid.” Hy het net vir Petrus, Jakobus en Johannes saamgevat. Jesus was aan die worstel en het baie bedruk gevoel. “Ek voel doodsbenoud. Ek kan dit byna nie meer uithou nie,” sê Hy vir die drie. “Wag julle hier en kyk dat niemand ons hier verras nie.” Jesus het toe ’n entjie verder gaan kniel en God gevra of daar nie miskien ’n moontlikheid was dat die verskriklike dinge wat vir Hom wag, nie hoef te gebeur nie. “My liewe Vader,” het Jesus begin, “U kan doen net wat U wil, want U kan alles doen. Is daar nie ’n kans dat al hierdie vreeslike dinge nie met My hoef te gebeur nie? Ek probeer U nie voorskryf nie. As U wil hê dit moet gebeur, laat dit dan gebeur. Doen asseblief wat U wil.” Toe Jesus by die ander drie kom, lê hulle vas aan die slaap. “Simon,” sê Jesus vir Petrus, “wat gaan aan? Slaap julle? Kon jy sowaar nie eens ’n uurtjie wakker bly om te kyk dat iemand ons nie aanval nie? Jy sal baie wakkerder moet wees as dit by versoekings kom. Vra God om jou te help om nie die verkeerde dinge te doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie.” Weer het Jesus gaan bid en dieselfde as die eerste maal gevra. Toe Hy terugkom, kry Hy die drie weer so. Hulle was so vaak dat hulle sowaar weer aan die slaap geraak het. Toe Jesus daar aankom, was hulle so skaam dat hulle nie mooi geweet het wat om vir Hom te sê nie. ’n Derde maal het Jesus gaan bid en toe Hy terugkom, sê Hy vir hulle: “Julle lê lekker en slaap asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus. Dit is nou genoeg. Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul sondige Jode gaan My netnou kom vang en dit omdat iemand My gaan verraai. Komaan, laat ons gaan. My verraaier is net hier om die draai.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of daar staan Judas, wat een van sy twaalf getrouste volgelinge was. Hy was nie alleen nie. Om hom en agter hom het ’n hele bende mense gestaan met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om te keer dat hulle die verkeerde een vang, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is die een! Sorg dat julle hom in die hande kry en sê vir die wagte om hom goed op te pas.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi,” sê hy en soen Jesus op die wang. Die mense storm op Jesus af en vang Hom. Een van Jesus se volgelinge pluk toe ’n swaard uit en kap ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. “Dink julle Ek is die een of ander rebel of terroris dat julle hier met ’n klomp wapens aankom om My te vang?” vra Jesus toe. “Ek het dag vir dag hier tussen julle rondgestap. Oop en bloot, voor almal, het Ek op die plein langs die tempel vir mense van God vertel. Hoekom het julle My nie toe gegryp nie? Toemaar, Ek ken die antwoord: dit is omdat wat die Skrif lankal gesê het gaan gebeur, moet gebeur.” Al sy volgelinge het toe gemaak dat hulle wegkom. Een van sy volgelinge het egter op ’n afstand agter die spul mense aangeloop wat vir Jesus gevang het. Hy het net ’n stuk klere van linne aangehad. Toe hulle hom gryp, wikkel hy hom los en hardloop sonder sy klere kaal weg. Sy klere het by die ander mense agtergebly. Hulle vat Jesus toe na die belangrikste Joodse leiers toe. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg. Hy is selfs saam tot in die agterplaas van die hoëpriester se huis. Daar het hy saam met die wagte om die vuur gaan sit om hom so ’n bietjie warm te maak. Die Joodse leiers, saam met die Joodse Raad, het gesoek na ’n aanklag teen Jesus wat hulle genoeg rede sou gee om Hom te laat doodmaak. Maar hulle kon sowaar niks kry nie. Baie het allerhande leuens oor Hom kom vertel, maar hulle stories het so verskil dat niemand hulle sou glo nie. Toe span ’n paar saam met ’n groot leuen: “Ons het hom hoor sê dat hy ons tempel sal afbreek waaraan ons mense so lank gebou het. In drie dae sal hy glo ’n ander bou en hy sal nie eens mense gebruik om dit te doen nie.” Maar ook dié storie was so deurmekaar dat wat die een gesê het, nie dieselfde was as wat die ander een gesê het nie. Die hoëpriester, wat die voorsitter van die vergadering was, staan toe op en vra vir Jesus: “Nou toe, jy het die lelike dinge gehoor wat hierdie mense oor jou kwytraak. Wat het jy vir jouself te sê?” Maar Jesus het net doodstil gebly. Weer vra die hoëpriester Hom: “Is jy die beloofde Redder, die Seun van die groot God?” “Ek is,” sê Jesus. “En meer nog, julle sal sien hoe Ek, die beloofde Redder, op die ereplek langs die sterke God sit en ook hoe Ek op die wolke gaan kom om julle te oordeel.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy skeur toe sy klere dat almal kan sien hoe ontsteld hy is. “Vir wat soek ons nog na iemand wat vir ons kan vertel wat hierdie man verkeerd gedoen het?” roep hy uit. “Julle almal het dit gehoor. Hierdie man het geen ontsag vir God nie en sê dinge wat God diep seermaak. Wat dink julle van dit alles?” Soos een man het almal saamgestem en gesê dat daar nou geen kwessie meer was nie: Jesus moet doodgemaak word. Hulle spoeg toe op Hom en nadat hulle sy oë toegebind het, dam hulle Hom met die vuis by: “Toe, sê ’n bietjie wie het jou geslaan as jy kan. Jy sê mos jy is iemand wat namens God kan praat.” Die wagte het Jesus gevat en Hom baie seergemaak deur Hom te slaan. Terwyl Petrus so saam met die wagte in die agterplaas van die hoëpriester se huis gesit het, kom daar ’n meisie verby wat daar gewerk het. Toe sy by Petrus verbystap wat hom sit en warm maak by die vuur, steek sy vas en kyk mooi. “Jy is ook mos een van daardie groep mense wat agter die Nasarener, Jesus, aangeloop het,” sê sy. “Nee, ek is nie,” het Petrus dit dadelik ontken. “Ek het g’n idee waarvan jy praat nie. Ek ken die man nie eens nie.” Toe staan hy op en gaan staan naby die hek. Net toe kraai die haan. Maar die meisie wou hom nie los nie. Sy sê vir die mense wat daar by die hek staan: “Ek is seker hierdie ou is een van die Nasarener se volgelinge.” Weer het Petrus dit heftig ontken. Daarna sê van die ander wat daar rondgestaan het: “Jong, jy lyk vir ons net soos een van hulle. Jy kom dan ook uit Galilea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy is: “Ek sweer ek ken nie eens hierdie man van wie julle so praat nie.” Juis toe kon ’n mens die haan ’n tweede maal hoor kraai. Petrus het dit ook gehoor en dadelik onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee maal kraai, sal jy al drie maal gesê het dat jy My nie eens ken nie.” Toe het hy bitterlik gehuil.

MARKUS 14:32-72 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.” Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!” Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan. “ Abba ” – dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy werklikwaar? Kon jy nie een uur waak nie? Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.” Hy het toe weer weggegaan en dieselfde gebed gebid. Toe Hy weer terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want hulle was so vaak dat hulle hulle oë net nie kon oophou nie. Hulle was te verleë om Hom te antwoord. Toe Hy die derde keer by hulle terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Dis nou genoeg! Die tyd het aangebreek. Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan. Kyk, my verraaier is hier.” Dadelik hierna – Jesus was nog besig om te praat – kom Judas, een van die twaalf dissipels, daar aan met ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde. Sy verraaier het reeds vooraf vir hulle ’n uitkenningsteken gegee met die woorde: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom en vat hom onder bewaking weg.” Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester,” en Hom gesoengroet. Toe het die ander Hom gegryp en gearresteer. Maar een van die omstanders het ’n swaard getrek, dit geswaai en die slaaf van die hoofpriester se oor afgekap. Toe vra Jesus vir hulle: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer toe Ek dag vir dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar hierdie dinge gebeur sodat wat in die Skrif staan, vervul kan word.” Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Daar was ook ’n jong man wat saam met Jesus na die tuin gekom het. Hy het net ’n naghemp om sy lyf gehad. Hulle probeer hom toe ook vang, maar hy het die naghemp net daar in hulle grypende hande gelos en kaal weggehardloop. Hulle het Jesus toe na die hoofpriester se woning toe gebring, waar al die priesterhoofde, die familiehoofde en die skrifkenners bymekaargekom het. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg tot in die binnehof van die hoofpriester se woning. Hy het ’n ruk lank daar by die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak. Binne die huis het die priesterhoofde, en trouens die hele Joodse Raad, getuienis teen Jesus probeer verkry wat tot sy doodstraf sou kon lei, maar hulle kon niks vind nie. Daar het inderdaad baie gekom om vals getuienis teen Hom af te lê, maar hulle het mekaar weerspreek. Daar staan toe sekere persone op wat bedrieglik die volgende teen Hom getuig: “Ons het hierdie man hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met mensehande gebou is, afbreek en in drie dae sal Ek ’n ander een oprig wat sonder mensehande gebou is.’” Maar selfs só het hulle getuienis nie geklop nie. Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?” Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?” Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is, en julle sal vir My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Ek terugkom met die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het sy godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het eenparig verklaar: “Hy is skuldig. Hy verdien die doodstraf.” Sommige het op Hom begin spoeg en Hom geblinddoek. Daarna het hulle Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n slag!” Selfs die dienspersoneel het Hom in die gesig geklap toe hulle Hom wegvat. Petrus was nog steeds onder in die binnehof. Een van die diensmeisies wat vir die hoofpriester gewerk het, kom toe daar aan en sien vir Petrus waar hy hom by die vuur warm maak. Sy kyk toe stip na hom en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Nasarener.” Hy het dit egter ontken en gesê: “Ek weet glad nie waarvan jy praat nie.” Hy staan toe verder weg na die voorportaal se kant toe. Net op daardie oomblik kraai daar toe ’n haan. Die diensmeisie kyk toe na hom en begin weer vir dié wat daar rondstaan, sê: “Hierdie man is ook een van hulle!” Petrus het dit weer ontken. ’n Klein rukkie later sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle. Jy is ook ’n Galileër.” Petrus het hewig begin vloek en sweer: “Die Here weet, ek ken hierdie man van wie julle praat, glad nie!” Direk daarna het die haan vir die tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval dat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee keer kraai, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.” Toe het hy in trane uitgebars.