MARKUS 15:33-47
MARKUS 15:33-47 Bybel vir almal (ABA)
Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eloï, Eloï, lema sabagtani?” Dit beteken “ My God, my God, hoekom het U My gelos?” Party van die mense wat daar naby gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Luister, hy roep vir Elia!” Iemand het gehardloop en hy het 'n spons vol suur wyn gemaak. Hy het dit op 'n dik riet gesit en vir Jesus probeer gee sodat Hy dit kon drink. Die man het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia kom om hom van die kruis af te haal.” Jesus het hard geskree en Hy het gesterf. Die gordyn in die tempel het van bo tot onder geskeur. Dit was toe twee stukke. Die offisier het voor Jesus gestaan. Toe hy sien dat Jesus so gesterf het, het hy gesê: “Hierdie man was regtig die Seun van God!” Daar was 'n paar vroue wat 'n bietjie verder gestaan en kyk het. Maria Magdalena en Maria ma van Klein-Jakobus en Joses, en ook Salome was daar. Toe Jesus in Galilea was, het die vroue altyd saam met Hom gegaan en vir Hom gesorg. Daar was ook baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem gegaan het. Dit was Vrydag, die dag toe die Jode alles gereedgemaak het vir die Sabbatdag. Dit was al laat en amper aand. Josef van Arimatea was 'n belangrike man in die Joodse Raad. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal. Josef het na Pilatus toe gegaan. Hy was bang, maar hy het gevra of hy Jesus se liggaam kan kry. Pilatus was verbaas toe hy hoor dat Jesus klaar dood is. Hy het die leier van die Romeinse soldate geroep en vir hom gevra of Jesus klaar dood is. Nadat Pilatus gehoor het dat Jesus dood is, het Pilatus Jesus se liggaam vir Josef gegee. Josef het 'n stuk lap gekoop. Hy het Jesus se liggaam van die kruis afgehaal en Hom in die lap toegedraai. Hy het die liggaam in 'n graf gesit wat hulle in 'n rots gekap het. Hy het 'n groot klip voor die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, Joses se ma, het gesien waar Josef vir Jesus begrawe het.
MARKUS 15:33-47 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe. En die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía. Toe hardloop een en maak 'n spons vol asyn en sit dit op 'n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal. Maar Jesus het met 'n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas. En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder. En toe die hoofman oor honderd wat daar reg voor Hom staan, sien dat Hy so uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas het, sê hy: Waarlik, Hy was die Seun van God. En daar was ook vroue wat van ver af dit aanskou het. Onder hulle was Maria Magdaléna ook, en Maria, die moeder van Jakobus, die kleine, en van Joses, en Salóme — hulle wat Hom gevolg en Hom gedien het toe Hy in Galiléa was — en baie ander vroue wat saam met Hom opgegaan het na Jerusalem. EN toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar 'n vername raadslid, Josef van Arimathéa, wat self ook die koninkryk van God verwag het; en hy waag dit om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra. En Pilatus was verwonderd dat Hy al dood was, en hy het die hoofman oor honderd geroep en hom gevra of Hy al lank dood was. En toe hy dit van die hoofman oor honderd verneem het, het hy die liggaam aan Josef geskenk. En hy het linne gekoop, en Hom afgehaal en in die linne toegedraai, en Hom neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was. En hy het 'n steen teen die opening van die graf gerol. En Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê word.
MARKUS 15:33-47 Afrikaans 1983 (AFR83)
Teen twaalfuur die middag het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat? Toe party van die mense wat daar naby gestaan het, dit hoor, sê hulle: “Hoor daar, hy roep vir Elia.” Een van hulle het toe gehardloop, 'n spons in suur wyn gesteek en dit vir Hom op 'n stok gehou om te drink. Hy het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia hom van die kruis kom afhaal.” Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur. Toe die offisier, wat reg voor Jesus gestaan het, Hom die laaste asem só sien uitblaas het, het hy gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” Daar het ook vroue op 'n afstand gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria die moeder van Klein-Jakobus en Joses, en Salome. Toe Jesus nog in Galilea was, het hulle oral saam met Hom gegaan en Hom versorg. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het, was ook daar. Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat. Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Joodse Raad en iemand wat self ook uitgesien het na die koms van die koninkryk van God, kom toe daar aan. Hy het dit gewaag om na Pilatus toe te gaan en die liggaam van Jesus te vra. Pilatus was verbaas om te hoor dat Hy al dood is. Hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het. Toe hy van die offisier verneem dat dit wel so is, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het 'n stuk linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en neergelê in 'n graf wat in die rots uitgekap was. Hy het 'n klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria die moeder van Joses het gestaan en kyk waar Hy neergelê word.
MARKUS 15:33-47 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die sesde uur aanbreek, het dit oor die hele aarde donker geword tot die negende uur toe. Op die negende uur het Jesus met 'n harde stem uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtáni?” wat, as dit vertaal word, beteken, ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Toe sommige van die omstanders dit hoor, sê hulle: “Kyk, hy roep Elia.” Iemand het gehardloop, 'n spons met suur wyn deurweek, dit op 'n riet gesit en vir Hom gehou om te drink, met die woorde: “Wag, laat ons sien of Elia kom om hom af te haal.” Jesus het met 'n harde stem uitgeroep en sy asem uitgeblaas. Die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur, van bo tot onder. Toe die centurio, wat reg oorkant Hom gestaan het, Hom sy asem so sien uitblaas, sê hy: “Hierdie man was werklik •Seun van God!” Daar was ook vroue wat op 'n afstand gekyk het, onder wie Maria Magdalena, Maria, die moeder van die jong Jakobus en Joses, en Salome. Dit is die vroue wat Hom, toe Hy in Galilea was, gevolg en bedien het. Baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem gegaan het, was ook daar. Toe dit reeds laat geword het, en aangesien dit die Voorbereidingsdag was, die dag voor die Sabbat, het Josef van Arimatea, 'n vooraanstaande lid van die Raad, wat ook uitgesien het na die •koninkryk van God, na •Pilatus gegaan. Hy het moed bymekaargeskraap en die liggaam van Jesus gevra. Pilatus was verbaas dat Hy al dood was, en het die centurio laat roep en hom gevra of Hy reeds 'n geruime tyd dood was. Toe hy dit by die centurio verneem het, het hy die lyk vir Josef gegee. Josef het toe 'n linnedoek gekoop, en Hom, nadat hy Hom van die kruis afgehaal het, in die linnedoek toegedraai en neergelê in 'n graf wat in 'n rots uitgekap was, en 'n klip teen die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar Hy neergelê is.
MARKUS 15:33-47 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die sesde uur aangebreek het, was daar duisternis oor die hele land tot die negende uur toe. En op die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloi, Eloi, lama sabagtani? dit is, as dit vertaal word: My God, my God, waarom het U My verlaat? En sommige van die wat daar staan, sê toe hulle dit hoor: Kyk, hy roep vir Elia. En een het gehardloop en 'n spons vol asyn gevul en dit op 'n riet gesit en hom laat drink en gesê: Laat staan! laat ons kyk of Elias sal kom om hom af te haal. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en die gees opgegee. En die voorhangsel van die tempel het van bo tot onder in twee geskeur. En toe die hoofman oor honderd wat teenoor hom gestaan het, sien dat hy so uitroep en die gees opgegee het, sê hy: Waarlik, hierdie man was die Seun van God. Daar was ook vroue wat van ver af gekyk het: onder wie was Maria Magdalena en Maria, die moeder van Jakobus die geringste en van Joses en Salome; (wat ook, toe Hy in Galiléa was, Hom gevolg en Hom gedien het) en baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem opgetrek het. En nou toe die aand aangebreek het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die dag voor die sabbat, Josef van Arimathéa, 'n eerbare raadgewer, wat ook op die koninkryk van God gewag het, het gekom en met vrymoedigheid na Pilatus ingegaan en na die liggaam van Jesus verlang. En Pilatus was verwonderd as hy al dood was; en hy het die hoofman oor honderd na Hom geroep en hom gevra of hy al 'n tyd lank dood was. En toe hy dit van die hoofman oor honderd weet, het hy die liggaam aan Josef gegee. En hy het fyn linne gekoop en hom afgehaal en hom in die linne toegedraai en hom in 'n graf neergelê wat in 'n rots gekap was, en 'n klip tot by die ingang van die graf gerol. En Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses, het gesien waar hy neergelê is.
MARKUS 15:33-47 Die Boodskap (DB)
Teen twaalfuur die middag het dit donker geword in daardie gebied. Dit het donker gebly tot so drie-uur die middag. Toe skree Jesus hard: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” oftewel: “My God, my God, waarom het U My alleen gelaat?” Van die omstanders het Jesus gehoor en gesê: “Luister, hy roep Elia.” Een van hulle bring toe vinnig ’n spons wat in wyn gedruk is. Hy sit die spons op ’n stok sodat Jesus kon drink en sê: “Los hom nou uit sodat ons kan sien wat gaan gebeur. Miskien kom haal Elia hom van die kruis af.” Al wat gebeur het, was dat Jesus hard geskree het en dood is. Net toe het die groot gordyn wat in die tempel gehang het van bo na onder in twee geskeur. ’n Bevelvoerder van die Romeinse soldate het reg voor die kruis gestaan. Hy het gehoor hoe Jesus skree en het gesien hoe Hy dood is. “Hierdie man was sowaar die Seun van God,” was al wat hy gesê het. ’n Entjie van die kruis af het ’n groepie vroue gestaan en kyk. Onder hulle was Maria Magdalena en Maria (sy was Joses en Klein-Jakobus se ma) asook Salome. Dit was die vroue wat in Galilea saam met Hom gegaan en vir Hom gesorg het. By hulle was daar ook heelwat ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het. Dit het begin laat word en omdat dit Vrydag was, was die Jode besig om reg te maak vir die sabbat wat met sononder sou begin. Josef van Arimatea was ’n lid van die Joodse Raad en het baie uitgesien na die tyd wanneer God kragtig as Koning in sy nuwe wêreld sou heers. Hy het die moed bymekaargeskraap en is na Pilatus toe om te vra of hy maar Jesus se liggaam kon gaan begrawe. Pilatus was verbaas om te hoor dat Jesus al dood was. Hy vra toe vir die bevelvoerder van die soldate of Jesus regtig al dood is. Dié sê toe ja. Pilatus sê toe vir Josef dat hy maar vir Jesus kon gaan begrawe. Josef het ’n groot stuk linne gekoop en nadat hy Jesus se liggaam van die kruis afgehaal het, het hy die liggaam in die linnedoek toegedraai. Hy het Jesus gaan begrawe in ’n graf wat uit rots gekap was en soos ’n kamertjie gelyk het. En hy het ’n groot ronde klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, Jesus se ma, het gesien waar hy Jesus begrawe het.
MARKUS 15:33-47 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Om twaalfuur het dit oor die hele land donker geword tot drie-uur daardie middag. Dit was toe dat Jesus baie hard uitgeskreeu het: “ Eloï, Eloï, lemá sabagtani? ” As ’n mens dit vertaal, beteken dit: “My God, my God, hoekom het U My verlaat?” Party van die omstanders het dit misverstaan en gedink Hy roep die profeet Elia. Toe hardloop iemand, maak ’n spons vol suur wyn, sit dit op ’n riet en gee dit vir Hom om te drink. Hy sê toe: “Wag, kom ons kyk of Elia hom kom afhaal!” Maar Jesus het hard uitgeroep en sy laaste asem uitgeblaas. Daarna het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder. Toe die Romeinse offisier oor honderd wat reg voor Hom gestaan het, Jesus só sien sterf, was sy woorde: “Waarlikwaar, hierdie man was die Seun van God!” Daar was ook vroue wat alles op ’n afstand dopgehou het, onder andere Maria Magdalena, Maria – die ma van Jakobus junior en Joses – en Salome. Hulle was volgelinge van Jesus en het vir Hom gesorg toe Hy in Galilea was. Baie ander vroue wat saam met Jesus Jerusalem toe gekom het, was ook daar. Dit alles het gebeur op die Vrydag, die dag van die voorbereiding vir die Sabbat. Omdat dit reeds amper aand was, het Josef van Arimatea, ’n geëerde raadslid, ’n man wat self verlang het na die begin van God se koningsheerskappy, moed bymekaargeskraap om na Pilatus toe te gaan en te vra of hy Jesus se liggaam kon kry. Pilatus kon nie glo dat Jesus al dood was nie. Hy laat toe die offisier roep en vra hom of Jesus al lankal gesterf het. Toe die offisier dit bevestig, het Pilatus Jesus se liggaam goedgunstiglik vir Josef gegee. Josef het ’n lang strook linne gekoop, Jesus van die kruis gaan afhaal, Hom in die linne toegedraai en in ’n graf neergelê wat in die rots uitgekap was. Toe het hy ’n klip voor die ingang van die graf gerol. Maria Magdalena en Maria, die ma van Joses, het gestaan en toekyk waar Jesus neergelê word.