MARKUS 4:39-41 - Compare All Versions
MARKUS 4:39-41 ABA (Bybel vir almal)
Jesus het opgestaan en Hy het kwaai met die wind gepraat. Hy het vir die see gesê: “Bly stil! Word kalm!” Die wind het opgehou waai en die see het stil en kalm geword. Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle bang? Glo julle nou nog nie in My nie?” Die dissipels het baie bang geword. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie is hierdie Man? Ook die wind en die see luister na Hom.”
MARKUS 4:39-41 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!
MARKUS 4:39-41 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!” Die wind het gaan lê en daar het 'n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”
MARKUS 4:39-41 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Wees stil, bedaar!” Die wind het gaan lê, en daar het 'n groot kalmte gekom. Hy vra hulle toe: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?” Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”
MARKUS 4:39-41 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Vrede, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle so bang? hoe is dit dat julle geen geloof het nie? En hulle het uitermate bang geword en vir mekaar gesê: Watter soort mens is Hy dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?
MARKUS 4:39-41 DB (Die Boodskap)
Jesus staan toe op en praat streng met die wind en die golwe: “Stil! Word rustig.” Dadelik het die wind gaan lê en alles was heeltemal kalm. Toe draai Hy na sy dissipels toe: “Vir wat was julle so bang? Vertrou julle My dan nie?” Hulle was heeltemal verslae en het klein gevoel in sy teenwoordigheid. “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see doen wat Hy sê,” het hulle onder mekaar gewonder.
MARKUS 4:39-41 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom. Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?” Hulle was heeltemal oorweldig en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy werklik? Selfs die wind en die see luister na Hom!”