MARKUS 5:1-20
MARKUS 5:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het hulle oorkant die see in die land van die Geraseners aangekom. Net toe Jesus uit die skuit klim, het daar van die grafte af 'n man met 'n onrein gees Hom tegemoet gekom. Die man het tussen die grafte gebly. Niemand kon hom selfs met 'n ketting vasbind nie, want hulle het hom al dikwels met voet- en handboeie vasgemaak, maar dan ruk hy die handboeie uitmekaar en skop die voetboeie stukkend. Niemand kon hom baasraak nie. Hy was dag en nag aan die skreeu tussen die grafte en in die berge, en dan kap hy homself met klippe. Hy het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval en hard geskreeu: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” want Jesus het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Hy het hom toe gevra: “Wat is jou naam?” “My naam is Legio,” antwoord hy Hom, “want ons is baie.” Die man het Hom toe ernstig gesoebat om hulle nie uit die landstreek uit weg te stuur nie. Daar naby teen die berg het 'n groot trop varke geloop. Die onrein geeste het Hom toe gesmeek: “Stuur ons na die varke toe, sodat ons in hulle kan invaar!” Hy het hulle dit toegelaat, en hulle het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die hele trop van omtrent twee duisend het op loop gesit teen die hang af, die see in, en hulle het versuip. Hulle wagters het weggehardloop en dit in die dorp en op die plase gaan vertel. Die mense het kom kyk wat daar gebeur het. Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie bose geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand, het hulle groot geskrik. Dié wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene gebeur het, en ook van die varke. Hulle het toe by Jesus daarop aangedring om uit hulle gebied uit weg te gaan. Toe Jesus in die skuit klim, het die man wat van die duiwel besete was, by Hom daarop aangedring om saam met Hom te gaan. Jesus het hom dit egter nie toegelaat nie maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” Hy het toe gegaan en deur die hele Dekapolis begin bekend maak wat Jesus alles vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.
MARKUS 5:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het toe oorkant die see in die gebied van die Geraseners aangekom. Net toe Jesus uit die skuit klim, het ’n man met ’n onrein gees Hom van die begraafplaas af tegemoetgehardloop. Hy het tussen die grafte gebly. Hy kon op geen manier beheer word nie – selfs nie met ’n ketting nie. Hy is dikwels met voet- en handboeie vasgemaak; dan het hy die handboeie oopgeforseer en die voetboeie uitmekaargeruk. Gevolglik kon net mooi niemand hom beheer nie. Die hele tyd, dag en nag, was hy tussen die grafte en op die hoogtes aan die skree terwyl hy homself met klippe stukkend kap. Hy het Jesus van ver af raakgesien. Toe hardloop hy nader en val voor Hom neer. Hy het met ’n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, Seun van God die Allerhoogste! In die Naam van God, moenie my seermaak nie!” (Die rede hiervoor was dat Jesus alreeds vir hom gesê het: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”) Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?” “My naam is Legio,” antwoord hy, “want ons is baie.” Daarna het die onrein geeste Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie. Teen die heuwel was daar ’n groot trop varke aan die wei. Die onrein geeste smeek Hom toe: “Stuur ons in die varke in. Laat ons in hulle invaar.” Jesus het hulle dit toegelaat. Die onrein geeste het uit die man gegaan en in die varke in. Die trop van omtrent 2 000 hardloop toe teen die skuinste af die see in, waar hulle versuip het. Hulle wagters het weggehardloop en die nuus in die dorp en op die plase gaan vertel. Daarop het die mense gekom om self te sien wat gebeur het. Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik. Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het. Hulle het vir Jesus gesoebat om uit hulle omgewing weg te gaan. Toe Jesus weer terug was in die skuit, het die man wat voorheen besete was, Hom gesmeek om saam met Hom te mag gaan. Jesus het egter vir hom gesê: “Nee, gaan huis toe na jou mense toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het, en hoe goed Hy vir jou was.” Hy het wyd en syd in die Tien Stede-gebied gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. En almal was verwonderd oor wat hy aan hulle vertel het.
MARKUS 5:1-20 Bybel vir almal (ABA)
Jesus en sy dissipels het by die ander kant van die see in die land van die Geraseners aangekom. Toe Jesus uit die boot klim, het 'n man van die grafte af gekom en reguit na Jesus toe gegaan. Daar was 'n onrein gees in die man, die man het gedoen wat die onrein gees vir hom sê. Hierdie man het tussen die grafte gewoon. Niemand kon hom vasbind nie, ook nie met 'n ketting nie. Die mense het baie maal sy hande en sy voete vasgebind, maar hy het die kettings en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom vashou nie. Hy het altyd tussen die grafte en in die berge geloop, elke dag en nag. Hy het geskree en hy het homself stukkend gekap met klippe. Toe Jesus nog ver van hom was, het hy Jesus gesien. Hy het na Jesus toe gehardloop en hy het voor Hom gekniel. Jesus het gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Die man het hard geskree: “Wat wil U van my hê, Jesus, Seun van die Hoogste God? Ek vra vir U: Moenie vir my seermaak nie. Belowe dit voor God.” Jesus vra toe vir hom: “Wat is jou naam?” en hy antwoord: “My naam is Legioen, want ons is baie onrein geeste.” Hy het aangehou om vir Jesus baie ernstig te vra om die onrein geeste nie weg te stuur uit die land nie. 'n Groot klomp varke het teen die berg gewei. Die onrein geeste het vir Jesus gesoebat en gesê: “Stuur ons asseblief na die varke toe sodat ons in hulle kan ingaan.” Jesus het gesê hulle mag gaan. Die onrein geeste het uit die man uitgegaan en hulle het in die varke ingegaan. Daar was omtrent 2 000 varke. Die varke het teen die berg afgehardloop tot binne-in die see. Daar het almal verdrink. Die wagters wat die varke opgepas het, het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel vir die mense in die stad en op die plase. Die mense het gekom om te kyk wat gebeur het. Toe kom hulle by Jesus en hulle sien vir Legioen, die man wat die klomp duiwels in hom gehad het. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het toe baie bang geword. Die ander mense wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat gebeur het met die man wat die duiwels in hom gehad het en wat gebeur het met die varke. Toe het almal vir Jesus gesoebat om weg te gaan van hulle plek. Jesus het in die boot geklim. Die man wat die duiwels in hom gehad het, het aangehou soebat om saam met Jesus te gaan. Maar Jesus wou hom nie laat saamkom nie. Hy het vir die man gesê: “Gaan na jou huis en na jou familie toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het. Vertel vir hulle dat die Here goed was vir jou toe dit sleg gegaan het met jou.” Die man het toe weggegaan en hy het in Dekapolis gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.
MARKUS 5:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hulle het aan die oorkant van die see gekom in die land van die Gadaréners. En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet 'n man met 'n onreine gees, wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie; want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie. En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan. En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer en skreeu met 'n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie. Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit! En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie. Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie. En dáár teen die berge het 'n groot trop varke gewei, en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar. En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop — daar was omtrent tweeduisend — het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink. En die wagters van die varke het gevlug en dit in die stad en in die buitewyke vertel; en hulle het uitgekom om te sien wat daar gebeur het. Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand — die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees. Die wat dit gesien het, vertel toe aan hulle hoe dit met die besetene gegaan het, en ook van die varke. En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied. En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was. En hy het weggegaan en in Dekápolis begin verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het, en almal was verwonderd.
MARKUS 5:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle het aan die oorkant van die see aangekom, in die gebied van die Geraseners. Net toe Hy uit die boot klim, het 'n man met 'n •onrein gees Hom skielik uit die rotsgrafte tegemoet gegaan. Hierdie man se blyplek was tussen die rotsgrafte. Niemand kon hom meer vasbind nie, selfs nie met 'n ketting nie. Hy was trouens al dikwels met voetboeie en kettings vasgebind, maar hy het die kettings losgeruk en die voetboeie stukkend gebreek. Niemand kon hom beheer nie. Heeltyd, bedags en snags, het hy tussen die rotsgrafte en op die berge homself al skreeuende met klippe geslaan. Toe hy Jesus van ver af sien, het hy gehardloop en voor Hom neergeval. Hy skreeu toe met 'n harde stem: “Los my uit, Jesus, •Seun van die Allerhoogste God! Ek besweer U by God, moet my nie pynig nie!” Want Hy het vir hom gesê: “Onrein gees, gaan uit die man uit!” Hy vra hom toe: “Wat is jou naam?” Hy antwoord Hom: “My naam is Legioen, want ons is baie!” Hy het Jesus ernstig gesmeek om hulle nie uit die gebied uit weg te stuur nie. Daar het 'n groot trop varke teen die berghang gewei. Hulle het Hom gesmeek en gesê: “Stuur ons na die varke, dat ons in hulle kan invaar.” Hy het hulle toegelaat. En die onrein geeste het uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop van ongeveer tweeduisend het toe op loop gesit teen die helling af, die see in, en in die see versuip. Hulle wagters het op die vlug geslaan en dit in die dorp en op die platteland gaan vertel. En die mense het gaan kyk wat gebeur het. Hulle kom toe by Jesus en sien die besetene daar sit, die een wat die legioen in hom gehad het, met klere aan en by sy volle verstand; en hulle het bang geword. Diegene wat dit gesien het, het vir hulle vertel wat met die besetene en ook met die varke gebeur het. Hulle het Hom toe begin smeek om uit hulle gebied weg te gaan. Toe Hy in die boot klim, het die een wat deur demone besete was, Hom gesmeek om by Hom te kon bly. Hy het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: “Gaan na jou huis, na jou mense, en vertel hulle alles wat die Here vir jou gedoen het en dat Hy medelye aan jou betoon het.” Die man het weggegaan en begin om alles wat Jesus vir hom gedoen het, in Dekapolis bekend te maak, en almal was verbaas daaroor.
MARKUS 5:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het oorgekom na die oorkant van die see, in die land van die Gadareners. En toe hy uit die skuit klim, kom daar hom dadelik uit die grafte tegemoet 'n man met 'n onrein gees, wat sy woning tussen die grafte gehad het; en niemand kon hom bind nie, ook nie met kettings nie. Omdat hy dikwels met kettings, en die kettings deur hom uitmekaar geruk en die kettings in stukke gebreek is; en niemand kon hom tem nie. En altyd, nag en dag, was hy in die berge en in die grafte, terwyl hy huil en homself met klippe kap. Maar toe hy Jesus van ver af sien, het hy gehardloop en Hom aanbid. En hy het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die Allerhoogste God? Ek besweer jou by God, dat jy my nie pynig nie. Want Hy sê vir hom: Gaan uit die man uit, onreine gees! En hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: My naam is Legioen, want ons is baie. En hy het hom baie gesmeek om hulle nie uit die land uit te stuur nie. En daar was naby die berge 'n groot trop varke wat gewei het. En al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons na die varke, dat ons in hulle kan ingaan. En Jesus het hulle dadelik verlof gegee. En die onreine geeste het uitgegaan en in die varke ingegaan, en die beeste het met geweld van 'n steilte af die see in gehardloop (dit was omtrent twee duisend) en is in die see verstik. En die wat die varke gevoed het, het gevlug en dit in die stad en in die land vertel. En hulle het uitgegaan om te kyk wat dit was wat gedoen is. En hulle kom na Jesus en sien Hom wat van die duiwel besete was en die legioen gehad het, sit en geklee en by sy volle verstand; en hulle was bang. En die wat dit gesien het, het hulle vertel hoe dit met hom gebeur het wat van die duiwel besete was, en ook oor die varke. En hulle het Hom begin bid om uit hulle grondgebied te vertrek. En toe Hy in die skuit geklim het, het hy wat van die duiwel besete was, Hom gebid dat hy by hom mag wees. Maar Jesus het hom nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan huis toe na jou vriende en vertel hulle hoe groot dinge die Here aan jou gedoen het en Hom oor jou ontferm het. En hy het weggegaan en in Dekapolis begin verkondig hoe groot dinge Jesus vir hom gedoen het, en almal was verwonderd.
MARKUS 5:1-20 Die Boodskap (DB)
So het hulle by die oorkant van die see aangekom. Die Geraseners het in daardie gebied gebly. Jesus het skaars uit die skuit geklim of ’n man met ’n demoon peil reg op Hom af. Hy het uit die begraafplaas aangestorm gekom, want dit is waar hy gebly het. Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eens meer met kettings vasbind nie. Hulle het probeer om sy hande en voete met kettings te boei, maar dit het niks gehelp nie. Hy het dit uitmekaargeruk. Die bloedstollende gille van die man het dag en nag oor die grafte en tussen die heuwels weerklink terwyl hy homself met skerp klippe stukkend kap. Hy het Jesus van ver af sien aankom en dadelik na Hom toe gehardloop. Hy het op sy knieë voor Jesus neergesak. So hard as wat hy kon, het hy geskree: “Seun van die grote God, wat kom soek U hier? Ek smeek U, moet my nie pynig nie.” Jesus sê toe vir die bose gees: “Gee pad uit hierdie man uit, jou slegte gees. Maar sê eers vir My jou naam.” “My naam is Legio, want ons is baie,” kom die antwoord. Die slegte gees het Jesus gesmeek en gesoebat om hulle nie uit daardie area te verwilder nie. ’n Entjie daarvandaan teen die skuinste was daar ’n trop varke. Die demone smeek Jesus toe: “Asseblief, ons vra mooi, as U ons uit die man jaag, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.” Skaars het Jesus hulle toegelaat of hulle is uit die man in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, teen die skuinste af, die see in. Daar was omtrent 2 000 en die laaste een van hulle het versuip. Die varkoppassers is toe in ’n stofstreep daar weg om vir almal in die dorp en omgewing te gaan vertel wat gebeur het. Van oral af het die mense gestroom om te kom kyk. Daar aangekom, sien hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle bang en onseker gemaak. Die mense wat dit alles gesien het, het natuurlik vir almal in besonderhede vertel wat met die woeste man met die demoon en die varke gebeur het. Die mense uit daardie gebied was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee. Toe Jesus in die skuit klim, vra die man wat die demoon gehad het Hom baie mooi of hy nie saam met Hom kon gaan nie. Jesus wou nie. “Gaan huis toe waar jou mense vir jou wag. Gaan vertel vir hulle hoe goed die Here vir jou was en wat Hy alles vir jou gedoen het.” Die man het nie gestry nie. Hy is daar weg en het vir die mense in daardie streek (wat die mense Tien Stede genoem het) gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Die mense se monde het oopgehang van verbasing oor sy verhaal.