MARKUS 6:17-20
MARKUS 6:17-20 Bybel vir almal (ABA)
Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang. Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie, want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is 'n goeie en 'n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister.
MARKUS 6:17-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie. En Heródias het 'n oog op hom gehad en wou hom om die lewe bring en sy kon nie. Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy wis dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom beskerm; en nadat hy hom gehoor het, het hy baie dinge gedoen en graag na hom geluister.
MARKUS 6:17-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.” Herodias het daarna 'n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy 'n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in 'n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.
MARKUS 6:17-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Herodes self het immers vroeër mense gestuur en Johannes gevange laat neem, en hom in die tronk laat boei – en dit vanweë Herodias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het. Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is nie vir u toelaatbaar om die vrou van u broer te vat nie.” Herodias het toe 'n wrok teen hom gekoester, en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie; want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy besef het dat hy 'n •regverdige en heilige man is, en hom wou beskerm. Wanneer Herodes hom gehoor het, het hy telkens in groot vertwyfeling verkeer – tog het hy graag na hom geluister.
MARKUS 6:17-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want Herodes het self uitgestuur en Johannes gegryp en hom in die gevangenis geboei ter wille van Herodias, sy broer Filippus se vrou, want hy het met haar getrou. Want Johannes het vir Herodes gesê: Dit is jou nie geoorloof om jou broer se vrou te hê nie. Daarom het Herodias 'n twis teen hom gehad en sou hom doodgemaak het; maar sy kon nie: Want Herodes was bang vir Johannes, omdat hy geweet het dat hy 'n regverdige en heilige man was, en hy het hom bewaar; en toe hy hom hoor, het hy baie dinge gedoen en hom met graagte gehoor.
MARKUS 6:17-20 Die Boodskap (DB)
Laat ek eers die verhaal vertel hoe Herodes Johannes se kop laat afkap het. Die einste Herodes het soldate gestuur om Johannes te vang en in die tronk te stop. Herodias het hom omgepraat om dit te doen. Sy was eers sy broer Filippus se vrou, maar Herodes het toe met haar getrou. Johannes het dit nie daar gelos nie en reguit vir Herodes gesê: “God hou nie daarvan dat jy jou broer se vrou gevat het nie.” Daaroor was Herodias natuurlik woedend en het begin planne maak om Johannes dood te maak. Maar sy kon dit nie regkry nie, want Herodes was lugtig vir Johannes. Hy het geweet dat Johannes ’n eerlike man was wat die Here gedien het. Daarom het hy ’n ogie oor Johannes gehou. Hy het graag geluister na wat Johannes alles sê, hoewel dit hom soms ongemaklik laat voel het.
MARKUS 6:17-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Herodes het voorheen, as ’n guns vir Herodias, soldate gestuur en Johannes laat arresteer en in die tronk opgesluit. Sy was na regte die vrou van sy broer Filippus, maar Herodes het haar as sy vrou gevat. Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: “Dit is onwettig van u om u broer se vrou te vat.” Om hierdie rede het Herodias ’n wrok teen Johannes gekoester. Sy wou hom uit die weg ruim, maar sonder Herodes se toestemming was sy magteloos. Herodes het baie ontsag vir Johannes gehad, want hy het besef dat hy ’n goeie en ’n heilige man is. Hy het hom beskerm en graag na hom geluister, al het Johannes se woorde hom dikwels ongemaklik laat voel.