MARKUS 8:34-38
MARKUS 8:34-38 Afrikaans 1983 (AFR83)
Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor? Wat sal 'n mens kan gee in ruil vir sy lewe? Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as sy Vader.”
MARKUS 8:34-38 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het toe al die mense wat daar was, saam met die dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My en vir die goeie boodskap, dan sal hy sy lewe red. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe? Die mense wat nou lewe, doen baie sonde. Hulle doen nie wat God wil hê nie. As iemand doen soos hulle en hy wil My nie ken nie en hy wil nie glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom ook nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is.”
MARKUS 8:34-38 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Hy die skare saam met sy dissipels na Hom geroep het, sê Hy vir hulle: Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil en om die evangelie ontwil verloor, hy sal dit red. Want wat sal dit 'n mens baat as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee as losprys vir sy siel? Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.
MARKUS 8:34-38 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit 'n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou 'n mens gee as losprys vir sy lewe? Want wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele.”
MARKUS 8:34-38 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Hy die volk saam met sy dissipels na Hom toe geroep het, sê Hy vir hulle: Elkeen wat agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe verloor ter wille van My en die evangelie, hy sal dit red. Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win en sy eie siel skade ly? Of wat sal 'n mens gee in ruil vir sy siel? Elkeen dan wat hom vir my en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag; ook vir hom sal die Seun van die mens hom skaam as Hy kom in die heerlikheid van sy Vader saam met die heilige engele.
MARKUS 8:34-38 Die Boodskap (DB)
Jesus roep die ander mense ook na Hom en sy volgelinge toe en begin met hulle praat: “As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie. Om My te volg is nie altyd maklik nie. “Dit is soos om jou eie kruis na jou dood toe te moet dra as Ek dit van jou vra. Dit is soos om jou eie doodsvonnis te teken. As jy net vir jouself wil lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig verloor. As jy egter bereid is om alles wat Ek vra vir My te gee, al is dit ook jou lewe, sal jy uiteindelik jou lewe vir ewig behou. Jy moet die keuse doen. Maar vra eers vir jouself die volgende vraag: Wat help dit as al die skatte in die wêreld joune is, maar daar is nie vir jou plek by God nie? ’n Mens kan nie vir jou ’n plek by God koop met al die geld in die wêreld nie. As iemand hom vir My of my boodskap skaam voor hierdie klomp goddelose, slegte mense in die wêreld, sal Ek My vir daardie persoon skaam wanneer Ek by my wonderlike groot Vader met al sy engele is.
MARKUS 8:34-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe roep Jesus sy dissipels en die skare na Hom toe en sê vir hulle: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, julle kruis opneem en agter My aan kom. As julle probeer om julle lewe selfsugtig vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My en ter wille van die Goeie Nuus prysgee, sal julle dit juis red. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar jou diepste menswees ly skade? Jy sal met niks ter wêreld daarvoor kan vergoed nie. As jy jou vir My en vir my boodskap skaam te midde van vandag se ontroue en sondige mense, sal Ek, die Seun van die Mens, My ook vir jou skaam wanneer Ek terugkeer met die heilige engele, beklee met die heerlikheid van my Vader.”