MARKUS 9:14-24
MARKUS 9:14-24 Bybel vir almal (ABA)
Daarna het Jesus en die drie dissipels teruggegaan na die ander dissipels toe. Hulle het gesien daar is 'n groot klomp mense rondom die ander dissipels. Die skrifgeleerdes was besig om met die dissipels te stry. Toe die mense vir Jesus sien, was hulle baie verbaas. Hulle het na Hom toe gehardloop en hulle het Hom gegroet. Jesus het vir die skrifgeleerdes gevra: “Hoekom stry julle met my dissipels?” Een van die mense het vir Jesus geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring, want daar is 'n onrein gees in hom wat hom stom maak. Wanneer die onrein gees in die seun kom, dan gooi hy die seun op die grond. Dan kry die seun skuim om sy mond, hy byt op sy tande en sy liggaam word heeltemal styf. Ek het vir u dissipels gevra om die onrein gees uit te jaag, maar hulle kon nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle glo nie! Hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek nog geduldig wees met julle? Bring die seun na My toe.” Hulle het die seun na Jesus toe gebring. Toe die onrein gees vir Jesus sien, het hy dadelik die seun op die grond laat val. Die seun het geruk en geskop en daar was skuim om sy mond. Jesus het vir die seun se pa gevra: “Van wanneer kom die onrein gees in jou seun?” Die pa het gesê: “Vandat hy klein was. Baie maal het die onrein gees hom in vuur en in die water laat val om hom dood te maak. As U kan, dan moet U asseblief jammer wees vir ons en ons help!” Jesus het vir hom gevra: “Hoekom sê jy ‘As U kan?’ Iemand wat glo, kan enige iets doen.” Die seun se pa het dadelik hard gesê: “Ek volg U nog nie, maar ek glo, help my asseblief.”
MARKUS 9:14-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Hy by die dissipels kom, sien Hy 'n groot menigte om hulle, en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis. En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet. Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle? En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat 'n stomme gees het, na U gebring; en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie. Toe antwoord Hy hom en sê: O Ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe. En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond. Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het? En hy sê: Van sy kindsdae af; en dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons. En Jesus sê vir hom: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!
MARKUS 9:14-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle 'n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?” Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van 'n gees besete is wat hom stom maak. En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.” Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?” “Van kleins af,” antwoord hy, “en baie keer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.” “ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.” “Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”
MARKUS 9:14-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe hulle by die dissipels kom, sien hulle 'n groot skare rondom hulle, en skrifkenners wat met hulle redeneer. Die hele skare was dadelik verras toe hulle Jesus sien, en het nader gehardloop en Hom gegroet. Hy het hulle gevra: “Waaroor redeneer julle met hulle?” Een uit die skare het Hom geantwoord: “Meester, ek het my seun na U gebring; hy het 'n gees in hom wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom neer. Die seun kry dan skuim om sy mond, kners op sy tande en kry stuiptrekkings. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon nie.” Toe antwoord Hy hulle: “O, ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle bly? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom na My toe!” Hulle het die seun na Hom gebring. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun dadelik stuiptrekkings kry. Hy het op die grond geval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus het die vader gevra: “Hoe lank gebeur dit al met hom?” Hy het geantwoord: “Van kleins af. Baie keer het die gees hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” Jesus vra hom toe: “ ‘As U kan?’ Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo. ” Onmiddellik roep die vader van die kind uit: “Ek glo! Kom my ongeloof te hulp! ”
MARKUS 9:14-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Hy by sy dissipels kom, sien Hy 'n groot menigte rondom hulle, en die skrifgeleerdes wat met hulle ondervra. En dadelik was die hele volk, toe hulle hom aanskou, grootliks verbaas, en na hom toe gehardloop en hom gegroet. En Hy vra die skrifgeleerdes: Wat vra julle met hulle? En een uit die skare het geantwoord en gesê: Meester, ek het my seun, wat 'n stomme gees het, na U gebring; En waar hy hom ook al neem, skeur hy hom; en hy skuim en kners met sy tande en kerm weg. En hulle kon nie. Hy antwoord hom en sê: O ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees? hoe lank sal ek jou verdra? bring hom na my toe. En hulle het hom na hom gebring, en toe hy hom sien, het die gees hom dadelik geteister; en hy val op die grond en wentel skuimend. En hy vra sy vader: Hoe lank is dit sedert dit oor hom gekom het? En hy sê: Van 'n kind. En dikwels het dit hom in die vuur en in die water gegooi om hom te verdelg; maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons. Jesus sê vir hom: As jy kan glo, alle dinge is moontlik vir hom wat glo. En dadelik het die vader van die kind uitgeroep en met trane gesê: Here, ek glo; help my ongeloof.
MARKUS 9:14-24 Die Boodskap (DB)
Toe Jesus-hulle van die berg af by sy ander volgelinge aankom, sien hulle dat daar ’n hele gedoente aan die gang is, want ’n klomp mense het daar saamgedrom. Die Joodse geleerdes wat die Skrif moes uitlê, was met die volgelinge van Jesus aan die argumenteer. Die mense was verras toe hulle skielik vir Jesus daar sien aankom en hardloop na Hom toe. “Waaroor stry julle so met hulle?” vra Jesus. “Meneer,” sê een van die mense toe, “ek het my seun hiernatoe gebring. ’n Bose gees het hom beetgepak sodat hy nie ’n woord kan uitkry nie. As die bose gees hom pak, slaan hy op die grond neer. Skuim borrel dan by sy mond uit, hy byt vreeslik op sy tande en hy word stokstyf. Ek vra toe u volgelinge om die gees uit my seun te verjaag, maar hulle kon nie.” Jesus sê toe: “Julle glo darem baie swaar. Hoe lank moet Ek nog hier by julle bly voordat julle sal glo? Hoeveel geduld moet Ek nog met julle hê? Bring die seun hier.” Hulle bring toe die seun. Toe die gees Jesus sien, laat hy die seun op die grond neerslaan en stuiptrekkings kry. Voor almal het die seun op die grond gelê en rol terwyl skuim by sy mond uitborrel. “Hoe lank gebeur dit al met hom?” vra Jesus sy pa. “Vandat hy klein is, kry hy sulke snaakse aanvalle,” kom die antwoord. “Dan gooi die gees hom in die vuur of in die water om hom te probeer seermaak. As U ons enigsins kan help, smeek ek U, sien ons verdriet raak en help ons, asseblief!” Jesus reageer toe: “Sê jy: ‘As Ek kan’? Wel, as ’n mens vertrou, is enigiets moontlik.” Die seun se pa roep toe uit: “Ek vertrou, en as ek hier en daar nie vertrou soos ek moet nie, help my asseblief daarmee ook.”
MARKUS 9:14-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe hulle weer by die ander dissipels terugkom, sien hulle ’n groot klomp mense om hulle en skrifkenners wat met hulle argumenteer. Net toe al die baie mense Jesus sien, het hulle Hom verras tegemoet gehardloop en begroet. Hy vra die skrifkenners toe: “Waaroor stry julle met my dissipels?” Iemand uit die skare het Hom geantwoord: “Leermeester, ek het my kind na U toe gebring omdat hy ’n bose gees het wat hom stom maak. Elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom teen die grond; hy kry skuim om sy mond en hy kners op sy tande; en hy word stokstyf. Ek het vir u dissipels gevra om die gees uit te dryf, maar hulle kon dit nie regkry nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle ongelowige mense! Hoe lank moet Ek nog by julle wees voordat julle glo? Hoe lank moet Ek dit nog uithou met julle? Bring die kind hier.” Hulle bring hom toe vir Jesus. Toe die gees Jesus sien, het hy die seun dadelik stuiptrekkings laat kry, en hy het op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond. Jesus vra toe vir die pa: “Hoe lank gebeur dit nou al met hom?” “Van kleins af,” was sy antwoord. “Die gees het hom al baie keer probeer doodmaak deur hom in die vuur of in die water te laat val. Kry ons tog jammer en help ons as U kan!” “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!” “Ek glo!” roep die kind se pa dadelik uit. “Help my tog om nie meer te twyfel nie!”