NEHEMIA 1:1-11
NEHEMIA 1:1-11 Die Boodskap (DB)
Hier volg die verhaal oor alles wat Nehemia seun van Gakalja gedoen het. In die laatherfs van die twintigste regeringsjaar van koning Artasasta van Persië was ek, Nehemia, in die hoofstad Susan. Ganani, ’n amptenaar in die koning se diens, en ’n klompie ander mense uit Juda het daar by my aangekom. Ek wou by hulle weet hoe dit met die ander Jode gaan wat die ballingskap vrygespring het en ander wat die ballingskap oorleef het, en ook hoe dit in Jerusalem lyk. Hulle sê toe vir my: “Dit gaan glad nie goed met die mense daar in die provinsie Juda nie. Hulle kry baie swaar. Almal spot met hulle. Die muur wat rondom Jerusalem gebou is, lê ook nog steeds in puin en die stad se hekke is nog nie reggemaak nadat dit afgebrand is nie.” Toe ek hierdie slegte nuus hoor, het ek gaan sit en huil. Ek was so hartseer dat ek dae lank niks geëet het nie. Ek het tot die God van die hemel gebid. Ek het vir Hom gesê: “O Here, God van die hemel, U is groot. Almal sidder en bewe voor U. U is die God wat u ooreenkoms nakom teenoor almal wat U liefhet en doen wat U sê. U bly altyd lojaal teenoor almal wat U dien. “Sien my asseblief raak, Here. Ek is u dienaar. Luister na die gebed wat ek dag en nag tot U bid sonder om moeg te word. Ek bid vir u dienaars, die Israeliete. Ek bely dat ons almal teen U gesondig het. Ook ek en my familie het verkeerd gedoen. Ons het nie genoeg respek aan U bewys nie. Ons het nie geluister na die wette en die voorskrifte wat U aan u kneg Moses gegee het nie. “Dink asseblief aan wat U vir Moses gesê het: ‘As julle die rug vir My draai, sal Ek julle onder vreemde volke verstrooi. Maar as julle terugkeer na My toe en doen wat Ek van julle vra, sal Ek julle weer bymekaarmaak, ook al is julle oor die hele aarde verstrooi. Ek sal julle terugbring na dié plek toe waar Ek gekies het om aanbid te word.’ “Die Israeliete is tog u dienaars, u eie volk, wat U met u groot mag en krag verlos het. Here, hoor tog my gebed! Hoor ook die gebede van al die mense vir wie dit ’n vreugde is om U te dien en te eer. Help my met wat ek vandag wil doen; laat die koning my goedgesind wees as ek na hom toe gaan met dit wat ek hom wil vra.” In daardie stadium was dit my werk om die koning se wyn in te gooi.
NEHEMIA 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier is die gedenkskrif van Nehemia, die seun van Gakalja. In die twintigste jaar van Artasasta se koningskap, in November, was ek by sy vestingstad Susan. Ganani, een van my broers, het my saam met ander persone uit Juda kom besoek. Ek het hulle uitgevra oor die Jode wat die ballingskap oorleef het en oor die omstandighede in Jerusalem. Hulle antwoord was: “Dit gaan nie goed met die mense wat uit die ballingskap teruggekeer het en daar oorgebly het nie. In die provinsie Juda is daar groot ellende en bespotting. Jerusalem se muur lê om en die stadspoorte is deur vuur vernietig.” Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Vir dae aaneen het ek getreur, gevas en tot die God van die hemel gebid. Ek het gesê: “HERE, God van die hemel, U is die groot en vreesaanjaende God. U hou by u verbondsbelofte. U is getrou in u liefde teenoor dié wat u gebooie liefhet en gehoorsaam. Hoor my gebed! “Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen! Ons het verkeerd opgetree deur nie die opdragte, voorskrifte en bepalings wat U vir u kneg Moses beveel het, te gehoorsaam nie. “Hou tog in gedagte wat U vir u kneg Moses gesê het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi. As julle egter na My toe terugkeer en my bevele gehoorsaam, sal Ek julle terugbring na die plek waar Ek verkies dat julle My moet aanbid, al is julle oor die uithoeke van die aarde versprei.’ “Hulle is u diensknegte, u volk wat U deur u groot mag en oorweldigende krag verlos het. HERE, hoor asseblief my gebed! Luister na ons gebede, ons wat U graag wil eer. Laat my tog vandag suksesvol wees wanneer ek die koning ’n groot guns vra. Laat hy my goedgesind wees.” In dié stadium was ek die koning se wynkelner.
NEHEMIA 1:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Hierdie is die dinge wat Nehemia gesê en gedoen het. Nehemia was 'n seun van Gakalja. Dit was in die maand Kislef in die twintigste jaar. Ek was in die stad Susan, 'n stad wat sterk mure het. Een van my broers, Ganani, het daar aangekom, hy en ander manne uit die land Juda. Ek het vir hulle gevra hoe dit gaan met die Judeërs wat nog lewe en wat voorheen gevangenes in Babel was maar wat teruggegaan het na Jerusalem. Ek het ook vir hulle gevra hoe die stad Jerusalem nou lyk. Hulle het vir my gesê: “Dit gaan baie sleg met die mense wat nog lewe en wat teruggegaan het uit Babel waar hulle gevangenes was. Vyande het die muur van Jerusalem afgebreek en sy poorte verbrand.” Toe ek dit hoor, het ek gaan sit en huil. Ek het 'n paar dae lank gehuil en getreur, ek het niks geëet nie en ek het gebid tot die God van die hemel. Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, U is die Groot God, almal is bang vir U. U doen wat u verbond sê en U doen wat U belowe het vir almal wat lief is vir U en wat doen wat U wil hê. Luister asseblief wat ek bid en kyk na my, u dienaar. Ek bid nou elke dag en elke nag vir u dienaars, die mense van Israel. Ek bely dat die Israeliete sonde gedoen het teen U. Ek en my familie het ook sonde gedoen. Ons het baie verkeerde dinge gedoen teen U. Ons het nie gedoen wat U wil hê nie, ons het nie gedoen wat U vir u dienaar Moses gesê het nie. U moet onthou dat U vir u dienaar Moses gesê het: ‘As julle ontrou is, dan sal Ek julle na al die kante toe jaag tussen die ander volke, maar as julle terugkom na My toe en as julle doen wat Ek wil hê en wat Ek vir julle gesê het, dan sal Ek julle mense weer bymekaarmaak, die mense wat Ek na al die kante toe gejaag het. Ek sal dit doen ook as hulle in baie ver lande is, en Ek sal hulle bring na die plek wat Ek gekies het om self daar te woon.’ Here, hulle is u dienaars, u volk, U het hulle vrygemaak met u groot krag. Ag, Here, luister asseblief wat ek bid, ek is u dienaar. Luister asseblief ook wat u dienaars bid, hulle wil graag vir U respekteer en dien. Laat dit wat ek vandag wil doen, slaag. Laat die koning doen wat ek vir hom vra.” Ek was die koning se skinker.
NEHEMIA 1:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE geskiedenis van Nehemía, die seun van Hagálja. En in die maand Kislew van die twintigste jaar toe ek in die vesting Susan was, het Hanáni, een van my broers, gekom, hy en manne uit Juda; en ek het hulle gevra na die Jode, die vrygeraaktes wat oorgebly het uit die gevangenskap, en na Jerusalem. En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poorte is met vuur verbrand. En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel en gesê: Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou — laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig. Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie. Dink tog aan die woord wat U aan Moses, u kneg, beveel het, naamlik: As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi; maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen — al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon. Hulle is tog u knegte en u volk wat U verlos het deur u grote krag en deur u sterke hand. Ag, Here, laat u oor tog opmerksaam wees op die gebed van u kneg en op die gebed van u knegte wat verlang om u Naam te vrees; en laat dit tog vandag u kneg geluk, en verleen hom barmhartigheid voor die oë van hierdie man. Ek was naamlik skinker van die koning.
NEHEMIA 1:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die verhaal van Nehemia seun van Gakalja. Dit was in die maand Kislef, die twintigste jaar. Ek was in die vestingstad Susan. Ganani, een van my medeamptenare, het daar aangekom uit Juda, hy en 'n paar ander manne. Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit die ballingskap vrygelaat is en teruggegaan het, en oor Jerusalem, en hulle het vir my gesê: “Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand.” By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam, luister tog, gee tog ag op die gebed wat ek, u dienaar, sonder ophou tot U bid. “Ek bid vir u dienaars, die Israeliete, ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. Ons het U nie geëer nie, ons was ongehoorsaam aan die gebooie, die voorskrifte, die bepalings wat U aan u dienaar Moses gegee het. “Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het: ‘As julle ontrou is, sal Ek julle onder die volke verstrooi, maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie gehoorsaam en nakom, sal Ek julle weer bymekaarmaak, al is julle oor die hele aarde versprei. Ek sal julle terugbring na die plek toe wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon.’ “Hulle is u dienaars, u volk vir wie U met u groot mag en krag gered het. Ag, Here, luister tog na die gebed van u dienaar en na die gebed van u dienaars, hulle vir wie dit 'n vreugde is om u Naam te eer. Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen. Laat hierdie man my simpatiek gesind wees.” Ek was die koning se skinker.
NEHEMIA 1:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woorde van Nehemia, seun van Gagalja. Dit het gebeur in die maand Kislef, in die twintigste regeringsjaar, toe ek in die vestingstad Susan was. Ganani, een van my broers, het daar aangekom, hy en manne van Juda. Ek het hulle uitgevra oor die Judeërs wat ontkom het – die Judeërs wat die ballingskap oorleef het – en oor Jerusalem. Hulle sê toe vir my: “Dié wat nog in die provinsie is en die ballingskap oorleef het, ervaar groot probleme en vernedering. Die muur van Jerusalem is afgebreek en sy stadspoorte is deur vuur verwoes.” Toe ek hierdie woorde hoor, het ek gaan sit en huil; ek het dae lank getreur. Ek het aanhou vas en voor die God van die hemel gebid. Ek het gesê: “Ag, HERE, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God, wat die verbond en trou handhaaf vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom, laat u oor asseblief aandagtig wees, en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u dienskneg wat ek vandag, wat ek dag en nag voor U bid oor die Israeliete, u diensknegte, die gebed waarmee ek die sondes van die Israeliete bely wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. Ons het ons uiters sleg gedra teenoor U en nie die gebooie, vaste voorskrifte en bepalings nagekom wat U u dienskneg Moses beveel het nie. Onthou asseblief die woord wat U u dienskneg Moses opgedra het, ‘As julle ontrou is, sal Ek julle verstrooi onder die volke, maar as julle na My terugkeer en my gebooie nakom en dit uitvoer – selfs al is julle verstrooi tot aan die einde van die aarde – sal Ek julle daarvandaan bymekaarmaak en na die plek bring wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon. ’ Hulle is tog u dienaars en u volk wat U deur u groot mag en met u sterk hand bevry het. Ag my Heer, laat u oor asseblief aandagtig gerig wees op die gebed van u dienskneg en op die gebed van u diensknegte, wat vreugde daarin vind om ontsag vir u Naam te hê. Laat u dienskneg asseblief vandag slaag, en gee dat daar vir hom barmhartigheid sal wees by hierdie man. ” Ek was in daardie tyd die koning se skinker.
NEHEMIA 1:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die woorde van Nehemia, die seun van Hagalja. En dit het gebeur in die maand Kisleu, in die twintigste jaar, terwyl ek in die paleis Susan was, Dat Hanani, een van my broers, gekom het, hy en sekere manne van Juda; en ek het hulle gevra oor die vrygeraakte Jode wat uit die ballingskap oorgebly het, en oor Jerusalem. En hulle het vir my gesê: Die oorblyfsel wat oorgebly het van die ballinge daar in die provinsie, is in groot ellende en smaad; ook die muur van Jerusalem is afgebreek, en sy poorte is met vuur verbrand. En dit het gebeur, toe ek hierdie woorde hoor, het ek gaan sit en geween en sekere dae getreur en gevas en gebid voor die God van die hemel, en gesê: Ek bid U, HERE, God van die hemel, die groot en vreeslike God, wat die verbond en die barmhartigheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie bewaar. Laat jou oor nou aandag gee en jou oë oopmaak, dat jy die gebed van u kneg kan hoor wat ek nou voor jou aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u dienaars, en die sondes van die kinders van Israel kan bely, wat ons teen U gesondig het: ek en die huis van my vader het gesondig. Ons het baie korrup teen U gehandel en die gebooie en die insettinge en die verordeninge wat U u dienaar Moses beveel het, nie onderhou nie. Dink tog aan die woord wat U aan u kneg Moses beveel het deur te sê: As julle oortree, sal Ek julle onder die nasies verstrooi. Maar as julle julle tot My bekeer en my gebooie bewaar en dit doen; al was daar van julle wat uitgewerp is tot aan die einde van die hemel, tog sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek gekies het om my Naam daar te vestig. Dit is nou u dienaars en u volk wat U deur u groot krag en deur u sterke hand verlos het. O HERE, ek smeek U, laat u oor tog luister na die gebed van u kneg en na die gebed van u dienaars wat u Naam wil vrees; genade in die oë van hierdie man. Want ek was die skinker van die koning.