NEHEMIA 6:1-19

NEHEMIA 6:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die res van ons vyande het berig gekry dat ek die muur klaar gebou het en dat dit nêrens meer vervalle was nie. In dié stadium was die poortdeure egter nog nie gehang nie. Sanballat en Gesem laat my toe weet: “Kan ons mekaar in Kefirim, in die Onolaagte, ontmoet?” Hulle plan was om my by te kom. Ek stuur toe boodskappers na hulle toe en sê: “Ek is besig met 'n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?” Hulle het dieselfde boodskap vier keer gestuur, en elke keer het ek dieselfde antwoord teruggestuur. Die vyfde keer stuur Sanballat toe 'n amptenaar na my toe met dieselfde boodskap, maar ook met 'n brief wat nie verseël was nie. Daarin was geskrywe: “Onder die nasies word 'n gerug versprei, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs 'n opstand beplan. Daarom bou jy die muur. Volgens die gerug wil jy koning word oor hulle, en jy het ook al profete aangestel om jou in Jerusalem tot koning oor Juda uit te roep. Die gerug wil dat die koning van Persië hiervan te hore sal kom. Kom nou, kom ons praat.” Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.” Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Sterk tog my hande, o God! Ek het by Semaja seun van Delaja, seun van Mehetabel, gekom waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê: “Kom ons ontmoet mekaar in die huis van God, binne-in die tempel, en laat ons dan die deure van die tempel sluit, want daar kom mense om jou dood te maak, hulle kom vannag om jou dood te maak.” Ek het gesê: “Sal 'n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie!” Ek het toe geweet dat God hom nie gestuur het nie, maar dat hy dié voorspelling teen my gemaak het omdat Tobija en Sanballat hom omgekoop het. Hy is omgekoop om my bang te maak sodat ek 'n misstap sou begaan en hulle die geleentheid gee om my te beskinder en my naam sleg te maak. My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak. Die muur is voltooi op die vyf en twintigste van die maand Elul, binne twee en vyftig dae. Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen. Hulle het toe geweet ons doen hierdie werk met die hulp van ons God. In daardie selfde tyd het daar baie briewe van vooraanstaande Judese burgers na Tobija toe gegaan en briewe van hom af na hulle toe gekom. Baie Judeërs het noue bande met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja seun van Arag, en sy seun Joganan was getroud met 'n dogter van Mesullam seun van Berekja. Hulle het gedurig voor my gepraat van Tobija se goeie hoedanighede, en alles wat ek gesê het, aan hom oorgedra. Dan het hy briewe gestuur en my probeer bang praat.

NEHEMIA 6:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe die nuus Sanballat, Tobija, Gesem die Arabier, en die res van ons vyande bereik dat ek die muur herbou het en dat daar nie meer 'n bres daarin was nie, alhoewel ek tot op daardie stadium nog nie die deure in die poorte ingesit het nie, het Sanballat en Gesem vir my laat weet: “Kom, laat ons byeenkom by Kefirim in die Onovallei. ” Hulle was egter van plan om my kwaad aan te doen. Ek het toe boodskappers na hulle gestuur en gesê: “Dit is 'n groot werk waarmee ek besig is; ek kan nie na julle afkom nie. Waarom moet die werk stilstaan omdat ek dit moet los en na julle afkom?” Hulle het dieselfde boodskap vier keer vir my gestuur, en ek het hulle op dieselfde manier bly antwoord. Toe stuur Sanballat vir die vyfde keer op dieselfde manier sy dienaar na my met 'n oop brief in sy hand waarin geskryf staan: “Onder die nasies word daar vertel, en Gasmu bevestig dit, dat jy en die Judeërs van plan is om in opstand te kom. Dit is waarom jy die muur herbou. En volgens hierdie berigte gaan jy hulle koning word. Jy het selfs profete aangestel om in Jerusalem oor jou te verkondig, ‘Daar is 'n koning in Juda!’ Hierdie berigte gaan nou by die koning uitkom. Kom dan nou, laat ons bymekaarkom.” Ek het toe aan hom 'n boodskap gestuur en gesê: “Hierdie dinge, dit wat jy beweer, gebeur nie; inteendeel – jy versin dit in jou eie hart.” Ja, hulle almal wou ons bang maak en het gedink: Hulle hande sal slap word vir die werk, sodat hulle dit nie sal doen nie. Daarom, maak my hande sterk, my Heer! Ek het self na die huis van Semaja, seun van Delaja, seun van Mehetabel, gegaan. Hy was ingeperk, maar het gesê: “Ons moet by die huis van God ontmoet, in die •tempel. Ons moet die deure van die tempel sluit, want hulle kom om jou dood te maak; in die nag kom hulle om jou dood te maak.” Ek het egter gedink: Moet iemand soos ek vlug? Wie sal, in my situasie, die tempel binnegaan sodat hy kan lewe? Ek sal nie gaan nie! Ek het besef: Kyk, dit is nie God wat hom gestuur het nie; maar die profesie het hy self oor my uitgespreek. Dit is Tobija en Sanballat wat hom gehuur het. Hy is gehuur, sodat ek uit vrees so sou optree en sonde doen. Dan sou hulle rede tot naamskending hê, sodat hulle my kon treiter. Onthou tog, my God, vir Tobija en Sanballat, oor hierdie dade van hulle, en ook Noadja, die profetes, en die res van die profete wat my wou bangmaak. Die muur is binne twee-en-vyftig dae voltooi, op die vyf-en-twintigste dag van Elul. Toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bang geword, en ons vyande het in hulle oë baie laag gedaal. Hulle het besef dat hierdie werk met God se bystand gedoen is. Ook in dié tyd het die hoëlui van Juda baie briewe na Tobija gestuur, en van Tobija af het briewe na hulle gekom. Want baie mense in Juda was met 'n eed aan hom verbonde, omdat hy die skoonseun was van Seganja, seun van Arag; en sy seun Joganan was met die dogter van Mesullam, die seun van Beregja, getroud. Ook oor sy goeie dade het hulle gedurig voor my gepraat, en my woorde het hulle telkens aan hom oorgedra. Tobija het briewe gestuur om my bang te maak.

NEHEMIA 6:1-19 Die Boodskap (DB)

Sanballat, Tobija en die Arabier Gesem en die res van ons vyande het gehoor dat ons die muur klaar herstel het en dat dit nie meer in puin lê nie. Ons het egter nog nie die deure van die stadshekke vasgesit nie. Toe het Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap gestuur waarin hulle my gevra het om hulle in Kefirim in die Onolaagte te ontmoet. Maar ek het besef hulle beplan om my kwaad aan te doen. Daarom het ek vir hulle ’n boodskap gestuur: “Ek is besig met baie belangrike werk, ek het nie nou tyd om soontoe te kom nie. In elk geval, waarom moet ek die werk laat stilstaan om na julle toe te kom?” Daardie spul het dieselfde boodskap vier keer na my toe gestuur en ek het elke keer vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur. Vir ’n vyfde keer het Sanballat een van sy werkers met dieselfde boodskap na my toe gestuur. Hy het egter hierdie keer ’n oop brief by hom gehad, en dit is wat daarin gestaan het: “Daar loop ’n storie onder die buurvolke, en Gesem bevestig dit, dat jy en die Judeërs besig is om ’n opstand te beplan. Dit is waarom julle die muur herbou. Ek hoor verder dat jy glo beplan om jouself koning oor hulle te maak. Jy het blykbaar ook ’n klomp profete aangestel om oor jou in Jerusalem te profeteer en te sê: ‘Kyk, daar is die koning van Juda!’ Jy weet natuurlik dat die koning van Persië binnekort hiervan sal hoor. Daarom wil ek jou aanraai om my eerder te ontmoet sodat ons die saak kan uitpraat.” My antwoord aan hom was: “Jy weet dis nie die waarheid nie. Dit is sommer ’n klomp stories wat jy self opgemaak het.” Hulle het ons probeer intimideer sodat ons moes ophou met die werk aan die muur. Maar ek het gebid: “God, maak my sterk sodat ek staande sal bly!” Later het ek na Semaja seun van Delaja en die kleinseun van Mehetabel toe gegaan waar hy homself in sy huis toegesluit het. Hy het vir my gesê: “Ons twee moet saam in die woonplek van God, daar in die heiligste deel van die tempel, gaan wegkruip. Ons moet die deur sluit, want daar kom vannag mense om jou dood te maak.” Ek het vir hom gesê: “Ek is nie die soort mens wat weghardloop en gaan wegkruip nie. Moenie dink ek sal in die tempel gaan wegkruip om my lewe te red nie. Vergeet dit!” Toe ek daaroor nadink, het ek besef dat God hom nie gestuur het nie, maar dat Sanballat en Tobija hom omgekoop het om dit vir my te sê. Hulle het gehoop ek sou skrik en doen wat hy sê. Dan sou ek boonop verkeerd doen deur in die heilige deel van die tempel in te gaan. So sou hulle die kans kry om my te beskinder en te verneder voor my mense. My God, onthou tog al die slegte dinge wat Tobija en Sanballat gedoen het. Straf hulle daarvoor, en ook die skynheilige profetes Noadja en al die ander vals profete soos sy wat my probeer intimideer het. Na 52 dae is die werk aan die muur voltooi. Dit was op die 25ste dag van die maand Elul. Toe ons vyande dit hoor en die ander volke rondom ons dit sien, het hulle grootpraterigheid soos mis voor die son verdwyn. Hulle moes erken dat ons dié werk met God se hulp gedoen het. In daardie tyd was daar heelwat briefwisseling tussen Tobija en van die vooraanstaande Judeërs. Baie van hulle het ’n goeie verhouding met hom gehad, want hy was die skoonseun van Sekanja die seun van Arag. Sy seun Joganan was getroud met die dogter van Mesullam seun van Berekja. Hulle het my gereeld vertel wat ’n wonderlike mens Tobija was. Alles wat ek gesê het, het hulle vir hom gaan oorvertel. In reaksie het hy dan dreigbriewe na my toe gestuur om my te probeer bang maak.

NEHEMIA 6:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Sanballat, Tobija, die Arabier Gesem en die ander vyande het gehoor dat ek die bouwerk aan die muur voltooi het. Daar was geen openinge meer in die muur nie. Hulle moes wel nog die deure in die poorte hang. Toe stuur Sanballat en Gesem vir my ’n boodskap met die versoek dat ek hulle in een van die dorpies in die Onolaagte moes ontmoet. Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen. Ek het toe vir hulle ’n boodskap teruggestuur: “Ek is met ’n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.” Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur. Die vyfde keer het Sanballat sy assistent na my gestuur met ’n oop brief in sy hand. In die brief het daar gestaan: “Gesem het my vertel dat die mense onder mekaar praat en sê dat jy en die Jode ’n opstand beplan. Dit is hoekom julle die muur bou. Volgens die gerugte het jy planne om hulle koning te word. Hy vertel ook dat jy profete aangestel het om in Jerusalem oor jou te profeteer. Hulle sê glo: ‘Daar is nou ’n koning in Juda!’ “Die koning sal sonder enige twyfel van hierdie gerugte te hore kom. My voorstel is dat jy liewer kom en die saak met my kom bespreek.” Ek het toe die volgende antwoord vir hom gestuur: “Daar is nie ’n greintjie waarheid in jou storie nie. Dit is goed wat jy self uitgedink het.” Dit was bloot hulle manier om ons te intimideer. Hulle het gedink dit sou ons moedeloos maak en dat die werk tot stilstand sou kom. Ek het vir krag gebid dat die werk kon voortgaan. Semaja seun van Delaja en kleinseun van Mehetabel was in sy huis toegesluit. Ek het hom gaan besoek. Hy het gesê: “Kom ons ontmoet mekaar in die tempel van God en sluit die deure van die tempel. U vyande is op pad om u vannag te kom doodmaak.” Ek het hom geantwoord: “Behoort iemand soos ek vir gevaar weg te vlug? Behoort iemand soos ek in die tempel te skuil om my lewe te red? Nee, ek sal nie ingaan nie!” Ek het besef dat dit nie God is wat hom gestuur het nie. Dit was Tobija en Sanballat wat hom gehuur het om hierdie woorde vir my te profeteer. Hulle het hom gehuur met die hoop om my bang te maak en dan deur my verkeerde optrede te sondig. Dit sou dit vir hulle moontlik gemaak het om my naam sleg te maak en my te verneder. O, my God, onthou al die slegte dinge wat Tobija en Sanballat gedoen het. En vergeet ook nie van die profeet Noadja en al die ander profete soos sy wat my probeer afskrik het nie. Op 2 Oktober is die muur uiteindelik voltooi. Dit was net 52 dae vandat ons begin bou het. Toe die nuus ons vyande bereik en die volke in die omgewing sien wat gebeur het, was hulle uit die veld geslaan. Hulle het besef dat ons God ons met hierdie werk gehelp het. Gedurende hierdie 52 dae was daar baie briefwisseling tussen Tobija en die leiers van Juda. Baie van die mense in Juda het trou aan hom gesweer, want hy was die skoonseun van Sekanja, die seun van Arag. Verder was sy seun Joganan met die dogter van Mesullam seun van Berekja getroud. Hulle het ook voortdurend vir my vertel hoe ’n wonderlike man Tobija is. Hulle het ook vir hom alles oorvertel wat ek gesê het. En Tobija het baie briewe aan my gestuur om my te probeer bangmaak.

NEHEMIA 6:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Ek het die muur klaar gebou. Daar het nie een stukkende plek oorgebly nie, maar ek het nog nie deure in die poorte gesit nie. Party mense het dit vertel vir Sanballat en Tobija en vir die Arabier Gesem en ons ander vyande. Toe het Sanballat en Gesem vir my 'n boodskap gestuur en gesê ons moet mekaar ontmoet in die stad Kefirim in die Ono-vallei. Hulle wou iets sleg doen aan my. Ek het boodskappers na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: “Ek doen 'n belangrike werk, ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stop? Hoekom moet ek dit los en na julle toe kom?” Hulle het vier maal dieselfde boodskap vir my gestuur, en ek het dieselfde antwoord vir hulle teruggestuur. Sanballat het die vyfde maal dieselfde boodskap gestuur, maar toe het sy boodskapper 'n oop brief in sy hand gehad. In die brief was geskryf: “Mense vertel tussen die volke dat die Judeërs opstandig wil word teen die koning, en Gasmu sê dit is waar. Hulle sê dit is hoekom jy die muur bou. Hulle sê dat jy self die koning van die Judeërs wil word. Hulle sê ook dat jy profete gekies en aangestel het om in Jerusalem te skree en te sê: ‘Nehemia is nou koning in Juda!’ Ek wil hê jy moet weet dat die koning hiervan sal hoor. Daarom moet jy kom sodat ons daaroor kan praat.” Ek het vir hom laat weet: “Jy praat nie die waarheid nie. Nee, jy het self hierdie storie gemaak.” Ja, hulle almal wou ons laat skrik, hulle het gedink ons sal moedeloos word, en die werk sal nie klaarkom nie. Daarom het ek gebid dat ek sterk sal bly. Ek het gegaan na die huis van Semaja seun van Delaja seun van Mehetabel. Hy kon nie uit sy huis kom nie. Hy het vir my gesê: “Ons moet mekaar in die tempel ontmoet, binne-in die gebou. Dan sluit ons die deure, want daar is mense wat jou wil kom doodmaak. Hulle wil dit vannag doen.” Ek het vir hom gesê: “Moet 'n man soos ek vlug? En moet iemand soos ek in die tempel gaan wegkruip om te bly lewe? Nee, ek sal nie gaan nie.” Ek het besef dat God nie vir Semaja gestuur het nie. Semaja het gesê hy het 'n boodskap van God vir my gebring, maar dit was Tobija en Sanballat wat hom betaal het om dit te doen. Hulle het hom betaal om dit vir my te sê. Semaja wou hê dat ek moet skrik en moet doen wat hy sê. As ek in die tempel ingegaan het, dan het ek sonde gedoen en dan het almal sleg gepraat van my. Ek het gebid en gesê: “My God, U moet onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het. U moet ook onthou hoe die profeet Noadja en die ander profete probeer het om my bang te maak.” Ons het die muur klaar gebou op die 25ste dag van die maand Elul. Ons het 52 dae lank gewerk. Toe al ons vyande en die mense van al die volke rondom ons dit sien, het hulle moedeloos geword, want hulle het geweet dat God ons gehelp het om hierdie werk klaar te maak. In daardie tyd het Tobija en die belangrike mense van Juda baie briewe vir mekaar gestuur, want baie mense in Juda was familie van Tobija. Hy was 'n skoonseun van Sekanja seun van Arag, en sy seun Jonatan was getroud met 'n dogter van Mesullam seun van Berekja. Hulle het aangehou om vir my te sê dat Tobija 'n baie goeie man is, en hulle het vir hom alles vertel wat ek gesê het. Hy het self ook vir my 'n brief geskryf om my bang te maak.

NEHEMIA 6:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Sanbállat en Tobía en Gesem, die Arabier, en ons ander vyande verneem dat ek die muur gebou het en dat daar geen skeur in oorgebly het nie, alhoewel ek tot dié tyd toe geen deure in die poorte gesit het nie, laat Sanbállat en Gesem my weet: Kom laat ons bymekaarkom in een van die dorpe, in die laagte van Ono; maar hulle het gemeen om my kwaad aan te doen. Toe stuur ek boodskappers na hulle om te sê: Ek doen 'n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie. Waarom moet die werk ophou sodra ek dit verlaat om na julle af te kom? Nog vier keer het hulle op dieselfde manier na my gestuur, en ek hulle op dieselfde manier geantwoord. Daarop stuur Sanbállat op dieselfde manier vir die vyfde keer sy dienaar na my met 'n ope brief in sy hand. Daarin was geskrywe: Die gerug gaan rond onder die volke, en Gasmu sê: Jy en die Jode is van plan om te rebelleer; daarom bou jy die muur, en jy sal hulle koning word — dergelike dinge. Ook het jy profete aangestel om van jou in Jerusalem uit te roep en te sê: Koning in Juda! En nou, sulke dinge sal deur die koning gehoor word; kom dan nou en laat ons saam beraadslaag! Maar ek het hom laat weet: Daar het nie sulke dinge gebeur as dié waar jy van spreek nie, maar jy het dit self versin. Want hulle almal wou ons bang maak en het gedink: Hulle hande sal die werk laat lê, sodat dit nie gedoen word nie. Versterk dan nou my hande! En toe ek in die huis van Semája, die seun van Delája, die seun van Mehetábeël kom, terwyl hy verhinder was, sê hy: Laat ons saamkom in die huis van God, binne-in die tempel, en laat ons die deure van die tempel toesluit; want hulle kom om u dood te maak, ja, hulle sal in die nag kom om u dood te maak. Maar ek het gesê: Sal 'n man soos ek vlug? En hoe durf een soos ek die tempel ingaan en in die lewe bly? Ek sal nie ingaan nie. Want ek het duidelik gemerk dat God hom nie gestuur het nie, maar dat hy die profesie oor my gespreek het, omdat Tobía en Sanbállat hom gehuur het. Daarvoor was hy gehuur, dat ek bang sou word en so sou maak en sonde doen, sodat dit hulle as slegte gerug kon dien om my smaadheid aan te doen. Dink, my God, aan Tobía en aan Sanbállat volgens hierdie werke van hom, en ook aan Noádja, die profetes, en die ander profete wat my wou bang maak. En die muur is voltooi op die vyf-en-twintigste van Elul, in twee-en-vyftig dae. En toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bevrees geword en neerslagtig gevoel, en hulle het erken dat hierdie werk deur onse God gedoen is. Ook het in dié dae die edeles van Juda baie briewe geskrywe wat na Tobía gegaan het, en dié van Tobía het na hulle gekom. Want baie in Juda was deur 'n eed aan hom verbonde, omdat hy die skoonseun was van Segánja, die seun van Arag, en sy seun Jóhanan die dogter van Mesúllam, die seun van Berégja, getrou het. Ook het hulle voor my sy goeie bedoelings verhaal en my woorde na hom uitgebring. Tobía het briewe gestuur om my bang te maak.

NEHEMIA 6:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur toe Sanballat en Tobía en Gesem, die Arabier, en die res van ons vyande, hoor dat ek die muur gebou het en dat daar geen breuk daarin oorgebly het nie; (alhoewel ek in daardie tyd nog nie die deure by die poorte aangebring het nie;) Dat Sanballat en Gesem na my gestuur het om te sê: Kom, laat ons bymekaarkom in een van die dorpies in die Onovlakte. Maar hulle het gedink om my kwaad aan te doen. En ek het boodskappers na hulle gestuur om te sê: Ek doen 'n groot werk, sodat ek nie kan afkom nie; waarom sou die werk ophou as ek dit verlaat en na julle afkom? Maar hulle het vier maal van hierdie soort na my gestuur; en ek het hulle op dieselfde manier geantwoord. Toe het sy dienaar Sanballat vir die vyfde keer net so na my gestuur met 'n ope brief in sy hand; Daarin is geskrywe: Dit word onder die heidene gerapporteer, en Gasmu sê dit dat jy en die Jode dink om in opstand te kom; daarom het jy die muur gebou, dat jy hulle koning kan wees, volgens hierdie woorde. En jy het ook profete aangestel om oor jou in Jerusalem te preek en te sê: Daar is 'n koning in Juda, en nou sal dit aan die koning gerapporteer word volgens hierdie woorde. Kom dan nou, en laat ons saam raad hou. Toe het ek na hom gestuur om te sê: Daar is nie sulke dinge gedoen soos jy sê nie, maar jy gee dit uit jou hart voor. Want hulle het ons almal bang gemaak en gesê: Hulle hande sal verswak word van die werk, dat dit nie gedoen word nie. Versterk my hande dan nou, o God. Daarna het ek gekom by die huis van Semája, die seun van Delaja, die seun van Mehetabeël, wat opgesluit was; en hy sê: Laat ons saamkom in die huis van God, binne-in die tempel, en laat ons die deure van die tempel sluit, want hulle sal kom om jou dood te maak; ja, in die nag sal hulle kom om jou dood te maak. En ek het gesê: Moet so iemand soos ek vlug? en wie is daar wat, soos ek is, in die tempel sou gaan om sy lewe te red? Ek sal nie ingaan nie. En kyk, ek het bemerk dat God hom nie gestuur het nie; maar dat hy hierdie profesie teen my uitgespreek het, want Tobía en Sanballat het hom gehuur. Daarom is hy gehuur, dat ek bang sou wees en so sou doen en sondig, en dat hulle saak sou hê as 'n slegte gerug, dat hulle my kon smaad. My God, dink aan Tobía en Sanballat volgens hierdie hulle werke, en aan die profetes Noadja en die ander profete wat my bang sou maak. So is die muur dan voltooi op die vyf en twintigste dag van die maand Elul, in twee en vyftig dae. En dit het gebeur dat toe al ons vyande dit hoor, en al die nasies wat rondom ons was, hierdie dinge gesien het, was hulle baie neergeslaan in hul eie oë, want hulle het gemerk dat hierdie werk deur onse God gedoen is. Verder het die edeles van Juda in daardie dae baie briewe aan Tobía gestuur, en die briewe van Tobía het na hulle gekom. Want daar was baie in Juda wat vir hom gesweer het, omdat hy die skoonseun van Segánja, die seun van Arah, was; en sy seun Jóhanan het die dogter van Mesúllam, die seun van Beregja, geneem. Hulle het ook sy goeie dade voor my aangesig en my woorde aan hom verkondig. En Tobia het briewe gestuur om my bang te maak.