NUMERI 3:25-37

NUMERI 3:25-37 Bybel vir almal (ABA)

Die nageslag van Gerson moes werk by die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle moes sorg vir: die tempel-tent, die tent en sy seil, die gordyn voor die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn, die gordyne rondom die oop stuk grond, die gordyn voor die ingang van die oop stuk grond wat rondom die tempel-tent en die altaar is, en die toue. Hulle moes alles doen wat daar nodig was. Die families Amram, Jishar, Hebron en Ussiël was van die nageslag van Kehat. Hulle was Kehat-families. Die mans en seuns wat 'n maand of ouer was en wie se name in die boek geskryf is, was almal saam 8 600. Hulle moes al die werk by die tempel-tent doen. Die Kehat-families moes hulle tente opslaan langs die tempel-tent, suid van die tempel-tent. Die leier van die Kehat-families was Elisafan seun van Ussiël. Hulle moes werk met die kis, die tafel, die lampstaander, die altare en die gewyde gereedskap daarby, die gordyn en alles wat nodig was by die kis. Die hoofleier van die Levi-stam was Eleasar seun van die priester Aäron. Hy moes kyk dat die Leviete al die werk by die tempel-tent reg doen. Die Magli-familie en die Musi-familie was van die nageslag van Merari. Die mans wat 'n maand of ouer is en wie se name in die boek geskryf is, was almal saam 6 200. Die leier van die Merari-families was Suriël seun van Abihajil. Hulle het hulle tente opgeslaan langs die tempel-tent, noord van die tempel-tent. Die Merari-families moes werk met die rame van die tempel-tent, die dwarspale, die pale, die voetstukke en al die ander dinge wat daarby moes wees, die pale rondom die oop stuk grond en die voetstukke en die penne en toue.

NUMERI 3:25-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die seuns van Gerson moet by die tent van samekoms versorg: die tabernakel en die tent, sy dekkleed en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms; en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en sy lyne — alles wat by sy bediening behoort. En aan Kehat het behoort die geslag van die Amramiete en die geslag van die Jishariete en die geslag van die Hebroniete en die geslag van die Ussiëliete. Dit is die geslagte van die Kehatiete. Volgens die getal van almal wat manlik is, van 'n maand oud en daarbo, was daar agtduisend-seshonderd wat die diens van die heiligdom waargeneem het. Die geslagte van die seuns van Kehat moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, aan die suidekant. En owerste oor die familie vir die geslagte van die Kehatiete moet wees Elísafan, die seun van Ússiël. En hulle moet versorg: die ark en die tafel en die kandelaar en die altare en die gereedskap van die heiligdom waarmee hulle diens doen, en die voorhangsel en alles wat by die bediening daarvan behoort. En die hoof van die owerstes van Levi moet wees Eleásar, die seun van Aäron, die priester, die opsigter oor die wat die diens van die heiligdom waarneem. Aan Merári het behoort die geslag van die Magliete en die geslag van die Musiete. Dit is die geslagte van Merári. En hulle geteldes volgens die getal van almal wat manlik is, van 'n maand oud en daarbo, was sesduisend-tweehonderd. En die owerste van die familie vir die geslagte van Merári moet wees Súriël, die seun van Abihail; hulle moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, aan die noordekant. En die toesig van die seuns van Merári — wat hulle te besorg het — moet wees oor die style van die tabernakel en sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke en al die gereedskap sowel as die hele diens wat daarby behoort; en die pilare van die voorhof rondom en hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne.

NUMERI 3:25-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die taak van die Gersoniete by die tent van ontmoeting was die versorging van die tabernakel: die tent met sy dekseile, die gordyn by die deur van die tent van ontmoeting, die gordyn van die ingang van die voorhof, die gordyne van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar was, al die toue, met alles wat dié diens insluit. Die Kehatgroep was Amram, Jishar, Hebron en Ussiël. Hulle was die Kehatiete. Hulle manlike persone van 'n maand en ouer was altesaam ag duisend ses honderd. Hulle taak was om die heiligdom te versorg. Die Kehatgroep het aan die suidekant van die tabernakel kamp opgeslaan met Elisafan seun van Ussiël as leier. Hulle taak was die versorging van die ark, die tafel, die kandelaar, die altare, die gereedskap wat in die heiligdom gebruik word, sowel as die voorhangsel, met alles wat dié diens insluit. Eleasar seun van die priester Aäron was die leier van die familiehoofde van Levi, en as sodanig opsigter oor almal wat in die heiligdom diens doen. Merari was die hoof van die familiegroepe Magli en Musi. Hulle was die Merariërs. Hulle manlike persone van 'n maand en ouer wat so getel is, was altesaam ses duisend twee honderd. Suriël seun van Abigajil was leier van die Merarigroep wat aan die noordekant van die tabernakel kamp opgeslaan het. Die Merarigroep was verantwoordelik vir die versorging van die rame, dwarslatte, style en voetstukke van die tabernakel, en ook van al sy gereedskap, met alles wat dié diens insluit; ook van die style rondom die voorhof, met voetstukke, penne en toue.

NUMERI 3:25-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die verpligtinge van die nageslag van Gerson by die Tent van Ontmoeting was die tabernakel en die boseil, sy dekkleed en die gordyn by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, die voorhof se seildoeke wat rondom die tabernakel en die altaar is, saam met die voorhof se afskorting en sy toue – al die werk daaraan. By Kehat hoort die familiegroep wat van Amram afstam, die familiegroep wat van Jishar afstam, die familiegroep wat van Hebron afstam en die familiegroep wat van Ussiël afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Kehat afstam. Die volle getal van al die manlike persone van 'n maand en ouer was 8 600. Hulle moes die verpligtinge in die heiligdom nakom. Die familiegroepe van die nageslag van Kehat het kamp opgeslaan langs die tabernakel, aan die suidekant. Die leier van die familiegroepe wat van Kehat afstam, was Elisafan, seun van Ussiël. Hulle verpligtinge was al die werk verbonde aan die ark, die tafel, die menora, die altare en die toebehore van die heiligdom waarmee hulle take verrig, asook die afskorting. Die hoofleier van die Leviete was Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy was in bevel van dié wat die verpligtinge in die heiligdom moes nakom. By Merari hoort die familiegroep wat van Magli afstam en die familiegroep wat van Musi afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Merari afgestam het. Wat betref dié wat ingeskryf is: Die volle getal van al die manlike persone van 'n maand en ouer was 6 200. Die leier van die familiegroepe wat van Merari afstam, was Suriël, seun van Abigajil. Hulle het langs die tabernakel tent opgeslaan, aan die noordekant. Die verantwoordelikheid wat aan die nageslag van Merari opgedra is, was die tabernakel se houtraamwerk, die dwarshoute, tentpale en voetstukke, en al die toebehore, al die werk daaraan verbonde, ook die tentpale van die voorhof rondom, hulle voetstukke, penne en toue.

NUMERI 3:25-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die diens van die seuns van Gerson in die tent van samekoms moet wees die tabernakel en die tent, sy deksel en die behangsel vir die ingang van die tent van samekoms; en die behangsels van die voorhof en die voorhangsel vir die ingang van die voorhof wat by die tabernakel is en by die altaar rondom, en sy toue vir die hele diens daarvan. En van Kehat was die geslag van die Amramiete en die geslag van die Isehariete en die geslag van die Hebroniete en die geslag van die Ussieliete; dit is die geslagte van die Kehatiete. In die getal van al die manspersone, van 'n maand oud en daarbo, was agt duisend ses honderd wat die diens van die heiligdom waargeneem het. Die geslagte van die seuns van Kehat moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, suidwaarts. En die owerste van die huis van die vader van die geslagte van die Kehatiete moet wees Elisafan, die seun van Ussiël. En hulle diens moet wees die ark en die tafel en die kandelaar en die altare en die gereedskap van die heiligdom waarmee hulle dien, en die ophanging en die hele diens daarvan. En Eleasar, die seun van die priester Aäron, moet owerste oor die owerste van die Leviete wees, en hy moet toesig hou oor die wat die diens van die heiligdom waarneem. Van Merári was die geslag van die Magliete en die geslag van die Musiete; dit is die geslagte van Merári. En hulle geteldes volgens die getal van al die manspersone, van 'n maand oud en daarbo, was sesduisend-tweehonderd. En die owerste van die huis van die vader van die geslagte van Merári was Suriël, die seun van Abíhail; hulle moet laer opslaan aan die kant van die tabernakel, noordwaarts. En onder die bewaring en toesig van die seuns van Merári moet die style van die tabernakel en sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke en al sy voorwerpe en alles wat daarvoor dien, wees, En die pilare van die voorhof rondom, met hulle voetstukke en hulle penne en hulle toue.