NUMERI 6:22-27
NUMERI 6:22-27 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir Aäron en sy seuns sê hoe hulle die Israeliete moet seën. Hulle moet sê: “Die Here seën jou en Hy beskerm jou, Die Here is naby jou en Hy is genadig vir jou, Die Here doen wat jy vra en Hy laat dit goed gaan met jou. “Wanneer die priesters dit doen, dan sal Ek by die Israeliete wees en hulle seën.”
NUMERI 6:22-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën deur vir hulle te sê: Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. So moet hulle dan my Naam op die kinders van Israel lê; en Ék sal hulle seën.
NUMERI 6:22-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle sê wanneer julle die Israeliete seën: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! “So moet die priesters my Naam oor die Israeliete uitroep, en Ek sal hulle seën.”
NUMERI 6:22-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Praat met Aäron en sy seuns en sê, ‘So moet julle die Israeliete seën; sê vir hulle: “ ‘ Mag die HERE jou seën en jou beskerm. Mag die HERE sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Mag die HERE sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.’ ” “So moet hulle my Naam op die Israeliete lê, dan sal Ek self hulle seën.”
NUMERI 6:22-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met Aäron en sy seuns en sê: So moet julle die kinders van Israel seën en aan hulle sê: Die HERE seën jou en bewaar jou. Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees. Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee. En hulle moet my Naam op die kinders van Israel lê; en Ek sal hulle seën.
NUMERI 6:22-27 Die Boodskap (DB)
Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir Aäron en sy seuns om die volgende woorde te gebruik wanneer hulle die mense van Israel seën as bewys van God se goedheid in hulle lewe: Die Here sal julle seën en julle oppas. Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees. Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee. “Dit is hoe Aäron en sy seuns my Naam moet gebruik wanneer hulle die Israeliete seën. As hulle dit so doen, sal Ek sorg dat dit met hulle goed gaan.”
NUMERI 6:22-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE sê toe vir Moses: “Sê vir Aäron en sy seuns: So moet julle die Israeliete seën: ‘Die HERE sal vir jou goed wees en vir jou sorg. Die HERE sal jou raaksien en vir jou sy liefde gee. Die HERE sal jou goedgesind wees en vir jou voorspoed gee.’ So sal hulle My aan die Israeliete verbind en Ek sal hulle seën.”