OBADJA 1:1-8 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

OBADJA 1:1-8 AFR83 (Afrikaans 1983)

Die openbaring wat Obadja ontvang het. So sê die Here my God oor Edom: Ons het 'n boodskap ontvang, en dit kom van die Here af. Daar is 'n boodskapper onder die nasies rondgestuur om te sê: “Maak klaar, kom ons gaan maak oorlog teen Edom!” Die Here het gesê: Edom, Ek maak jou 'n klein volkie onder die volke, jy sal glad nie meer gereken word nie. Jy is deur jou vermetelheid mislei, jy wat daar in die klipskeure sit, wie se woonplek hoog in die berge is, jy wat dink: wie sal my hier afkry grond toe? Al bou jy daar in die hoogte soos 'n aasvoël, al sit jy jou nes tussen die sterre, Ek sal jou daar afhaal, sê die Here. As diewe of rowers in die nag na jou toe kom, sou jy nie bly stilsit nie, al steel hulle net tot hulle genoeg het; as ander jou wingerd kom afoes, sou hulle van die druiwetrosse laat agterbly; maar jy, land van Esau, sal gefynkam word; alles wat jy weggesteek het, sal gestroop word. Al jou eie bondgenote sal jou oor jou grense jaag en jou in die steek laat. Jou eie vriende sal jou oorrompel, mense vir wie jy kos gegee het, sal vir jou strikke stel waar jy dit nie verwag nie. Dit is wat daardie dag sal gebeur, sê die Here. Ek sal die wyse mense uitroei uit Edom, Ek sal die slim mense uitroei uit die bergland van Esau.

OBADJA 1:1-8 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

DIE gesig van Obádja. So sê die Here HERE aangaande Edom: Ons het 'n tyding van die HERE gehoor, en 'n boodskapper is uitgestuur onder die nasies om te sê: Staan op, en laat ons klaarmaak om teen hom te veg! Kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, jy is baie verag. Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg, o jy wat woon in die rotsklowe, op hoë plekke bly, en in jou hart sê: Wie sal my op die aarde neerwerp? Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel — daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE. As daar diewe, as daar nagrowers na jou gekom het — hoe is jy vernietig! — sou hulle nie net soveel gesteel het as wat vir hulle genoeg was nie? As daar druiwesnyers na jou gekom het, sou hulle nie die na-oes laat oorbly het nie? Hoe is Esau deursoek! Is sy verborge skatte deursnuffel! Al jou bondgenote het jou tot by die grens gestuur; die manne met wie jy vriendskap gehou het, het jou bedrieg, jou oorweldig; hulle lê 'n strik onder jou as jou brood. Daar is geen verstand in hom nie! Sal Ek nie in dié dag, spreek die HERE, die wyse manne uit Edom verdelg nie en die verstand uit die gebergte van Esau?

OBADJA 1:1-8 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Dit is wat Obadja gesien het: Die oppermagtige HERE sê die volgende oor die land Edom. Ons het ’n boodskap gehoor wat van die HERE af kom. ’n Verteenwoordiger is na die nasies gestuur om te sê: “Maak julle almal slaggereed! Kry julle leërs bymekaar en laat ons Edom aanval!” Die HERE sê: “Edom, Ek maak jou ’n klein volkie onder die nasies. Jy sal niksseggend en veragtelik wees. Jy is hooghartig omdat jy in ’n klipvesting woon en jou blyplek hoog in die berge is. Vol hoogmoed vra jy: ‘Wie sal ons ooit hierbo kan bereik?’ Maar moenie jouself bedrieg nie! “Ek, die HERE, sê: Al sweef jy so hoog soos arende en bou jy neste tussen die sterre, Ek sal jou met ’n slag aarde toe bring. As diewe in die nag inbreek, vat hulle nie alles nie. Die mense wat druiwe pluk, los van die trossies oor. Maar jou vyande sal jou heeltemal uitwis! Elke hoek en kant van Edom sal deursoek word. Alles wat waardevol is, sal gevat word. Al jou bondgenote sal teen jou draai. Hulle sal help om jou uit jou eie land te verjaag. Hulle maak beloftes van vrede terwyl hulle jou ondergang beplan. Mense wat van jou afhanklik was, sal vir jou ’n lokval stel sonder dat jy enigiets vermoed.” Die HERE sê: “Die dag as dit gebeur, sal daar nie meer ’n enkele verstandige mens in die hele Edom oor wees nie! Ek sal al die slim en verstandige mense uitwis in die berggebiede van Edom.

OBADJA 1:1-8 DB (Die Boodskap)

Hier volg wat Obadja gesien het. Hy het gesien die Here het ’n boodskap vir Edom. Die Here het ’n boodskapper uitgestuur om vir die volke te gaan sê: “Kom ons maak reg dat ons teen Edom oorlog kan maak!” Die Here sê vir Edom: Ek gaan maak dat jy nie meer belangrik is onder die nasies nie. Inteendeel, hulle sal op jou neersien. Jy woon hoog in die berge waar jy veilig tussen die rotse is. Jy het egter in jou hart ook hoogmoedig geraak en jouself ’n rat voor die oë gedraai. Jy het jou wysgemaak dat niemand jou van daar sal kan afbring ondertoe nie. Maar die Here sê vir jou: Al bou jy jou nes so hoog bo in die berge soos ’n arend, selfs al gaan bly jy daar bo tussen die sterre, Ek sal jou daar gaan afhaal. Diewe en rowers wat in die nag kom steel, vat nie alles nie. Mense wat druiwe pluk, laat die klein trossies oorbly. Maar jou vyand sal niks vir jou laat oorbly nie. Esau se nageslag sal deursoek word. Alles wat hy probeer wegsteek, sal uitgekrap word. Almal met wie jy ’n ooreenkoms gehad het om jou te help sal jou van hulle af wegjaag. Almal met wie jy ’n ooreenkoms gehad het dat julle mekaar nie sal aanval nie, sal jou bedrieg en jou in die rug steek. Mense saam met wie jy geëet het, sal vir jou ’n strik stel. Jy sal dit nie eens agterkom nie. Op daardie dag, sê die Here, sal Ek Edom se slim mense by hom wegvat. Ek sal dié wat kennis het uit Edom se berge laat verdwyn.

OBADJA 1:1-8 ABA (Bybel vir almal)

Die Here het vir Obadja gewys wat sal gebeur. Die Here het gepraat oor die mense van die land Edom, en dit is wat ons gehoor het. Dit was toe die volke vir mekaar boodskappe gestuur het en gesê het: “Julle moet gereedmaak, ons moet oorlog gaan maak teen die Edomiete!” Die Here het vir die Edomiete gesê: “Ek sal julle 'n klein volkie maak, almal sal dink julle beteken niks. Julle het gedink julle is veilig, maar julle het 'n fout gemaak. Julle woon hoog in die berge tussen die rotse en julle dink niemand kan julle afbring ondertoe nie. Maar Ek sal julle afbring, ook wanneer julle soos 'n aasvoël teen die hoogste berge gaan woon, of wanneer julle vir julle 'n stad tussen die sterre bou. Wanneer diewe in die nag julle goed kom steel, dan steel hulle totdat hulle genoeg het en dan hou hulle op. Wanneer ander mense julle druiwe kom pluk, dan laat hulle party druiwetrosse oorbly. Maar die vyande sal niks van julle laat oorbly nie. Nageslag van Esau, die vyande sal alles soek wat julle weggesteek het, en hulle sal dit kry. Hulle sal julle wegjaag uit julle land. Julle eie vriende het 'n ooreenkoms gemaak met julle, maar hulle sal vir julle wag langs die pad en hulle sal julle aanval. Julle het vir hulle kos gegee, maar hulle sal julle aanval op 'n plek waar julle dit nie verwag nie.” Die Here het ook gesê: “Die mense in die land Edom, in die Esau-berge, dink hulle is baie slim, maar daardie dag sal Ek hulle doodmaak.

OBADJA 1:1-8 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Die openbaring aan Obadja. Dit is wat die HERE, my Heer oor Edom gesê het. Ja, ons het 'n boodskap gehoor wat van die HERE af kom. 'n Boodskapper is onder die nasies ingestuur: “Staan op! Laat ons gereedmaak vir oorlog teen Edom!” “ Kyk, gering maak Ek jou onder die nasies; jy sal heeltemal verag word. Die verwaandheid van jou hart bedrieg jou, jy wat tuis is in die rotsskeure van jou hoë woonplek, wat in jou hart sê, Wie sal my afbring aarde toe? Al sou jy jou nes so hoog maak soos dié van 'n arend, selfs al sou jy tussen die sterre nes maak, van daar af sal Ek jou afbring,” is die uitspraak van die HERE. “ Was dit maar diewe wat na jou toe gekom het, was dit maar diewe in die nag! Hulle steel darem net tot hulle genoeg het. Hoe word jy vernietig! Was dit maar druiweplukkers wat na jou toe gekom het! Hulle laat darem natrossies agter. Hoe word Esau deursoek, sy wegsteekplekke kaal gestroop! Almal met wie jy 'n verbond gesluit het, stuur jou terug tot by die landsgrens. Hulle het jou bedrieg, jou uitoorlê, daardie mense met wie jy 'n vredesooreenkoms het. Hulle wat saam met jou geëet het, laat 'n vreemde jou plek inneem. Daar is nie meer raad in Edom oor nie!” “Sal Ek nie op daardie dag,” is die uitspraak van die HERE, “wyse manne uit Edom laat verdwyn en raadgewers uit die bergland van Esau nie?”

OBADJA 1:1-8 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Die visioen van Obadja. So sê die HERE HERE aangaande Edom: Ons het 'n gerug van die HERE gehoor, en 'n boodskapper is onder die nasies gestuur: Staan op en laat ons teen haar opstaan in die geveg. Kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies; jy is baie verag. Die trotsheid van jou hart het jou bedrieg, jy wat in die rotskloven woon, wie se woning hoog is; wat in sy hart sê: Wie sal my op die grond laat neerdaal? Al sou jy jou verhef soos 'n arend en al sou jy jou nes tussen die sterre sit, Ek sal jou daarvandaan afbring, spreek die HERE. As diewe na jou toe gekom het, as rowers snags, (hoe word jy uitgeroei!) sou hulle nie gesteel het totdat hulle genoeg gehad het nie? as die druiwesakkers na jou toe kom, sou hulle dan nie druiwe agterlaat nie? Hoe word die dinge van Esau ondersoek! hoe word sy verborge dinge opgesoek! Al die manne van jou bond het jou tot by die grens gebring; die manne wat met jou vrede gehad het, het jou bedrieg en jou oorwin; die wat jou brood eet, het 'n wond onder jou gelê; daar is geen verstand in hom nie. Sal Ek nie in dié dag, spreek die HERE, die wyse manne uit Edom en die verstand uit die berg Esau uitroei nie?