FILIPPENSE 2:5-8
FILIPPENSE 2:5-8 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet dink en doen soos Christus Jesus gedink en gedoen het: Hy was dieselfde soos God, maar Hy het nie gedink dat Hy altyd moet aanhou om so belangrik soos God te wees nie. Hy het Homself verneder en Hy het geword soos 'n slaaf, Hy het 'n mens geword soos ons. Toe Hy 'n mens geword het, het Hy Homself nog meer verneder, Hy was gehoorsaam en Hy het gesterf. Ja, Hy het aan die kruis gesterf.
FILIPPENSE 2:5-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
FILIPPENSE 2:5-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
FILIPPENSE 2:5-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van 'n mens verskyn het, het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis.
FILIPPENSE 2:5-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat hierdie gesindheid in julle wees wat ook in Christus Jesus was: wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie. Maar hy het geen aansien gemaak nie, en het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem en aan mense gelyk geword. En toe Hy in gedaante gevind is as 'n mens, het Hy Homself verneder en gehoorsaam geword tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
FILIPPENSE 2:5-8 Die Boodskap (DB)
Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel. Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het ’n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer ’n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat ’n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.
FILIPPENSE 2:5-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees: Alhoewel Hy self God was, het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie, maar Hy het dit prysgegee: Hy het ’n slaaf geword en aan mense gelyk geword. En toe Hy as mens geleef het, het Hy Homself nog verder verneder deur tot die dood toe gehoorsaam te wees, ja, tot die kruisdood toe!