FILIPPENSE 3:12-21
FILIPPENSE 3:12-21 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê nie dat ek hierdie nuwe lewe al klaar het nie of dat ek al klaar is wat ek moet wees nie. Maar ek sal aanhou probeer om dit te kry, want Christus Jesus het gesê ek behoort aan Hom. Vriende, ek dink nie dat ek dit al klaar alles gekry het nie, maar een ding is vir my belangrik: Ek vergeet al die dinge wat verby is, en ek dink net aan die dinge wat nog sal gebeur. Ek is soos iemand wat resies hardloop om 'n prys te wen. Die prys is om in die hemel te kom, want God het my gekies en ek behoort aan Christus Jesus. Ons almal wat vas glo, moet so dink. As een van julle nie so dink nie, dan sal God vir julle help om reg te dink. Ons het tot nou toe die regte dinge gedoen. Ons moet aanhou om dit te doen. Vriende, julle moet lewe soos ek lewe en julle moet kyk hoe lewe die mense wat lewe soos ek. Ek het vir julle gesê en ek sê nou weer vir julle met trane in my oë: Daar is baie mense wat sê die kruis van Christus beteken niks. Daardie mense gaan hel toe. Hulle dink om te eet is die belangrikste ding in die lewe. Hulle is trots op die slegte dinge wat hulle doen. Hulle dink altyd aan die dinge van die wêreld. Maar God wat in die hemel is, is ons Koning. En ons weet die Here Jesus Christus sal uit die hemel kom om ons te red. Sy krag is groot, Hy regeer oor alles. Hy sal sy krag gebruik om ons wat swak is, te verander sodat ons soos Hy sal wees, Hy wat Koning is.
FILIPPENSE 3:12-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar. Maar wat ons reeds bereik het — laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees. Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. Want baie — van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê — wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge. Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.
FILIPPENSE 3:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus. Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink – God sal ook hierin aan julle die regte insig gee. In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het. Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.
FILIPPENSE 3:12-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak, omdat Christus Jesus my reeds sy eie gemaak het. Broers, ek reken nie dat ek dit self reeds my eie gemaak het nie, maar een ding doen ek: Ek vergeet die dinge wat agter is, en strek my uit na wat voorlê. Ek beur voort na die wenstreep, om in Christus Jesus die prys van God se roeping van omhoog te bekom. Laat ons, wat geestelik volwasse is, so hieroor dink; maar as julle anders hieroor dink, sal God dit wel aan julle bekend maak. In elk geval, laat ons die pas volhou in ooreenstemming met dit wat ons bereik het. Broers, volg dan my voorbeeld, en let op hulle wat so leef volgens die voorbeeld wat ons aan julle gestel het, want baie, van wie ek dit dikwels vir julle gesê het, en nou weer in trane sê, leef as vyande van die kruis van •Christus. Hulle einde is die verderf, die maag is hulle god, hulle eer is geleë in hulle skande – hulle wat aardse dinge bedink. Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser die Here Jesus Christus verwag. Hy sal ons nederige liggaam verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam, deur die krag wat Hom in staat stel om alles aan Homself te onderwerp.
FILIPPENSE 3:12-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nie asof ek alreeds bereik het nie, of ek al volmaak is nie; maar ek jaag daarna, as ek dit kan begryp waarvoor ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken my nie as gevat nie; maar hierdie een ding doen ek, en vergeet die dinge wat agter is, en reik uit na die dinge wat voor is, Ek jaag na die punt vir die prys van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons dan, almal wat volmaak is, so gesind wees: en as julle in iets anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar. Nietemin, waartoe ons alreeds gekom het, laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons op dieselfde ding let. Broeders, wees my navolgers, en let op die wat so wandel soos julle ons as voorbeeld het. (Want baie wandel, van wie ek julle dikwels gesê het, en nou selfs wenend vir julle sê dat hulle die vyande van die kruis van Christus is. Wie se einde die verderf is, wie se God hulle buik is, en wie se heerlikheid in hulle skande is, wat aan aardse dinge dink.) Want ons wandel is in die hemel; vanwaar ons ook die Verlosser verwag, die Here Jesus Christus: Wie sal ons veragtelike liggaam verander, sodat dit gevorm kan word soos sy verheerlikte liggaam, volgens die werking waardeur Hy in staat is om selfs alles aan Homself te onderwerp.
FILIPPENSE 3:12-21 Die Boodskap (DB)
Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. Ek span nou eers alles in my in om daardie doel te bereik, juis omdat Jesus sy hand na my uitgesteek en my vasgegryp het. Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ’n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort. So behoort volwasse Christene oor dinge te dink. As party van julle op sekere punte van my verskil, laat God vir julle wys wat julle regtig moet dink. Hoe ook al, laat ons nie nou die verkeerde pad vat nie. Laat ons op die regte pad bly. My broers en susters, doen wat ek gedoen het. Wees my navolgers. Terwyl ek nie daar is nie, moet julle die mense se voorbeeld volg wat die wedloop net soos ek hardloop. Dit is belangrik dat julle die regte mense volg. Ek het dit al baie vir julle gesê en dit maak my eintlik seer om dit weer te moet sê: daar is baie mense wat niks van Jesus hou en van wat Hy alles vir ons gedoen het nie. Mense wat agter daardie klomp aanloop, gaan saam met hulle die afgrond afstort waar hulle vir ewig van God af weg sal wees. Hulle stel mos meer belang daarin om hulleself en hulle eie begeertes te dien as vir God. Hulle spog oor dinge waaroor ’n mens jou eintlik bloedrooi behoort te skaam. Aan God dink hulle nie eens nie, want al wat vir hulle waarde het, is aardse dinge. Hoe anders is ons nie! Wat vir ons saak maak, is die hemelse dinge. Daar lê ons ware vaderland. Uit daardie vaderland sal ons Redder kom. Uit die hemel verwag ons ons Here, Jesus Christus. Hy gaan ons swak menslike liggaam verander. Hy gaan ons liggaam nuut maak soos sy liggaam is na sy opstanding, verhewe en heerlik. Hy sal dit doen omdat Hy baie sterk is, want sy krag oortref alle ander krag. Wat Hy wil, dit kan Hy doen.
FILIPPENSE 3:12-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het! Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee. Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê. As daar enigiets is waaroor julle anders dink, sal God ook dít vir julle duidelik maak. Nietemin, laat ons aanhou loop op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het. Ja, broers en susters, volg my voorbeeld en hou julle oë op die mense wat volgens ons voorbeeld lewe. Want – ek het julle al vroeër gesê, en met groot hartseer moet ek dit nou weer sê – daar is baie wie se lewe wys dat hulle vyande van die kruis van Christus is. Ewige vernietiging is hulle uiteinde, liggaamlike behoeftes is hulle god en skandelike dinge is hulle trots. Al waaraan hulle dink, is aardse dinge. Ons, daarteenoor, het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring.