SPREUKE 1:1-7 - Compare All Versions
SPREUKE 1:1-7 ABA (Bybel vir almal)
Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. Spreuke leer vir jou wysheid. Dit leer vir jou om te weet wanneer mense verstandige dinge sê, en dit leer vir jou om te luister wanneer iemand vir jou die regte dinge leer oor wat goed en reg en regverdig is. Spreuke maak jong mense wat baie min weet, verstandig, sodat hulle sal weet wat die regte dinge is om te doen. Wyse mense moet ook luister na die spreuke, sodat hulle nog meer sal weet. Verstandige mense moet leer, sodat hulle die spreuke en die slim dinge wat wyse mense sê, sal verstaan. Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer. As jy dit doen, dan is jy regtig slim. Dit is dwase wat dink dit is nie belangrik om wysheid te hê en om te leer nie.
SPREUKE 1:1-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
DIE spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels. HERE DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.
SPREUKE 1:1-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
Spreuke van Salomo seun van Dawid, koning van Israel. Dié spreuke is bedoel om mense wysheid te leer en hulle te onderrig sodat hulle sal weet wanneer iemand verstandig praat. So sal hulle 'n behoorlike opvoeding ontvang en 'n sin vir regverdigheid, reg en billikheid. Wie nog nie kennis het nie, sal verstandig word, jongmense sal leer om met kennis en oorleg op te tree. Selfs wyse mense kan na die spreuke luister en so tot dieper insig kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die kuns aanleer om spreuke en sinspelings, woorde en raaisels van wyse mense te begryp. Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.
SPREUKE 1:1-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, die koning van Israel: om vertroud te raak met wysheid en vermaning, om woorde van insig te verstaan; om vermaning wat begrip kweek, te ontvang, begrip vir wat regverdig en billik en reg is; om onkundiges vernuf aan te leer, jongmense kennis en goeie oordeel – 'n wyse sal luister en geleerdheid vermeerder, en 'n verstandige sal leierskap verwerf – om 'n spreuk en 'n gesegde te begryp, die woorde van wyses en hulle raaisels. Ontsag vir die HERE is die begin van kennis; wysheid en vermaning – net sotte verag dit.
SPREUKE 1:1-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel; Om wysheid en tug te ken; om die woorde van begrip waar te neem; Om die onderrig van wysheid, geregtigheid en oordeel en billikheid te ontvang; Om aan die eenvoudiges listigheid te gee, aan die jongman kennis en oorleg. 'n Wyse man sal hoor, en hy sal meer geleerdheid; en 'n man van verstand sal tot wyse raadslae kom. Om 'n spreekwoord en die uitlegging te verstaan; die woorde van die wyses en hulle donker woorde. Die vrees van die HERE is die begin van kennis, maar dwase verag wysheid en tug.
SPREUKE 1:1-7 DB (Die Boodskap)
Die boek Spreuke is in die tyd van Dawid se seun Salomo geskryf. Al die spreuke wil ons wys hoe om te leef. Dit is bedoel om mense wys en gelukkig te maak. Hierdie spreuke moet jy jou eie maak, want dit wil die volgende doen: dit wil jou die kuns van die lewe aanleer, jou met ’n gedissiplineerde lewenstyl help. Dit wil jou leer wat reg en billik is. Dit wil jou insig gee. Dan sal jy ’n goeie aanvoeling hê vir wat reg en gepas is in elke omstandigheid waarin jy beland. Dit wil onervare gelowiges leer hoe om reg te leef. Vir jongmense ook. Dit wil die gelowiges wat klaar weet hoe om reg te leef, nog meer kennis gee en vir dié wat reeds insig het, nog meer lewensvaardighede. So sal hulle al die spreuke nog beter verstaan. Hulle sal snap wat wyse mense sê. Lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie. Iemand wat die Here nie liefhet nie en ook nie weet hoe om reg te leef nie, is dom. Hy verag ook al die spreuke.
SPREUKE 1:1-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel. Die doel van hierdie spreuke is om mense wysheid te leer en hulle te onderrig. Dit sal hulle help om wyse woorde te verstaan. Deur hierdie woorde sal hulle dissipline leer en weet hoe om regverdig, reg en billik op te tree. Iemand wat nog onervare is, sal verstandig word. Die spreuke sal jongmense kennis gee en onderskeidingsvermoë. Laat selfs hulle wat wys is, luister na die spreuke sodat hulle tot dieper insig kan kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die lewenskuns aanleer om die spreuke en sinspelings, die woorde en raaisels van wyse mense te begryp. Kennis begin met eerbied vir die HERE, net dwase verag wysheid en dissipline.