SPREUKE 16:1-33
SPREUKE 16:1-33 Bybel vir almal (ABA)
'n Mens kan planne maak oor wat hy wil doen, maar dit is die Here wat sê wat sal gebeur. 'n Mens dink dat alles reg is wat hy doen, maar die Here kyk of dit waarlik reg is. Jy moet vir die Here vra wat jy moet doen, dan sal jou planne slaag. Die Here het 'n plan met alles wat Hy gemaak het, Hy het ook 'n plan met die mense wat verkeerd doen, Hy sal hulle laat swaarkry. Die Here haat mense wat hoogmoedig is, daardie mense sal hulle straf kry, dit is seker. As jy wil hê die Here moet jou sondes vergewe, dan moet jy doen wat jy belowe en jy moet aanhou glo. As jy die Here respekteer en Hom dien, dan sal dit nie sleg gaan met jou nie. Wanneer die Here tevrede is met 'n mens se lewe, dan laat Hy ook daardie persoon se vyande in vrede met hom lewe. Dit is beter om 'n bietjie te hê wat jy eerlik gekry het as om baie te hê wat jy nie eerlik gekry het nie. 'n Mens kan planne maak oor wat hy wil doen, maar dit is die Here wat besluit wat sal gebeur. Dit is die Here wat vir die koning sê wat hy moet sê, die koning maak nie foute wanneer hy oordeel nie. Die Here wil hê weegskale moet reg weeg, Hy self besluit hoe swaar die gewigte moet wees. Konings haat dit wanneer mense verkeerd doen, want hulle weet dat hulle lank sal kan regeer as mense reg doen. Konings wil hê dat mense die waarheid moet praat, hulle hou van eerlike getuies. Wanneer die koning kwaad word vir jou, dan is jy naby jou dood. As jy wysheid het, dan sal jy probeer om die koning tevrede te hou. Wanneer die koning vriendelik is, dan sal jy aanhou lewe, wanneer hy van jou hou, dan is dit vir jou soos die wolke wat reën bring in die lente. Dit is beter om wysheid te kry as om goud te kry, dit is beter om verstandig te wees as om silwer te wil hê. Eerlike mense loop op 'n pad waar dit nie sleg gaan met hulle nie. As hulle op daardie pad bly, dan hou hulle aan om te lewe. Wanneer iemand hoogmoedig is, dan sal dit gou sleg gaan met hom, wanneer hy dink dat hy beter is as ander mense, dan sal hy gou val. Dit is beter om nederig te wees saam met die mense wat hulleself nie kan beskerm nie, beter as om ander mense se goed te vat en dan saam met hoogmoedige mense te lewe. Dit sal goed gaan met iemand wat doen wat 'n mens vir hom leer, hy sal gelukkig wees as hy glo dat die Here sal doen wat Hy belowe het. As iemand wysheid het, dan weet mense dat hy verstandig is. Sy woorde is soos heuning, ander mense leer graag van hom. As iemand verstandig is, dan hou hy aan om te lewe, maar dwase kan vir 'n mens net dom dinge leer. Iemand wat wysheid het, praat verstandig, ander mense kan by hom leer. Woorde wat lekker is om te hoor, is soos 'n heuningkoek, dit is soet en dit hou 'n mens gesond. 'n Mens dink miskien dat hy reg lewe, maar dan bring dit hom later by die dood. Wanneer 'n werker honger is, dan werk hy hard, sy honger jaag hom sodat hy kan eet. 'n Slegte mens dink en praat net slegte dinge, alles wat hy sê, is soos 'n vuur wat brand. Iemand wat ander mense wil bedrieg, laat mense twis, hy hou aan om te skinder en hy maak vriende kwaad vir mekaar. Iemand wat ander mense altyd wil seermaak en doodmaak, bedrieg sy vriend en hy lei die vriend op 'n verkeerde pad. Wanneer iemand sy oë knip vir jou, dan wil hy iemand bedrieg, wanneer hy niks sê nie, dan het hy klaar besluit om 'n verkeerde ding te doen. Grys hare is soos 'n mooi kroon, 'n mens lewe lank as jy reg lewe. 'n Geduldige mens beteken meer as iemand wat goed oorlog kan maak, 'n mens wat nie gou kwaad word nie, beteken meer as iemand wat 'n stad kan oorwin. Mense kan probeer uitvind wat die regte ding is om te doen, maar dit is die Here wat besluit wat reg is.
SPREUKE 16:1-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. Al die weë van 'n man is suiwer in sy oë, maar die HERE toets die geeste. Laat jou werke aan die HERE oor, dan sal jou planne uitgevoer word. Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE 'n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie. Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die HERE wyk 'n mens af van die kwaad. As die HERE behae het in die weë van 'n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou. Liewer 'n bietjie met geregtigheid, as 'n menigte van inkomste met onreg. Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die HERE rig sy voetstappe. Die beslissing is op die lippe van die koning; in die regspraak handel sy mond nie ontrou nie. 'n Regte weegtoestel en weegskaal kom van die HERE, al die weegstene in die sak is sy werk. Dit is 'n gruwel vir konings om goddeloosheid te doen, want deur geregtigheid word die troon bevestig. Die konings het behae in regverdige lippe, en hulle het hóm lief wat regte dinge spreek. Die grimmigheid van die koning is soos boodskappers van die dood, maar 'n wyse man bring dit tot bedaring. In die vriendelike blik van die koning is lewe, en sy welgevalle is soos 'n wolk van die laat reëns. Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer. Die gemaakte pad van die opregtes is om van die kwaad af te wyk; hy wat op sy wandel ag gee, bewaar sy lewe. Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val. Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards. Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die HERE vertrou, is gelukkig. 'n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die lering. 'n Fontein van die lewe is die verstand vir sy besitter, maar die tugtiging van die sotte is sotheid. Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe. Vriendelike woorde is soos 'n heuningkoek: soet vir die siel en 'n genesing vir die gebeente. Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood. Die honger van die werksman arbei vir hom, want sy mond jaag hom aan. 'n Deugniet grawe 'n kuil van onheil, en op sy lippe is soos 'n brandende vuur. 'n Man van valse streke saai tweedrag, en 'n kwaadstoker skei vriende van mekaar. 'n Man van geweld verlei sy naaste en lei hom op 'n weg wat nie goed is nie. Hy wat sy oë toemaak om valsheid te bedink, wat sy lippe vasknyp, het die kwaad alreeds gedoen. Grysheid is 'n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid. Die lankmoedige is beter as 'n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat 'n stad inneem. In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.
SPREUKE 16:1-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af. In sy eie oë is alles wat 'n mens doen, reg, maar die Here ondersoek die gesindheid. Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. Die Here het alles gemaak met 'n doel, ook die goddelose vir die dag van straf. Die Here het 'n afsku van 'n verwaande mens; dit staan vas: so 'n mens sal nie ongestraf bly nie. Liefde en trou bring versoening waar daar verkeerd gehandel is; kwaad word vermy deur die Here te dien. As die Here tevrede is met 'n mens se lewe, laat Hy selfs so 'n mens se vyande in vrede met hom lewe. Liewer min hê en reg lewe as baie inkomste hê deur onreg. 'n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. As die koning praat, is dit met Goddelike gesag; as hy uitspraak lewer, maak hy nie fout nie. Die norme vir die regspraak kom van die Here af; Hy bepaal die maatstawwe. Konings het 'n afsku van verkeerde dade, want 'n troon word deur regverdigheid bestendig. Eerlike mense geniet die koning se goedgesindheid; hy hou van mense wat die waarheid praat. Die woede van die koning dra die boodskap van die dood; 'n wyse mens bring dié woede tot bedaring. As die koning vriendelik is, is jy seker van jou lewe; sy goedgesindheid is soos 'n wolk wat lentereëns bring. Probeer liewer wysheid bekom as goud, liewer insig as silwer. Opregte mense vermy die kwaad op hulle lewensweg; wie nougeset lewe, hou homself in die lewe. Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val. Liewer eenvoud saam met nederiges as om saam met hoogmoediges van roof te lewe. Wie ag gee op die woorde van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed. 'n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer. Insig is 'n bron van lewe vir wie dit het; onderrig deur dwase bly dwaasheid. 'n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens. Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood. 'n Werker se honger laat hom werk, sy behoefte aan kos dryf hom. 'n Kwaadwillige mens bring net teenspoed; wat hy sê, is soos 'n verterende vuur. Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis, iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende. Iemand wat niks ontsien nie, mislei sy naaste en laat hom 'n verkeerde pad loop. Wie met sy oog knik, wil die waarheid verdraai; wie sy lippe saampers, is vasbeslote oor 'n boosheid. Ouderdom is 'n sierlike kroon; dit word bereik deur dié wat reg lewe. 'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter, 'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem. Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom.
SPREUKE 16:1-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Mens kry sy gedagtes agtermekaar, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. Al die weë van 'n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die HERE. Vertrou wat jy doen aan die HERE toe, dan sal jou planne standhou. Die HERE het sy doel met alles; selfs 'n goddelose bestaan vir die dag van onheil. Afstootlik vir die HERE is elkeen met 'n hoogmoedige hart; dit staan vas: So iemand sal nie ongestraf bly nie. Deur troue liefde en waarheid word sondeskuld bedek, en deur ontsag vir die HERE vermy 'n mens die kwaad. Wanneer die HERE tevrede is met 'n mens se lewenspaaie, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede maak. 'n Bietjie, saam met geregtigheid, is beter as 'n groot inkomste verkry deur onreg. Die hart van 'n mens beplan sy pad, maar die HERE bepaal sy voetstappe. 'n Orakelspreuk is op die lippe van 'n koning; by 'n vonnis mag sy mond nie ontrou wees nie. 'n Skaal, 'n betroubare weegskaal, is van die HERE; al die gewigte in die sak is sy handewerk. Afstootlik vir konings is die pleeg van 'n goddelose daad, want deur geregtigheid staan 'n troon vas. Regverdige lippe stel konings tevrede, en hulle het die een lief wat die regte dinge sê. Die woede van 'n koning is 'n boodskapper van die dood, maar 'n wyse mens bring dit tot bedaring. In die stralende gesig van 'n koning is daar lewe, en sy goedkeuring is soos die wolke van laatreëns. Die verkryging van wysheid – hoeveel beter is dit nie as goud nie! Die verkryging van insig is verkieslik bo silwer. Die gebaande weg van opregtes is om weg te draai van die kwaad; wie sy lewe wil beskerm, gee ag op sy lewenspad. Voor ineenstorting is daar trots, en voor die val is daar 'n hooghartige gees. 'n Nederige gees saam met magteloses is beter as om buit te verdeel saam met hovaardiges. Wie hom toespits op 'n saak, sal sukses behaal, en wie op die HERE vertrou, is gelukkig. Wie wys van hart is, word verstandig genoem, en soetheid van lippe bevorder onderrig. Begrip is 'n bron van lewe vir die besitters daarvan, maar die vermaning van sotte is sotheid. Die hart van 'n wyse maak sy mond verstandig en bevorder die onderrig op sy lippe. Vriendelike woorde is 'n heuningkoek wat oorloop – soet vir die keel en helend vir die gebeente. Daar is 'n pad wat vir 'n mens reg lyk, maar dit eindig by paaie na die dood. Die eetlus van 'n werker laat hom hard werk; ja, sy mond spoor hom aan. 'n Deugniet grawe onheil uit, en op sy lippe is dit soos 'n versengende vuur. 'n Verdorwe mens ontketen stryd, en 'n kwaadstoker skei boesemvriende. 'n Man van geweld verlei sy medemens, en laat hom 'n pad loop wat nie goed is nie. Wie sy oë toeknyp, is besig om verdorwe dinge te beplan; wie sy lippe saampers, het die kwaad reeds gedoen. 'n Sierlike kroon is grysheid; op die pad van geregtigheid word dit gevind. 'n Geduldige mens is beter as 'n held, en wie sy gees beheers, is beter as iemand wat 'n stad inneem. Die lot word gewerp in die vou van die kleed, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.
SPREUKE 16:1-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die voorbereiding van die hart in die mens en die antwoord van die tong is van die HERE. Al die weë van 'n mens is rein in sy eie oë; maar die HERE weeg die geeste. Laat jou werke aan die HERE oor, en jou gedagtes sal vasstaan. Die HERE het alles vir Homself gemaak, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE 'n gruwel; Deur goedertierenheid en waarheid word die ongeregtigheid gereinig, en deur die vrees van die HERE wyk mense af van die kwaad. Wanneer die weë van 'n mens die HERE behaag, laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hê. Beter is 'n bietjie met geregtigheid as groot inkomste sonder reg. 'n Man se hart beraam sy weg, maar die HERE rig sy voetstappe. 'n Goddelike vonnis is op die lippe van die koning: sy mond oortree nie in die oordeel nie. A Regverdige gewig en weegskaal behoort aan die HERE: al die gewigte van die sak is sy werk. Dit is 'n gruwel vir konings om goddeloosheid te pleeg, want die troon is gevestig deur geregtigheid. Regverdige lippe is die vreugde van konings; en hulle het Hom lief wat reg spreek. Die toorn van 'n koning is soos boodskappers van die dood, maar 'n wyse man sal dit kalmeer. In die lig van die koning se aangesig is lewe; en sy welbehae is soos 'n wolk van laat reëns. Hoeveel beter is dit om wysheid te verkry as goud! en om eerder insig te kry om uitverkies te word as silwer! Die grootpad van die opregtes is om van die kwaad af te wyk; hy wat sy weg bewaar, bewaar sy siel. Hoogmoed gaan voor vernietiging, en 'n hoogmoedige gees voor 'n val. Dit is beter om nederig te wees met die nederiges, as om buit te deel met die hoogmoediges. Wie 'n saak met wysheid hanteer, sal die goeie vind; en hy wat op die HERE vertrou, gelukkig is hy. Die wyse van hart sal verstandig genoem word, en die soetheid van die lippe vermeerder geleerdheid. Insig is 'n fontein van die lewe vir hom wat dit het, maar die tug van die dwase is dwaasheid. Die hart van die wyse leer sy mond en voeg geleerdheid by sy lippe. Aangename woorde is soos 'n heuningkoek, soet vir die siel en gesondheid vir die gebeente. Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is die weë van die dood. Hy wat arbei, arbei vir homself; want sy mond begeer dit van hom. 'n Goddelose man grawe onheil op, en op sy lippe is daar soos 'n brandende vuur. 'n Onverstandige man saai twis, en 'n fluisteraar skei die hoofvriende. 'n Gewelddadige man verlok sy naaste en lei hom op 'n weg wat nie goed is nie. Hy sluit sy oë om verkeerde dinge te bedink; deur sy lippe te beweeg, bring hy onheil uit. Die grys kop is 'n kroon van heerlikheid as dit op die weg van geregtigheid gevind word. Hy wat lankmoedig is, is beter as die held; en hy wat sy gees heers as hy wat 'n stad inneem. Die lot word in die skoot gegooi; maar die hele beskikking daarvan is van die HERE.
SPREUKE 16:1-33 Die Boodskap (DB)
’n Mens maak baie planne, maar die Here besluit of dit suksesvol sal wees of nie. Alles wat ’n mens doen, lyk vir hom reg. Maar die Here weet waarom ons dit aanpak. Ken die Here in alles wat jy wil doen, dan sal Hy jou help om dit uit te voer. Die Here het alles vir ’n doel gemaak, selfs die slegte mense se dag van oordeel. Die Here verag arrogante mense wat op ander trap. Hulle sal sekerlik nog gestraf word. Liefde kan skewe verhoudings weer regmaak. Respek vir mekaar laat ’n vriendskap blom. Liefde vir die Here hou ’n mens van die kwaad af weg. As die Here iemand liefhet, sal sy vyande dit raaksien. Hulle sal op goeie voet met hom wil wees. Liewer eerlik wees en min besit as ’n sak vol geld wat oneerlik verkry is. Elke mens beplan sy lewe, maar alles hang van die Here af. Eerlike regters is vir die Here belangrik. Hulle moet regverdige beslissings lewer. Winkeleienaars en kafeebase moenie mense uitbuit nie. Die Here haat ’n kullery. Leiers moet korrupsie met wortel en tak uitroei. Goeie leiers is altyd eerlik. ’n Leier moet die waarheid liefhê. Vir eerlike mense moet hy respek hê. ’n Woedende baas kan jou groot ellende veroorsaak. Tree altyd kalm op. So sal jy ’n moeilike situasie goed kan hanteer. Wie in die baas se goeie boekies is, kan goeie dinge verwag. Sy guns kan vir jou baie beteken. Om reg te leef is baie meer werd as goud. Wie weet hoe om elke dag gelukkig te lewe is ryker as die rykste mense. Wie die Here volg, bly uit die moeilikheid. Wie gelukkig wil wees, sal versigtig leef. Wie dink hy is beter as ander, word verneder. Trots lei tot ondergang. Dit is beter om niks van jouself te dink nie en saam met die eenvoudiges te leef, as om baie geld te hê en saam met hoogmoediges te bly. Wie na die Woord luister, sal die goeie van die lewe ervaar. Wie op die Here vertrou, is lewenslank gelukkig. Mense respekteer iemand wat wys leef. Iemand wat mooi praat, oortuig mense maklik. Vir iemand wat weet hoe om reg te leef is wysheid ’n onuitputlike bron van kennis. ’n Domme sal nooit leer nie. Hy sal altyd die verkeerde dinge doen. Soos ’n mens dink, praat hy ook. ’n Goeie spreker kan mense baie dinge leer. Mooi woorde is soos iets lekkers. Aangenaam om te eet. Goed vir die liggaam. Soms lyk ’n lewenstyl goed en reg. Uiteindelik bring dit net ellende. Om te leef moet jy werk. Honger laat ’n mens werk soek. Iemand wat nie wil werk nie, is sleg. Al wat hy doen, is om verkeerde dinge te beplan. Sy woorde vernietig mense se lewens. Mense wat ompaaie met die waarheid loop, veroorsaak oral rusie. ’n Skindertong vernietig mooi vriendskappe. ’n Hartelose mens gee vir niemand om nie. Selfs sy beste vriend maak hy seer. Wie skelmpies vir ander knipoog, beplan iets verkeerds. Wie met sy hand op sy mond sit, swyg oor wat verkeerd is. Iemand wat lewenslank naby aan die Here geleef het, se oudag is mooi. Wie sy humeur kan beteuel, is sterker as die sterkste mens. Wie sy drange en emosies kan beheer, is magtiger as baie magtiges. ’n Mens wik en weeg. God sê egter die laaste woord.
SPREUKE 16:1-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mense kan planne maak, maar die finale besluit kom van die HERE af. Alles wat hy doen, kan vir die mens reg lyk. Die HERE weet egter waarom hy dit alles doen. Alles wat jy doen, moet jy opdra aan die HERE, dan sal jou planne slaag. Die HERE het alles gemaak vir ’n bepaalde doel, ook die goddelose vir die dag van straf. Die HERE verafsku elke verwaande mens. Maar wees verseker, hulle sal nie ongestraf bly nie. Liefde en lojaliteit bring versoening vir oortredings. Kwaad word vermy wanneer daar respek is vir die HERE. As die HERE gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe. Dis beter om arm te wees en regverdig, as om ryk en oneerlik te wees. ’n Mens beplan sy koers, maar die HERE bepaal sy bestemming. As die koning praat, is dit met Goddelike gesag. Sy uitsprake mag nooit onregverdig wees nie. Die HERE vereis eerlikheid en billikheid in die handel. Hy bepaal die maatstawwe daarvoor. Die koning verafsku misdade. Sy regering berus op regverdigheid. Die koning is tevrede wanneer mense eerlik praat. Hy stel dit op prys as mense die waarheid praat. Die koning se woede is ’n draer van die dood. ’n Wyse mens probeer sy woede afkoel. As die koning glimlag, is daar lewe. Sy goedgesindheid is soos wolke wat lentereëns bring. Om wysheid te bekom, is beter as goud, en insig is beter as silwer. Die regverdige se pad stuur weg van die kwaad. Iemand wat daardie pad volg, beveilig sy lewe. Hoogmoed lei tot ondergang. Hooghartigheid kom net voor die val. Eerder nederig lewe saam met armes as om buit te deel met hoogmoediges. Hy wat na onderrig luister, sal voorspoed geniet. Dit gaan goed met elkeen wat op die HERE vertrou. Iemand wat wys is, word ’n verstandige genoem. As hy welsprekend is, kan hy ook ander leer. Vir iemand met insig is dit die bron van sy lewe. Om dwase tereg te wys is dwaasheid. ’n Mens wat wys is, sê verstandige dinge. Hy kan ander mense onderrig. Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir die lewe. Dit kan lyk of ’n mens reg lewe. Agterna gesien is dit die pad na die dood. ’n Werker se honger motiveer hom om te werk, sy behoefte aan kos dryf hom. ’n Nikswerd mens stook kwaad, wat hy sê, is soos ’n vernietigende vuur. Iemand wat leuens verkoop, sit rusie aan die gang. Iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende. Iemand wat geweld voorstaan, mislei sy naaste en lei hom op ’n verkeerde pad. Iemand wat met sy oog knik, is besig om slinkse planne uit te dink. Hy pers sy lippe saam, so vasberade is hy oor sy boosheid. Grys hare is soos ’n pragtige kroon, ’n mens kry dit by persone wat reg lewe. Dis beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ’n stad in te neem. Mense kan lootjies trek, maar die HERE sal bepaal wat die uitkoms sal wees.