SPREUKE 17:1-28
SPREUKE 17:1-28 Bybel vir almal (ABA)
Dit is beter om net 'n droë stukkie kos te hê as om 'n huis vol vleis te hê waar die mense baklei. 'n Verstandige slaaf sal regeer oor 'n seun wat niks reg doen nie. Die slaaf sal saam met daardie seun se broers die pa se goed erf. 'n Mens smelt silwer in 'n pot en jy smelt goud in 'n oond, maar die Here toets mense se harte. Iemand wat verkeerde dinge wil doen, luister na mense wat slegte dinge sê. Iemand wat leuens vertel, luister na mense wat alles wil verwoes. Wanneer jy vir 'n arm mens lag, dan beledig jy vir God wat die arm mens gemaak het. As jy bly is wanneer iemand anders swaarkry, dan sal die Here jou straf. Kleinkinders laat oumense soos konings voel, en kinders is trots op hulle ouers. 'n Mens dink dat 'n dwaas nie mooi sal praat nie, 'n mens dink ook dat 'n belangrike mens nie sal lieg nie. Iemand wat presente gee sodat mense verkeerde dinge moet doen, dink die presente sal hom laat slaag oral waar hy gaan. Iemand wat maak of hy nie sien wanneer iemand anders iets teen hom doen nie, is iemand wat lief is vir mense. Iemand wat vertel wat ander mense oor mekaar sê, laat vriende kwaad word vir mekaar. 'n Verstandige mens luister wanneer iemand met hom raas, maar 'n dwaas luister nie, hy luister ook nie wanneer hulle hom 100 maal met 'n stok slaan nie. 'n Slegte mens wil altyd opstandig wees, maar daar sal iemand kom wat hom wreed sal straf. Dit is gevaarlik om naby 'n beer-wyfie te kom wat kwaad is omdat haar kleintjies dood is, maar dit is slegter om 'n dwaas te ontmoet wat dom dinge doen. Wanneer jy slegte dinge doen aan mense wat goed was vir jou, dan sal dit altyd sleg gaan met jou huisgesin. Twis begin soos wanneer water begin lek, dit is beter dat jy ophou voordat die twis begin. Die Here haat dit wanneer iemand sê dat 'n skuldige mens onskuldig is, en Hy haat dit wanneer iemand sê dat 'n onskuldige mens skuldig is. 'n Dwaas het miskien geld om wysheid te koop. Sal dit hom help? Nee, want hy het nie verstand nie. Jy kan altyd weet dat 'n vriend lief sal wees vir jou en dat 'n broer daar is om te help wanneer dit sleg gaan met jou. 'n Mens wat nie verstand het nie, sal borg staan en sê dat hy sy vriend se skuld sal betaal. Iemand wat graag ander mense kwaad maak, hou van twis. Wanneer iemand dink dat hy beter is as ander mense, dan sal dit gou sleg gaan met hom. Dit sal nie goed gaan met 'n mens wat vals is nie. As hy ander mense wil bedrieg, dan sal dit sleg gaan met hom. 'n Mens is hartseer wanneer jou kind 'n dwaas is, jy het dan niks waaroor jy bly kan wees nie. 'n Gelukkige mens is ook 'n gesonde mens, maar 'n mens wat moedeloos is, word siek. 'n Mens wat verkeerd doen, neem geld wat iemand skelm vir hom gee, en dan oordeel hy nie reg nie. 'n Verstandige mens dink hoe hy wysheid kan kry, maar 'n dwaas dink hoe hy die hele aarde kan kry. Wanneer ouers 'n kind het wat 'n dwaas is, dan is hulle hartseer en teleurgesteld. Dit is verkeerd wanneer 'n onskuldige persoon boete moet betaal, dit is ook verkeerd om 'n belangrike persoon te laat slaan wanneer hy eerlik is. Iemand wat baie weet, praat nie baie nie, 'n verstandige persoon word nie gou kwaad nie. Mense dink iemand het wysheid wanneer hy nie praat nie, hulle dink hy is verstandig wanneer hy stilbly, hulle dink dit ook wanneer hy 'n dwaas is.
SPREUKE 17:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
BETER is 'n stuk droë brood en rus daarby as 'n huis vol offermaaltye met getwis. 'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel. Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die HERE toets die harte. Die kwaaddoener gee ag op 'n bedrieglike lip, 'n leuenaar luister na 'n tong wat onheil stig. Hy wat die arme bespot, versmaad sy Maker; hy wat bly is oor 'n ongeluk, sal nie ongestraf bly nie. Kindskinders is 'n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader 'n eer. Aanmatigende taal pas nie by 'n dwaas nie, hoeveel minder leuentaal by 'n edele! Kosbare edelgesteentes is die omkoopgeskenk in die oë van sy besitter; oral waar hy heengaan, sal hy slaag. Wie 'n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat 'n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar. 'n Berisping gaan by 'n verstandige dieper in as om 'n dwaas honderd maal te slaan. Die wederstrewige soek net onheil, maar 'n wrede boodskapper word teen hom uitgestuur. Laat 'n beer wat van kleintjies beroof is, 'n mens ontmoet, maar nie 'n dwaas in sy sotheid nie. Hy wat kwaad vir goed vergelde, die kwaad sal uit sy huis nie wyk nie. Die begin van 'n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek. Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die HERE 'n gruwel. Waarom tog is daar geld in die hand van 'n dwaas om wysheid te koop terwyl hy geen verstand het nie? Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood. Dit is 'n verstandelose mens wat handslag gee, wat borg staan vir sy naaste. Wie twis liefhet, het oortreding lief; hy wat sy deur hoog maak, soek verbreking. Wie verkeerd van hart is, vind die goeie nie; en hy wat vals is met sy tong, val in die ongeluk. Hy wat 'n dwaas verwek, vir hom sal dit 'n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie. 'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog. Die goddelose neem 'n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig. Die verstandige hou die wysheid voor oë, maar die oë van die dwaas is by die einde van die aarde. 'n Dwase seun is 'n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het. Is dit alreeds nie goed om die regverdige te beboet nie — om edeles te slaan is onbetaamlik. Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand. Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.
SPREUKE 17:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby. 'n Verstandige slaaf sal gesag kry oor 'n seun wat 'n verleentheid is en sal 'n erfgenaam word saam met die seun se broers. Silwer word in 'n smeltkroes gelouter en goud in 'n oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets. Wie op onreg uit is, luister gretig na kwaadwillige woorde; wie van valsheid hou, hoor graag woorde wat verderf saai. Wie met 'n arm mens spot, beledig sy Maker; wie hom verheug oor die ongeluk van 'n ander, sal self nie vrykom nie. Kleinkinders is vir oumense 'n trots; vaders is vir hulle seuns 'n sieraad. Verstandige woorde soek jy nie by 'n dwaas nie, nog minder leuens by 'n man van aansien. Vir wie dit gee, het omkoopgeskenke towerkrag; vir hom moet dit sukses verseker waar hy ook gaan. Wie 'n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge; wie 'n saak bly ophaal, bring verwydering tussen vriende. 'n Enkele dreigement maak meer indruk op 'n verstandige mens as honderd houe op 'n dwaas. 'n Slegte mens is net op kwaad uit, maar iemand sal gestuur word om hom te straf. 'n Mens kan liewer 'n beerwyfie raakloop wat van haar kleintjies beroof is, as 'n dwaas met sy sotheid. As jy goed met kwaad vergeld, sal die kwaad nooit uit jou huis wyk nie. Om rusie te begin, is om 'n damwal te breek; staak liewer die getwis voor die vloed jou tref. Die Here het 'n afsku van wie die skuldige onskuldig verklaar én van wie die onskuldige skuldig verklaar. Watter nut het dit as 'n dwaas geld in die hand het om wysheid te koop en hy het nie verstand nie? Op 'n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood. Dit is 'n mens sonder insig wat borg staan, wat instaan vir die skuld van sy naaste. Wie hou van aanstoot gee, hou van rusie; wie homself hoog aanslaan, soek sy eie ondergang. 'n Vals mens sal nie voorspoed hê nie; wie die waarheid verdraai, sal ondergaan. Daar wag hartseer vir die vader van 'n dwaas; wie 'n ongemanierde seun het, het geen vreugde nie. 'n Vrolike mens is 'n gesonde mens, 'n neerslagtige mens raak uitgeput. 'n Goddelose mens bied omkoopgeskenke aan en verdraai die reg. 'n Verstandige mens hou hom besig met wysheid, maar 'n dwaas se gedagte dwaal doelloos rond. 'n Onverstandige seun is vir sy ouers 'n ergernis, hy is vir hulle 'n bitter verdriet. Selfs al beboet jy 'n onskuldige mens net, is dit verkeerd, en om 'n man van aansien te laat slaan, druis in teen die reg. Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees; 'n mens met insig bly kalm. As 'n dwaas nie praat nie, kan selfs hy aangesien word vir 'n wyse, en as hy sy mond toehou, vir 'n verstandige mens.
SPREUKE 17:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Stukkie droë brood, met rus daarby, is beter as 'n huis vol •maaltydoffers, met 'n getwis daarby. 'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en sal saam met die broers deel in die erfenis. 'n Smeltkroes is vir silwer, en 'n smeltoondjie vir goud, maar die HERE toets harte. 'n Kwaaddoener gee aandag aan lippe vol boosheid; 'n leuenaar spits sy oor vir 'n tong vol vernietiging. Wie 'n arme bespot, beledig sy Maker; wie bly is oor teenspoed, sal nie ongestraf bly nie. Die kroon van oumense is kleinkinders, en die roem van kinders is hulle ouers. Breedsprakigheid pas nie by 'n nikswerd nie – hoeveel minder nog leuentaal by 'n vooraanstaande persoon! 'n Omkoopgeskenk is 'n gelukbringer in die oë van wie dit besit – waar hy hom ook al heen wend, hy gaan sukses behaal! Wie 'n oortreding bedek, streef na liefde, maar wie 'n saak telkens ophaal, skei boesemvriende. 'n Dreigement maak 'n groter indruk op iemand met insig as honderd houe op 'n dwaas. 'n Slegte mens streef net na opstand, en 'n hartelose boodskapper word teen hom uitgestuur. 'n Beer van haar kleintjies beroof kan eerder op 'n mens afkom, as 'n dwaas in sy sotheid. As iemand goed met kwaad vergeld, sal onheil nie sy huis verlaat nie. Die begin van 'n stryd is water wat deurbreek. Laat dit vaar voor die getwis losbars! Hy wat 'n goddelose vryspreek, en hy wat 'n regverdige skuldig verklaar, is albei afstootlik vir die HERE. Waarom is daar geld in 'n dwaas se hand? Is dit om wysheid te koop, terwyl hy geen verstand het nie? 'n Vriend betoon te alle tye liefde, en 'n broer is gebore vir tye van nood. 'n Mens sonder verstand gee hand; hy staan borg vir sy medemens. Wie van oortreding hou, hou van rusie; wie sy ingang hoog bou, vra vir ineenstorting. Wie 'n valse hart het, vind nie die goeie nie, en wie bedrieglik met sy tong is, beland in die moeilikheid. Wie 'n dwaas verwek – tot verdriet is dit vir hom; en die vader van 'n nikswerd sal geen blydskap ervaar nie. 'n Vrolike hart is goed vir herstel, maar 'n neerslagtige gees sal die gebeente uitdroog. 'n Omkoopgeskenk uit die vou van 'n kleed – 'n goddelose aanvaar dit om die reg te dwarsboom. Iemand met insig hou wysheid voor oë, maar die oë van 'n dwaas is gerig op die eindes van die aarde. 'n Dwase seun is 'n ergernis vir sy vader, en 'n bitterheid vir haar wat hom in die wêreld gebring het. Om 'n regverdige 'n boete op te lê, is alreeds nie goed nie; om vooraanstaandes te slaan, druis in teen wat reg is. Wie sy woorde terughou is vertroud met kennis, en wie grootmoedig van gees is, is 'n skerpsinnige mens. Selfs 'n sot wat stilbly, word as wys beskou, as verstandig, wanneer hy sy lippe dig hou.
SPREUKE 17:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Beter is 'n droë stukkie en stilte daarby as 'n huis vol offers met twis. 'n Wyse dienskneg sal heers oor 'n seun wat skande maak, en hy sal 'n deel van die erfdeel onder die broeders hê. Die pot is vir silwer en die oond vir goud, maar die HERE toets die harte. 'n Goddelose dader gee ag op valse lippe; en 'n leuenaar luister na 'n stoute tong. Wie met die arme spot, smaad sy Maker; en hy wat bly is oor rampe, sal nie ongestraf bly nie. Kinderkinders is die kroon van ou mense; en die heerlikheid van die kinders is hulle vaders. Uitstekende spraak word nie 'n dwaas nie, nog minder 'n vors valse lippe. 'n Geskenk is soos 'n edelsteen in die oë van hom wat dit het; Hy wat 'n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat 'n saak herhaal, skei baie vriende. 'n Teregwysing kom meer in 'n wyse man as honderd slae in 'n dwaas. 'n Bose soek net opstandigheid; daarom sal 'n wrede boodskapper teen hom gestuur word. Laat 'n beer wat van haar kleintjies beroof is, 'n man ontmoet, eerder as 'n dwaas in sy dwaasheid. Wie kwaad met goed vergeld, die kwaad sal nie uit sy huis wyk nie. Die begin van twis is soos wanneer 'n mens water laat uitgaan; laat dus die twis af voordat daar ingemeng word. Hy wat die goddelose regverdig, en hy wat die regverdige veroordeel, hulle is altwee vir die HERE 'n gruwel. Waarom is daar 'n prys in die hand van 'n dwaas om wysheid te verkry, aangesien hy geen hart daarvoor het nie? 'n Vriend het te alle tye lief, en 'n broer word vir teëspoed gebore. 'n Man sonder verstand slaan die hand en word borg in die teenwoordigheid van sy vriend. Hy het oortreding lief wat twis liefhet, en hy wat sy poort verhef, soek verderf. Hy wat 'n verkeerde hart het, vind niks goeds nie; en hy wat 'n verkeerde tong het, val in onheil. Hy wat 'n dwaas verwek, doen dit tot sy smart, en die vader van 'n dwaas het geen vreugde nie. 'n Vrolike hart doen goed soos 'n geneesmiddel, maar 'n gebroke gees laat die gebeente droog word. 'n Bose neem 'n gawe uit die boesem om die weë van oordeel te verdraai. Wysheid is voor hom wat verstand het; maar die oë van 'n dwaas is aan die eindes van die aarde. 'n Dwase seun is 'n droefheid vir sy vader en bitterheid vir haar wat hom gebaar het. Ook om die regverdige te straf, is nie goed nie, en ook nie om vorste vir billikheid te verslaan nie. Wie kennis het, spaar sy woorde, en 'n man van verstand is van 'n voortreflike gees. Selfs 'n dwaas, as hy swyg, word as wys geag; en hy wat sy lippe toehou, word beskou as 'n man van verstand.
SPREUKE 17:1-28 Die Boodskap (DB)
Eerder met min klaarkom en gelukkig wees, as om oorvloed te hê en heeltyd te baklei. Iemand wat niks het nie, kan deur harde werk baie bereik. Hy kan selfs ’n hoë pos beklee en belangrike besluite neem. Soos ’n onderwyser jou kennis toets, so toets die Here ons ook. Hy wil vasstel hoe eg ons liefde vir Hom is. ’n Mens wat die Here verag, luister graag na smerige praatjies oor seks, geweld en moord. Hy kan nooit genoeg daarvan kry nie. ’n Leuenaar kan ook nie met sy gelieg ophou nie. Hy hou net aan en aan. Wie vir armes se eenvoud lag, spot met die Here. Wie hom in hulle ellende verlustig, sal gestraf word. Kleinkinders verskaf hulle oupas en oumas hope geluk en vreugde. Kinders wat trots is op hulle ouers, staan sterk. Keurige taal hoor jy nie sommer by ’n domme nie. Leuens en vuiltaal verwag jy tog nie van iemand wat jy respekteer nie. Omkoopgeld help mense. Dit kan baie deure vir hulle oopsluit. As jy mense vergewe wat jou te kort doen of sleg van jou praat, verstaan jy God se liefde baie goed. Wie iemand altyd verwyt of hom aan sy skuld herinner, verloor gou al sy vriende. ’n Persoon wat die Here ken, luister as iemand hom op sy foute wys. Hy neem dit ernstig op en dink daaroor na. ’n Dom mens kan jy slaan en slaan, maar hy hou aan om verkeerd te doen. Moeilike mense maak met almal rusie. Op ’n dag sal hulle nog hulle moses teëkom. ’n Woedende leeuwyfie wie se kleintjies van haar af weggeneem is, is nie naastenby so gevaarlik soos al die onsin wat ’n dom mens praat nie. As jy mense wat vir jou lief is, sleg behandel, vernietig jy eintlik jouself. Jy sal ’n baie ongelukkige mens word. ’n Rusie begin altyd klein en word dan erger en erger. Dit is soos ’n damwal. Eers is die lek klein, en dan breek die wal. Keer die rusie voordat dit te ver gaan. Die Here hou niks van mense wat verkeerde dinge goedpraat en gelowiges afkraak nie. Wysheid kan ’n mens nêrens koop nie. Net mense wat nie die lewe ken nie, dink hulle kan groot somme geld daarvoor betaal. Kies jou vriende versigtig. ’n Ware vriend sal jou deur dik en dun bystaan. Soos ’n goeie broer is hy altyd by jou. ’n Mooiweersvriend sal jou net ondersteun terwyl dit goed gaan. Pas op vir finansiële risiko’s, vir lenings waaraan jy swaar afbetaal. Moet tog nie vir iemand borg teken nie. Dit is ’n dom ding. Jy gaan aan die kortste ent trek. Wie mense beledig, lok rusie uit. Wie baie van homself dink, word verneder. ’n Mens wat met niks tevrede is nie, sê nooit iets goeds van ander nie. Hy kraak net heeltyd af. Niks is ooit reg nie. Later wil niemand met hom bevriend wees nie. Dit is nie lekker vir ouers as ’n kind die Here verwerp en nie weet hoe om reg te leef nie. Dit maak hulle diep ongelukkig. Vreugde en geluk is goed vir jou gesondheid. Depressie kan jou knak. ’n Slinkse mens kan maklik omgekoop word. Hy sal selfs die waarheid vir ’n paar rand verdraai. Die gelowige wil graag reg leef. Hy soek heeltyd na wysheid. ’n Dwaas stel net in oppervlakkighede belang. ’n Ongelowige kind is vir sy ouers ’n groot hartseer. Partykeer is hy ook ’n groot verleentheid vir hulle. Dit is sleg as onskuldige mense ly, as gerespekteerde mense onbillik behandel word. Wie let op wat hy sê, verstaan wat wysheid is. Wie sy humeur in toom hou, ken die regte lewenstyl. Selfs ’n dwaas tree reg op wanneer hy sy praatlus bedwing. As hy geheime kan hou, is hy slim.
SPREUKE 17:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is beter om in vrede droë brood te eet as om by ’n fees te sit in ’n huis waar daar gestry word. ’n Verstandige slaaf kan heers oor ’n seun wat skande maak. Hy sal saam met die broers hulle pa se goed erf. Silwer word in vuur gesuiwer en goud in ’n oond. Maar die HERE toets die hart van ’n mens. Moeilikheidmakers luister graag na kwaadwillige woorde. Leuenaars gee aandag aan bedrieglike idees. Iemand wat ’n arm mens spot, beledig sy Maker. Iemand wat lekker kry oor ’n ander se ongeluk, sal self nie daarvan vrykom nie. Kleinkinders is vir grootouers soos ’n koning se kroon. Pa’s is vir hulle seuns ’n trots. Welsprekendheid pas nie by ’n dwaas nie. Nog minder pas leuens by ’n man van aansien. Omkoopgeskenke sluit deure oop vir dié wat dit gee, dit maak hom suksesvol oral waar hy gaan. Iemand wat stilbly oor onreg teenoor hom, bevorder liefde tussen mense. Om gedurig daaroor te praat, dryf vriende uitmekaar. Een teregwysing bereik meer by ’n verstandige mens as 100 houe oor die rug van ’n dwaas. Hulle wat daarop uit is om kwaad te doen, veroorsaak rebellie. Hulle sal genadeloos gestraf word. Dis beter om ’n beer teë te kom wat van kleintjies beroof is, as om ’n dwaas met sy sotheid te konfronteer. As jy goed met kwaad vergeld, sal kwaad nooit uit jou huis verdwyn nie. Om rusie aan die gang te sit, is soos om ’n sluis oop te trek. Staak liewer die stryery voor die vloed jou tref. Die HERE verafsku twee dinge: iemand wat die skuldige onskuldig verklaar; en iemand wat onskuldige mense skuldig verklaar. Dit het geen nut om vir ’n dwaas geld te gee om wysheid te koop nie. Hy het geen behoefte aan wysheid nie. Op ’n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help wanneer daar probleme is. Iemand wat borg staan, het nie verstand nie. Net só ’n persoon sal instaan vir die skuld van sy naaste. Iemand wat bakleierig is, hou van sonde. Iemand wat arrogant is, soek sy eie ondergang. ’n Huigelagtige mens sal nie voorspoed hê nie. Hy wat die waarheid verdraai, stort homself in die ongeluk. Die pa van ’n dwaas ervaar baie hartseer. Daar is geen vreugde vir ’n pa as sy seun ’n dwaas is nie. ’n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ’n Neerslagtige mens tap jou krag. ’n Goddelose mens aanvaar omkoopgeskenke en verdraai so die reg. ’n Verstandige mens hou wysheid goed in die oog. ’n Dwase mens se gedagtes dwaal doelloos rond. ’n Onverstandige seun is vir sy pa ’n ergernis. Vir sy ma is hy ’n bitter verdriet. Dis verkeerd om ’n onskuldige ’n boete op te lê, of om ’n persoon van aansien te straf omdat hy eerlik is. Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm. Wanneer ’n dwaas stilbly, kan dit lyk of hy wys is; en as hy sy mond toehou, lyk hy soos iemand met insig.