SPREUKE 3:5-8
SPREUKE 3:5-8 Bybel vir almal (ABA)
Jy moet met jou hele hart glo dat God jou altyd sal help, jy moenie dink dat jy self weet wat om te doen nie. Jy moet vir God vra om jou te lei in alles wat jy doen, dan sal Hy jou altyd lei. Jy moenie dink jy het die wysheid nie, jy moet die Here dien en jy moenie verkeerd doen nie. Dan sal jy heeltemal gesond bly en jy sal elke dag nuwe krag kry.
SPREUKE 3:5-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.
SPREUKE 3:5-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam.
SPREUKE 3:5-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vertrou op die HERE met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die HERE, bly weg van die kwaad. Genesing sal dit bring vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.
SPREUKE 3:5-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Vertrou op die HERE met jou hele hart; en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie gelyk maak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE en wyk af van die kwaad. Dit sal gesond wees vir jou naeltjie en murg vir jou gebeente.
SPREUKE 3:5-8 Die Boodskap (DB)
Moenie dink jy weet altyd die beste nie. Begin eerder elke dag weer van voor af om die Here lief te hê. En los tog al die slegte en verkeerde dinge. Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak. Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees. Dien die Here met jou talente.
SPREUKE 3:5-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vertrou op die HERE met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys. Moenie jou eie wysheid oorskat nie. Hou eerder die HERE voor oë en vermy wat sleg is. Dit sal jou liggaam gesond hou, jou lewe verkwik.