SPREUKE 4:5-9 - Compare All Versions
SPREUKE 4:5-9 ABA (Bybel vir almal)
Jy moet wysheid kry, jy moet verstandig word, jy moenie vergeet nie, jy moenie ophou om te doen wat ek vir jou sê nie. As jy die wysheid nie los nie, dan sal dit vir jou wagstaan, as jy lief is vir die wysheid, dan sal dit jou beskerm. As jy regtig slim wil word, dan moet jy wysheid kry, jy moet ook verstandig word, saam met al die ander dinge wat jy kry. As jy hou van die wysheid, dan sal dit jou 'n belangrike mens maak. As jy wys dat jy lief is vir die wysheid, dan sal mense jou respekteer. Die wysheid sal soos 'n mooi kransie wees, soos die kroon van 'n koning op jou kop.”
SPREUKE 4:5-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Verkry wysheid, verkry insig; vergeet nie en wyk nie af van die woorde van my mond nie: verlaat dit nie, dan sal dit jou bewaar; kry dit lief, dan sal dit jou bewaak. Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit. Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels. Dit sal 'n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou 'n sierlike kroon verskaf.
SPREUKE 4:5-9 AFR83 (Afrikaans 1983)
Sorg dat jy wysheid bekom, en insig! Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie; maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm; as jy dit liefhet, sal dit jou veilig bewaar. Die wysheid kom eerste. Sorg dat jy wysheid bekom, gee alles wat jy het, om insig te kry! Slaan dit hoog aan, dan sal dit aan jou aansien gee. Dit sal jou 'n man van betekenis maak as jy dit vasgryp. Dit sal jou lewe versier, dit sal vir jou 'n sierlike kroon wees.”
SPREUKE 4:5-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Verwerf wysheid, verwerf insig, vergeet dit nie; wyk nie af van die woorde uit my mond nie. Moet haar, die wysheid, nie verontagsaam nie; dan sal sy jou beskerm. Wees lief vir haar, dan sal sy jou bewaak. Die begin van wysheid is: Verwerf wysheid, verwerf insig met alles wat jy besit! Stel haar hoog op prys, dan sal sy jou verhoog; sy sal aan jou eer gee as jy haar omarm. Sy sal op jou kop 'n swierige krans sit, 'n sierlike kroon aan jou skenk.
SPREUKE 4:5-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Verkry wysheid, verkry insig; vergeet dit nie; en moenie van die woorde van my mond afwyk nie. Verlaat haar nie, en sy sal jou bewaar; wees lief vir haar, en sy sal jou bewaar. Wysheid is die belangrikste ding; verkry daarom wysheid, en verwerf insig met al jou insig. Verhef haar, en sy sal jou bevorder; sy sal jou tot eer bring as jy haar omhels. Sy sal aan jou hoof 'n sieraad van genade gee; 'n kroon van heerlikheid sal sy aan jou gee.
SPREUKE 4:5-9 DB (Die Boodskap)
“Doen jou bes om elke dag meer wysheid en insig te kry. Moet tog nooit my woorde verwerp nie. “Moenie lewenswysheid los soos ’n slegte man partykeer ’n vrou los nie. Wees lief daarvoor soos ’n goeie man sy vrou liefhet. Dan sal jy reg leef. “’n Belangrike reël vir die lewe is om meer en meer van die regte soort kennis in die hande te kry. Dan sal jy meer op jou gemak voel. Jy sal weet hoe om in die alledaagse lewe op te tree. “Leef die Spreukeboek se wysheid uit. Lees dit elke dag en dit sal met jou goed gaan. Omhels dit soos ’n vrou, en jy sal soveel vreugde ontvang. “Spreuke se wysheid sal jou help om jou lewe so mooi soos ’n pragtige kledingstuk te maak, jou lewenstyl soos klere wat almal raaksien en bewonder.”
SPREUKE 4:5-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Soek na wysheid en goeie oordeel. Moenie my woorde vergeet nie. Moenie dit laat los nie. Moet nooit afstand doen van die wysheid nie. Dit sal jou beskerm. As jy wysheid liefhet, sal dit jou beveilig. Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om veral onderskeidingsvermoë te verkry. Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee. Dit sal jou kroon met voorspoed. Dit sal vir jou ’n pragtige kroon gee.”