SPREUKE 6:20-24 - Compare All Versions
SPREUKE 6:20-24 ABA (Bybel vir almal)
My kind, jy moet onthou wat jou pa vir jou sê, jy moenie vergeet wat jou ma vir jou leer nie. Jy moenie dit vergeet nie, jy moet dit elke dag onthou. Dan sal jy weet hoe jy moet lewe, jy sal elke dag en elke nag weet wat jy moet doen. Want die dinge wat jou pa vir jou sê, is soos 'n lamp, die dinge wat jou ma vir jou leer, is soos 'n lig. Iemand wat vir jou sê wat jy moet doen en wat vir jou leer, lei jou op die pad van die lewe. Hy beskerm jou teen die slegte vrou, teen die skelm woorde van die vrou wat nie jou vrou is nie.
SPREUKE 6:20-24 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
BEWAAR, my seun, die gebod van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; bind dit gedurigdeur op jou hart, hang dit om jou hals; mag dit jou lei as jy wandel, oor jou wag hou as jy slaap en jou toespreek as jy wakker word. Want die gebod is 'n lamp en die onderwysing 'n lig en die teregwysinge van die tug 'n weg tot die lewe, om jou te bewaar vir 'n slegte vrou, vir die gevlei van 'n vreemde tong.
SPREUKE 6:20-24 AFR83 (Afrikaans 1983)
My seun, hou vas aan wat jou vader jou voorskryf; wat jou moeder jou leer, moet jy nie in die wind slaan nie. Dit moet jou altyd bybly, daarmee moet jy saamleef; dit sal vir jou leiding gee in wat jy doen, dit sal jou beskerm as jy slaap en jou lei sodra jy wakker word. Wat ek jou voorskryf, is 'n lamp, my onderrig is 'n lig; wie hom laat teregwys, is op die pad na die lewe toe. My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei.
SPREUKE 6:20-24 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
My seun, hou by die gebod van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie. Bind dit voortdurend aan jou hart, bind dit om jou nek. Wanneer jy rondgaan, sal dit jou lei; wanneer jy slaap, sal dit oor jou wag hou; wanneer jy wakker word, sal dít jou besig hou. Want 'n gebod is 'n lamp, en onderrig is 'n lig. Die pad na die lewe is teregwysing deur vermaning, om jou te beskerm teen 'n slegte vrou, teen die gladde tong van 'n vreemde vrou.
SPREUKE 6:20-24 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
My seun, onderhou die gebod van jou vader en versaak die wet van jou moeder nie. Bind hulle gedurigdeur op jou hart en bind hulle om jou nek. As jy gaan, sal dit jou lei; as jy slaap, sal dit jou bewaar; en as jy wakker word, sal dit met jou spreek. Want die gebod is 'n lamp; en die wet is lig; en teregwysings van onderrig is die lewenswyse: om jou te bewaar vir die slegte vrou, van die gevlei van die tong van 'n vreemde vrou.
SPREUKE 6:20-24 DB (Die Boodskap)
Jongman, jou ouers se opvoeding is belangrik. Hou vas aan die reëls wat jy by jou pa gekry het. En jou ma se lesse moet jy nooit vergeet nie. Dink gedurig daaraan sodat jy dit nooit sal vergeet nie. Of hang dit soos ’n hangertjie om jou nek sodat jy dit altyd sal onthou. Jou ouers se opvoeding sal jou help om gelukkig te leef. Wanneer jy gaan slaap, sal hierdie lewenswyshede jou nie verlaat nie. As jy wakker word, sal dit jou weer opnuut wys hoe om reg te leef. Lesse oor die lewe is soos ’n lamp. ’n Goeie opvoeding is soos ’n lig wat jou wys hoe om reg te leef. Dissipline is die deur tot ’n beter en gelukkiger lewe. Al hierdie spreuke moet jou teen ’n gevaarlike vrou se verleiding beskerm, jou teen haar sappige en verleidelike woorde oppas.
SPREUKE 6:20-24 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
My seun, gehoorsaam wat jou pa jou leer. Moenie reëls wat jou ma vir jou gee, ignoreer nie. Bewaar dit altyd in jou hart. Dra dit om jou nek. Waarheen jy ook al op pad is, dit sal vir jou die koers aandui. Dit sal jou beskerm wanneer jy slaap. Dit sal jou wys wat jy moet doen sodra jy wakker word. My opdragte is soos ’n lamp vir jou. My reëls is vir jou ’n lig. Vir die een wat hom laat dissiplineer, is dit die pad na die lewe. Hierdie reëls sal jou beskerm teen die onsedelike vrou, teen die vreemde vrou wat jou wil verlei met haar gladde tong.