PSALMS 107:19-22 - Compare All Versions
PSALMS 107:19-22 ABA (Bybel vir almal)
Toe dit so sleg gaan met hulle, het hulle geroep en gevra dat die Here hulle moet help, en Hy het hulle gered, hulle het nie meer swaargekry nie. Hy het gepraat en hulle gesond gemaak, Hy het hulle gered voordat hulle gesterf het en in die graf was. Hulle moet vir die Here dankie sê omdat Hy doen wat Hy belowe het, omdat Hy wonderwerke doen vir mense. Hulle moet vir Hom dank-offers bring, hulle moet sing en vertel wat Hy gedoen het.
PSALMS 107:19-22 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red. Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders; en laat hulle lofoffers bring en met gejubel sy werke vertel.
PSALMS 107:19-22 AFR83 (Afrikaans 1983)
maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle bevry van hulle ellende. Hy het hulle met 'n enkele woord gesond gemaak, hulle aan die dood laat ontkom. Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. Hulle moet dankoffers bring en met blydskap van sy dade getuig.
PSALMS 107:19-22 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe het hulle in hulle nood na die HERE om hulp geroep; uit hulle benoudheid het Hy hulle verlos. Hy het sy woord gestuur en hulle genees; Hy het hulle laat vrykom uit hulle vangkuile. Hulle moet die HERE prys vir sy troue liefde, vir sy wonders aan mensekinders. Hulle moet aan Hom •dankoffers bring en met jubelkrete van sy dade vertel.
PSALMS 107:19-22 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Toe roep hulle tot die HERE in hul benoudheid, en Hy verlos hulle uit hul benoudhede. Hy het sy woord gestuur en hulle genees en hulle van hul ondergang verlos. Ag, as die mense die HERE sou loof vir sy goedheid en vir sy wonderdade aan die mensekinders! En laat hulle die dankoffers offer en sy werke met blydskap verkondig.
PSALMS 107:19-22 DB (Die Boodskap)
In hulle swaarkry het hulle die Here gevra om te help. Hy het hulle gehelp. Die Here het net een woord gesê, en toe word hulle gesond. So het Hy hulle uit die dood se kloue gered. Nou prys hulle die Here vir sy liefde. Hulle sê vir Hom baie dankie vir die wonderlike dinge wat Hy doen. Hulle sal opgewonde bly vertel van alles wat die Here gedoen het. Hulle moet vir Hom aanhou dankie sê.
PSALMS 107:19-22 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
“HERE, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered. Met ’n woord wat Hy gestuur het, het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk. Laat hulle die HERE loof vir sy liefde, en vir al sy wonderdade aan hulle. Laat hulle dankoffers bring en met vreugde van sy dade vertel.