PSALMS 138:1-8
PSALMS 138:1-8 Bybel vir almal (ABA)
Van Dawid. Here, ek wil vir U dankie sê met my hele hart, ek wil vir U sing sodat al die gode dit kan hoor. Ek wil buig na u gewyde tempel en ek wil u Naam prys omdat U doen wat U belowe het en omdat U dieselfde bly. Die dag toe ek geroep het en gevra het dat U my moet help, toe het U my geantwoord, U het my sterk gemaak. Al die konings van die aarde sal vir U dankie sê, want hulle het gehoor wat U gesê het. Hulle sal sing oor die dinge wat die Here gedoen het, want die Here is 'n groot Koning. Die Here is hoog in die hemel maar Hy sien wie die nederige mense is en Hy weet ook baie goed wie die hoogmoedige mense is. Wanneer dit sleg gaan met my, dan laat U my aanhou lewe. U steek u hand uit en U keer my vyande wat kwaad is vir my, U red my met u eie hand. Die Here doen alles vir my. Here, U doen altyd wat U belowe het. U het die mense met u eie hande gemaak, U moenie vir hulle alleen los nie.
PSALMS 138:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid. Ek sal U loof met my hele hart; in die teenwoordigheid van die gode sal ek psalmsing tot u eer. Ek sal my neerbuig na u heilige paleis en u Naam loof, om u goedertierenheid en om u trou ontwil; want U het vanweë u ganse Naam u toesegging groot gemaak. Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel. Al die konings van die aarde sal U loof, o HERE, as hulle gehoor het die woorde van u mond; en hulle sal sing van die weë van die HERE, want die heerlikheid van die HERE is groot. Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte. As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my. Die HERE sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!
PSALMS 138:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Dawid. Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor; dit is tot u eer dat ek sing. Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alles gestel. Toe ek na U geroep het, het U my gebed verhoor en my nuwe krag gegee. Al die konings van die aarde sal U loof, Here, wanneer hulle u woord hoor, hulle sal sing oor wat die Here gedoen het, want die mag van die Here is groot. Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige. As die nood my oorval, hou U my in die lewe teen die woede van my vyande in: U strek u hand uit, u regterhand red my. Die Here sal vir my alles goed laat afloop. Aan u liefde, Here, is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.
PSALMS 138:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Van Dawid. Ek wil U prys met my hele hart; voor die gode wil ek U besing. Ek wil in aanbidding buig na u •heilige •tempel; ek wil u Naam prys oor u troue liefde, oor u trou; Want U het u beloftes bo al u roem laat uitstyg. Die dag toe ek geroep het, het U my geantwoord. U maak my innerlik sterker. Al die konings van die aarde moet U prys, HERE, wanneer hulle die woorde van u mond hoor. Hulle moet sing oor die weë van die HERE: “Groot is die heerlikheid van die HERE. Ja, verhewe is die HERE, maar nederiges sien Hy raak en hoogmoediges ken Hy van ver af.” As ek in diep benoudheid verkeer, bewaar U my lewe; teen die toorn van my vyande steek U u hand uit; u regterhand verlos my. Die HERE self tree vir my in. HERE, u troue liefde duur vir ewig; u handewerk – moet dit nie laat vaar nie!
PSALMS 138:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek wil U loof met my hele hart; voor die gode sal ek U sing. Ek wil aanbid na u heilige tempel en u Naam prys vir u goedertierenheid en om u waarheid, want U het u woord groot gemaak bo u hele Naam. Op die dag toe ek geroep het, het U my geantwoord en my versterk met krag in my siel. Al die konings van die aarde sal U loof, HERE, wanneer hulle die woorde van U mond hoor. Ja, hulle sal sing in die weë van die HERE, want groot is die heerlikheid van die HERE. Al was die HERE hoog, tog het Hy ag op die nederiges, maar die hoogmoediges ken Hy van ver. Al wandel ek te midde van benoudheid, U sal my lewend maak; U sal U hand uitstrek teen die toorn van my vyande, en U regterhand sal my red. Die HERE sal volmaak wat my aangaan: U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid; verlaat die werke van U eie hande nie.
PSALMS 138:1-8 Die Boodskap (DB)
Ek sal die Here met my hele lewe prys. Ook al dien mense rondom my ander gode, sal ek U grootmaak. U sal ek loof en aanbid, want ’n mens kan U vertrou. U het u kinders baie lief. Omdat u Naam op die spel is, het U belowe om u kinders altyd lief te hê. Op ’n dag het ek tot U gebid. U het na my geluister en my gehelp. My lewe het verander, want U het my nuwe moed en krag gegee. Almal wat op die aarde regeer, sal U loof, Here. Laat hulle tog net hoor wat U sê en doen. Hulle sal sing oor wat die Here met mense doen. Niemand is belangriker as Hy nie. Niemand is groter as die Here nie. Sy grootheid lê daarin dat Hy mense raaksien en help wat dit nie self kan doen nie. Maar mense wat dink dat hulle beter as ander is, kyk Hy mis. Wanneer ek in die moeilikheid is, help U my. Mense kry my nie onder nie. U keer dat mense wat my wil seermaak, dit regkry. U red my uit hulle kloue. Die Here sal vir my sorg totdat ek die dag doodgaan. U liefde hou nooit op nie. Moet asseblief nie ophou om vir my goed te wees nie.
PSALMS 138:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek loof U met my hele hart, HERE. Voor die gode sing ek u lof wanneer ek buig na u heilige tempel. Ek wil u Naam loof op grond van u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alle dinge verheerlik. Wanneer ek roep, antwoord U my; U bemoedig my en gee my krag. HERE, al die konings van die aarde sal U dank wanneer hulle u woorde hoor. Hulle sal sing van die werke van die HERE, want groot is die heerlikheid van die HERE. Al is die HERE hoog verhewe, gee Hy om vir die nederiges, maar die trotsaards ken Hy van ver af. As ellende op my toesak, sal U my bewaar van die woede van my vyande. U steek u hand uit en red my deur u krag. HERE, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, HERE, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie.