PSALMS 139:15-18
PSALMS 139:15-18 Bybel vir almal (ABA)
U het geweet van elke been in my liggaam toe U my gemaak het waar niemand dit gesien het nie, toe U my gemaak het in die liggaam van my ma. U het my gesien voordat ek gebore is. Ek was nog nie een dag oud nie, toe het U klaar in u boek geskryf hoe lank ek sal lewe. O God, die dinge waaraan U dink, is vir my baie moeilik, ek kan dit nie verstaan nie, en U dink aan so baie dinge. As ek dit alles probeer tel, dan is dit meer as sand, en wanneer ek geslaap het en wakker word, dan dink ek nóg aan U.
PSALMS 139:15-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.
PSALMS 139:15-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.
PSALMS 139:15-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
My skelet was nie vir U verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, toe ek kunstig geweef is in die dieptes van die aarde. U oë het my vormloosheid gesien. En in u •boekrol is hulle almal opgeteken – dae wat beplan is, toe nie een daar was nie. En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan! As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U.
PSALMS 139:15-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My besittings was nie vir jou verborge toe ek in die geheim gemaak is, en wonderlik bewerk is in die laagste dele van die aarde nie. U oë het my goed gesien, maar tog onvolmaak; en in u boek is al my lede opgeskrywe wat gevorm is toe daar nog nie een van hulle was nie. Hoe kosbaar is u gedagtes ook vir my, o God! hoe groot is die som daarvan! As ek hulle tel, is hulle meer as die sand; as ek wakker word, is ek nog by jou.
PSALMS 139:15-18 Die Boodskap (DB)
Daar is nie ’n been in my wat uit sy plek is nie. U ken my totaal. Alles is soos U dit wil hê. U het my gemaak. Toe ek grootgeword het, het U vir my gesorg. U beheer ook my hele lewe. Nog voordat ek mens geword het, het U my al beplan. U het my lewe toe al in u hand gehou. En U het besluit wat met my sou gebeur. God, dit troos my om te weet dat U alles in u hand hou. Die gedagte daaraan is net te groot om te verstaan. As ek dit probeer verstaan, besef ek my kop is te klein. En as ek klaar probeer dink het oor U, het ek nog steeds met U te doen.
PSALMS 139:15-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot. U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal! As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek nog steeds by U wees.