PSALMS 143:1-12
PSALMS 143:1-12 Bybel vir almal (ABA)
'n Psalm. Van Dawid. Here, U moet luister na my gebed, U bly dieselfde, U moet hoor wanneer ek soebat. U doen altyd reg, U moet my antwoord. U moenie vir my, u dienaar, oordeel nie, want niemand is onskuldig wanneer hy voor U staan nie. My vyande jaag my, hulle trap my in die grond in, hulle laat my in die donker sit soos iemand wat lank gelede dood is. Ek is moedeloos en ontsteld. Ek dink aan lank gelede, ek dink oor alles wat U gedoen het, ek dink oor alles wat U gemaak het. Ek steek my hande uit na U, ek verlang na U soos 'n droë land verlang na water. Sela Here, U moet my gou antwoord, ek verlang baie na U. U moet kyk hoe dit met my gaan, ek is soos iemand wat besig is om te sterf. U moet elke oggend vir my sê dat U sal doen wat U belowe het, want ek glo dat U my sal help, nét U sal help. U moet vir my sê hoe ek moet lewe, ja, ek bid en vra dit vir U, nét vir U. Here, U moet my red van my vyande, ek vra dat U my moet beskerm. U moet vir my leer om te doen wat U wil hê, want dit is Ú wat my God is. U is goed, U moet my op 'n gelyk pad laat loop. Here, ek behoort aan U, U moet my laat aanhou lewe. U doen altyd reg, U moet my vrymaak, want ek kry baie swaar. U doen altyd wat U belowe het, U moet my vyande vir altyd stilmaak, U moet hulle doodmaak, want ek is u dienaar.
PSALMS 143:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid. O HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid. En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie. Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is. En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste. Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande. Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land. Sela. Verhoor my tog gou, HERE: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie. Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek. Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land. O HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid. En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg.
PSALMS 143:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Psalm van Dawid. Hoor my gebed, Here, luister tog na my smeking. U is getrou en regverdig, antwoord my tog! Moet tog nie 'n regsaak teen my begin nie, want niemand wat leef, is voor U onskuldig nie! 'n Vyand vervolg my, hy trap my in die grond, hy hou my gevange in die donker. Ek is soos iemand wat lankal dood is. Ek het alle moed verloor, ek is verslae. Ek dink aan die verre verlede, ek peins oor alles wat U gedoen het en oor die werk van u hande dink ek na. Ek strek my hande uit in gebed na U toe, ek is voor U soos 'n uitgedorde land. Sela Antwoord my tog gou, Here, ek is heeltemal gedaan. Moet tog nie van my af wegkyk dat ek word soos dié wat sterwe nie. Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig. Red my van my vyande, Here, want by U skuil ek. Leer my om u wil te doen, want U is my God! Laat u goeie Gees my op 'n gelyk pad lei. Ter wille van u Naam, Here, laat my lewe. U is regverdig, red my uit die nood. Vernietig in u trou my vyande, laat al my teëstanders omkom, want ek is u dienaar.
PSALMS 143:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Psalm. Van Dawid. HERE, hoor my gebed, luister na my smeekgebed; antwoord my in u trou, in u geregtigheid. Moet net nie u dienskneg voor die gereg daag nie; want niemand wat leef, is voor U regverdig nie. Ja, vyande agtervolg my, hulle verpletter my lewe teen die grond; hulle laat my woon in donker plekke, soos mense wat lankal dood is. My gees in my weifel; in my binneste is my hart verbyster. Ek dink aan dae lank gelede, ek mymer oor al u dade; oor die werk van u hande dink ek na. Ek strek my hande uit na U; my diepste wese smag na U soos dor grond. •Sela U moet my gou antwoord, HERE; my gees is gedaan. Moet tog nie u gesig vir my verberg nie; dan word ek net soos hulle wat in die put afdaal. Laat my in die môre van u troue liefde hoor, want op U vertrou ek. Wys my die pad wat ek moet loop, want na U is my verlange. Red my van my vyande, HERE; na U vlug ek. Leer my om te doen wat vir U aanvaarbaar is, want U is my God. U goeie Gees moet my lei op gelyk grond. Ter wille van u Naam, HERE, moet U my in die lewe hou; deur u regverdige optrede moet U my uitlei uit die nood; en in u troue liefde moet U my vyande vernietig. Maak almal tot niet wat my lewe bedreig, want ek is u dienskneg.
PSALMS 143:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hoor my gebed, HERE, luister na my smekinge; verhoor my in u trou en in u geregtigheid. En tree nie in die gereg met u kneg nie, want voor u oë sal geen mens wat lewe, geregverdig word nie. Want die vyand het my siel vervolg; Hy het my lewe teen die grond geslaan; Hy het my in die duisternis laat woon soos dié wat lankal dood is. Daarom is my gees oorweldig in my binneste; my hart in my is woes. Ek dink aan die dae van ouds; Ek peins oor al u werke; Ek peins oor die werk van u hande. Ek strek my hande na jou uit; my siel dors na jou soos 'n dorsland. Sela. Hoor my gou, HERE, my gees beswyk; verberg u aangesig nie vir my nie, dat ek nie word soos die wat in die kuil neerdaal nie. Laat my in die môre u goedertierenheid hoor; want op U vertrou ek; laat my die weg ken wat ek moet bewandel; want Ek hef my siel tot U op. Verlos my, HERE, van my vyande; ek vlug na U om my te verberg. Leer my om u wil te doen; want U is my God. U gees is goed; lei my na die land van opregtheid. Maak my bespoedig, HERE, ter wille van U Naam; En deur U goedertierenheid moet U my vyande uitroei en almal vernietig wat my siel verdruk, want ek is U kneg.
PSALMS 143:1-12 Die Boodskap (DB)
Here, help my asseblief as ek bid. Antwoord my tog as ek by U pleit om my te help. Luister asseblief na my gebed. U kan ek vertrou. U is goed vir u kinders. Moet asseblief nie sê dat ek skuldig is voor U nie. In elk geval, daar is niemand op aarde wat onskuldig voor U is nie. Selfs nie eens hulle wat U dien, is sonder sonde nie. Ook ek is skuldig. Mense wat my nie liefhet nie, wil my in die grond in trap. Hulle wil net hê dat dit met my sleg moet gaan. Hulle vat die lig uit my lewe weg. My lewe het vir my alle betekenis verloor. Ek het begin moed verloor. Ek was baie bang en benoud. Toe het ek onthou dat U van die begin af gewys het hoe sterk U is. Ek het nagedink oor hoe U die hele wêreld gemaak het. Ek kan nie sonder U klaarkom nie. Ek roep na U. Soos ’n dor stuk land niks is sonder water nie, so kan ek nie sonder U verder lewe nie. Help my asseblief tog gou, Here. Ek is besig om dood te gaan. Moet my nie ignoreer nie, anders gaan ek nog gouer dood. Elke dag wil ek hoor hoe U my liefhet, want ek vertrou U. Lei my asseblief op die regte lewenspad. Met my hele lewe is ek van U afhanklik. Red my van hulle wat my nie liefhet nie, Here. U beskerm my. Wees vir my soos ’n onderwyser. Leer my om te doen wat U wil hê, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei sodat ek min probleme op my lewenspad het. Here, gee my krag om reg te lewe sodat U die eer daarvoor kry. Help my asseblief uit my nood uit. U tree mos reg teenoor u kinders op. Sit hulle wat my nie liefhet nie, asseblief op hulle plek omdat U my liefhet. Gee dat hulle wat nie van my hou nie, sal doodgaan omdat ek U dien.
PSALMS 143:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Luister na my gebed, HERE! Hoor tog my smeekgebede. Antwoord my, want U is getrou en regverdig. Moenie ’n regsgeding teen u dienaar begin nie, want niemand wat lewe, is voor U onskuldig nie. My vyand agtervolg my, vertrap my teen die grond, hy laat my in duisternis lewe soos dié wat lankal dood is. Ek het moed verloor; ek is stomgeslaan. Ek dink aan die dae, lank gelede. Ek peins oor al u dade, ek oordink die werke van u hande. Ek strek my hande uit na U. Ek dors na U soos ’n verdorde land. Sela Antwoord my tog gou, HERE, want ek het moed verloor. Moenie U vir my verberg nie, anders word ek soos dié wat sterf. Laat ek in die oggend hoor van u onfeilbare liefde, want ek vertrou op U. Wys my die pad waarop ek moet loop, want tot U rig ek my gebed. Bevry my van my vyande, HERE, want ek skuil by U. Leer my om u wil te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei op ’n pad wat gelyk is. HERE, laat my lewe ter wille van u Naam; lei my uit my nood, want U is regverdig. Vernietig my vyande ooreenkomstig u trou; laat al my teenstanders omkom, want ek is u dienaar.