PSALMS 28:6-9
PSALMS 28:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Ek prys die Here, Hy het gehoor toe ek gebid het en gevra het dat Hy my moet help. Dit is die Here wat my sterk maak en wat my beskerm, ek is seker dat Hy my sal help. Hy sal dit doen, en ek sal bly wees, ek sal sing en Hom prys. Die Here maak sy volk sterk, Hy beskerm sy gesalfde en Hy red hom. Here, U moet u volk red, U moet dit goed laat gaan met die mense wat aan U behoort. U moet vir hulle die Herder wees en altyd vir hulle sorg.
PSALMS 28:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor. Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en ek is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang. Die HERE is 'n sterkte vir hulle, en Hy is 'n vesting van verlossing vir sy gesalfde. Verlos u volk en seën u erfdeel, en wees vir hulle 'n herder en dra hulle tot in ewigheid.
PSALMS 28:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. Hy het my gehelp. Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied. Die Here is 'n sterkte vir sy volk, 'n veilige beskutting vir sy gesalfde. Red u volk en seën dié wat aan U behoort; wees vir hulle 'n herder en sorg altyd vir hulle.
PSALMS 28:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE moet geprys word, want Hy het na my smeekgebed geluister. Die HERE is my krag en my skild; op Hom vertrou my hart. Ja, ek het hulp ontvang en my hart jubel, met my lied wil ek Hom prys: “Die HERE is vir sy volk 'n krag. Hy is die toevlug van verlossing vir sy gesalfde. “Verlos tog u volk en seën u erfdeel; wees vir hulle 'n herder en dra hulle vir altyd!”
PSALMS 28:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor. Die HERE is my sterkte en my skild; my hart het op hom vertrou, en ek is gehelp; daarom is my hart baie bly; en met my lied sal ek Hom loof. Die HERE is hulle sterkte, en Hy is die reddende sterkte van sy gesalfde. Verlos u volk en seën u erfdeel; voed hulle ook en verhef hulle tot in ewigheid.
PSALMS 28:6-9 Die Boodskap (DB)
Kom prys die Here, want Hy het my gehelp toe ek na Hom geroep het. Die Here gee my krag. Hy beskerm my. Ek het op Hom vertrou en Hy het my gehelp. Daarom is ek baie bly. Ek sal ’n lied sing om Hom te prys. Die Here gee sy kinders krag. Hy beskerm en help leiers wat Hom vra om by hulle te wees. Help u kinders, Here. Laat hulle wat aan U behoort, genoeg hê om van te leef. Sorg vir hulle soos ’n herder vir sy skape omgee. Tel hulle op en dra hulle elke dag.
PSALMS 28:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Laat die HERE geprys word, want Hy het my smekinge gehoor. Die HERE is my krag, my beskermer wat ek met my hele hart vertrou. Hy help my en my hart is vol vreugde. Daarom dank ek Hom met my lied. Die HERE is ’n sterkte vir sy volk, ’n veilige skuilplek vir sy gesalfde. Red tog u volk en seën hulle wat aan U behoort! Wees vir hulle ’n herder en versorg hulle vir altyd.