PSALMS 40:1-4
PSALMS 40:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm. Ek het aangehou wag dat die Here my moet help, en Hy het na my toe gebuig en gehoor hoe ek kla en sug. En toe het Hy my opgetrek uit die diep gat vol slym en modder, ek het amper daar gesterf. Hy het my op 'n rots neergesit, my voete kon daar vas staan. Hy het vir my 'n nuwe lied laat sing, 'n lied om ons God te prys. Baie mense het gesien wat Hy gedoen het, en hulle het Hom gerespekteer en gedien, hulle het geglo dat die Here hulle sal help.
PSALMS 40:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. Ek het die HERE lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak. En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee, 'n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.
PSALMS 40:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die koorleier. Van Dawid. 'n Psalm. Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou!
PSALMS 40:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. Ek het op die HERE bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op 'n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee. Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, 'n lofsang vir ons God. Baie sal dit sien, en ontsag hê, ja, hulle sal op die HERE vertrou.
PSALMS 40:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek het geduldig op die HERE gewag; en hy het na my neergebuig en my geroep gehoor. Hy het my ook uit 'n afgryslike kuil, uit die modderige klei laat optrek en my voete op 'n rots gestel en my weë bevestig. En Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, lof tot eer van onse God; baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou. Welgeluksalig is die man wat die HERE vertrou en die hoogmoediges nie ag nie en nie die wat afwyk tot leuens nie.
PSALMS 40:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het met hunkering op die HERE gewag. Hy het na my afgebuig en my geroep gehoor, en my opgetel uit die afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied gegee, ’n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die HERE vertrou.