PSALMS 50:15-23 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
PSALMS 50:15-23 AFR83 (Afrikaans 1983)
Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.” Maar vir die goddelose sê God: “Waarom sê jy my voorskrifte een vir een op en beroep jy jou op my verbond, jy wat 'n afkeer het van wat Ek jou leer en jou nie steur aan wat Ek sê nie? As jy 'n dief raakloop, breek jy saam met hom in, en as jy die kans kry, pleeg jy egbreuk. As jy jou mond oopmaak, praat jy kwaad; jou tong ryg bedrog aanmekaar. Jy sit en praat teen jou broer, jou eie broer beswadder jy. “Moet Ek stilbly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan! Julle moet luister na hierdie waarskuwing, julle wat nie met God rekening hou nie, anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red. “Die mens wat My eer, is die een wat lof as 'n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red.”
PSALMS 50:15-23 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer. Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond — terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie. Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.
PSALMS 50:15-23 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer.” Maar vir die goddelose sê God: “Hoe durf jy my bepalings voorhou en jou op my verbond beroep? Want jy verwerp my vermanings en verontagsaam my opdragte. Wanneer jy ’n dief sien, maak jy soos hy; en met egbrekers vereenselwig jy jou. Jou mond verkondig kwaad, en jou tong praat bedrog. Jy sit en beswadder jou broer, en praat tot nadeel van jou eie broer. Dit alles het jy gedoen, maar Ek het stilgebly, en jy het gedink Ek het soos jy geword. Maar nou eis Ek rekenskap van jou en sal jou openlik beskuldig. Luister hierna, julle wat My misken, anders sal Ek julle uitmekaarskeur sonder dat iemand julle verlos. Hy wat ’n dankoffer bring, eer My. Aan hom wat my pad volg, sal Ek my verlossing bekendmaak.”
PSALMS 50:15-23 DB (Die Boodskap)
As jy probleme het, roep My om te help en Ek sal jou help. En jy moet vir My dankie sê.” Vir die slegte mens sê God: “Hoekom praat jy nog oor die wil van die Here asof dit vir jou saak maak? Hoekom maak jy asof ons met mekaar ’n ooreenkoms het? Jy wil nie luister wat Ek jou leer nie. Jy doen ook nie wat Ek vra nie. Jy is tuis tussen diewe en mense wat niks van die huwelik dink nie. Jy maak nes hulle. As jy jou mond oopmaak, lieg en bedrieg en skinder jy; jy gee nie eens om of dit jou eie broer is wat jy so behandel nie. Jy smeer hom swart. “Terwyl jy so woes aangegaan het, moet Ek stilbly? Dan dink jy dalk Ek maak soos jy. Nee, Ek gaan jou laat deurloop. Jy gaan mooi verstaan waaroor dit gaan. Ek kla jou aan. Luister asseblief mooi as Ek julle waarsku, julle wat leef asof God nie daar is nie. As Ek julle begin straf, sal niemand julle meer kan help nie. “Weet julle watter geskenk maak my hart bly? As julle vir My dankie sê en loof deur julle optrede. Die mense wat so leef, sal Ek altyd help.”
PSALMS 50:15-23 ABA (Bybel vir almal)
Jy moet tot My bid wanneer dit sleg gaan. Ek sal jou red, en jy sal My eer.” Maar God sê vir die mens wat verkeerd doen: “Dink jy dat jy reg doen? Jy sê wat Ek wil hê en jy praat oor die verbond wat Ek met julle gemaak het, maar jy haat wat Ek vir jou wil leer en jy doen nie wat Ek sê nie. Jy is vriende met elke dief wat jy sien en jy pleeg ook egbreuk wanneer ander mense dit doen. Jy wil altyd iets sê wat dit sleg sal laat gaan met iemand anders, jy vertel leuens oor mense. Jy sit en praat teen jou eie broer en jy beskuldig hom. “Jy het al hierdie dinge gedoen, en toe Ek stilgebly het, het jy gedink Ek is soos jy. Maar nou sê Ek vir jou dat jy verkeerd doen, Ek kyk in jou oë en Ek sê dit reguit vir jou. “Julle wat maak of daar nie 'n God is nie, julle moet asseblief luister na wat Ek sê. As julle dit nie doen nie, dan sal Ek word soos 'n leeu wat vir julle doodbyt, en niemand sal julle red nie. Die belangrikste offer wat Ek wil hê van die mens wat My eer, is dat hy vir My dankie moet sê vir alles. Jy moet dankie sê vir alles. Wanneer 'n mens reg lewe, dan sal Ek hom laat sien hoe dit is wanneer God hom red.”
PSALMS 50:15-23 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Roep My aan in 'n tyd van nood; Ek sal jou red, en jy sal My eer.” Maar vir die goddelose sê God: “Watter reg het jy om my voorskrifte op te sê en my verbond op jou lippe te neem? Jy is die een wat vermaning haat, en my woorde verwerp. As jy 'n dief sien, raak jy met hom bevriend, en met egbrekers hou jy jou op. Jy gee jou mond vrye teuels vir boosheid, en jy span jou tong in vir bedrog. Jy sit en konkel teen jou broer, jou moeder se seun beswadder jy. Hierdie dinge het jy gedoen, maar Ek het stilgebly. Jy het gedink Ek is net soos jy! Ek gaan jou teregwys en vir jou die saak duidelik uiteensit. Verstaan dit tog, julle wat God vergeet, anders verskeur Ek, en daar is niemand wat kan red nie. Wie dankoffers bring, eer My en wie 'n weg baan – Ek sal hom God se verlossing laat ervaar.”
PSALMS 50:15-23 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou red, en jy moet My eer. Maar aan die goddelose sê God: Wat moet jy doen om my insettinge te verkondig, of dat jy my verbond in jou mond moet neem? want jy haat tug en werp my woorde agter jou aan. Toe jy 'n dief sien, het jy met hom ingestem en met egbrekers deel gehad. U gee U mond aan die kwaad, en U tong sweer bedrog. Jy sit en spreek teen jou broer; jy belaster jou eie moeder se seun. Hierdie dinge het jy gedoen, en ek het stilgebly; jy het gedink dat ek heeltemal so iemand soos jy was, maar ek sal jou bestraf en hulle voor jou oë orden. Let nou hierop, julle wat God vergeet, sodat ek julle nie verskeur en daar niemand is om te red nie. Wie lof bring, verheerlik My; en aan hom wat sy wandel reg rig, sal Ek die heil van God bekend maak.