PSALMS 57:7-11
PSALMS 57:7-11 Bybel vir almal (ABA)
My vyande wou my vang soos 'n mens 'n voël in 'n vangnet vang, dit het sleg gegaan met my. Hulle het 'n gat gegrawe vir my maar hulle het self in die gat geval. O God, ek weet wat ek wil doen. Ek wil sing en musiek maak. Ek wil wakker word, ek wil my harp en my lier neem en ek wil sing voordat die son opkom. Ek wil hê al die volke moet hoor wanneer ek vir U dankie sê en vir U sing, want U doen oral wat U belowe, ook tot by die hemel. U is oral dieselfde, ook tot by die wolke.
PSALMS 57:7-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hulle het 'n net gespan vir my voetstappe, hulle het my siel neergebuig; hulle het 'n kuil voor my gegrawe, hulle val daar binne-in. Sela. My hart is gerus, o God, my hart is gerus; ek wil sing en psalmsing. Waak op, my eer! Waak op, harp en siter! Ek wil die dageraad wakker maak! Ek wil U loof onder die volke, o Here, psalmsing tot u eer onder die nasies. Want u goedertierenheid is groot tot by die hemele en u trou tot by die wolke.
PSALMS 57:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het 'n strik vir my voete gespan, hulle wou my breek, hulle het 'n gat vir my gegrawe, maar self daarin geval. Sela Ek voel weer veilig, o God! Ek voel weer veilig! Ek wil 'n lied sing, ja, ek wil sing. Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies u lof besing, want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke!
PSALMS 57:7-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Net het hulle gespan vir my voete – hulle het my neerslagtig gemaak. Hulle het 'n vangkuil voor my gegrawe – hulle het self daarin geval. My hart is standvastig, o God, my hart is standvastig. Ek wil sing, ek wil lofsing. Word wakker, my gemoed! Word wakker, harp en lier! Ek wil die dagbreek wakker maak. Ek wil U dank onder die volke, my Heer, ek wil U besing onder die nasies; want groot, tot aan die hemel, reik u troue liefde; tot by die wolke is u waarheid.
PSALMS 57:7-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
My hart is vas, o God, my hart is vas: ek wil sing en prys. Ontwaak, my eer; wakker word, psalter en harp: Ek self sal vroeg wakker word. Ek wil U loof, HERE, onder die volke; onder die nasies wil ek tot eer van U sing. Want u goedertierenheid is groot tot in die hemel en u trou tot in die wolke. Verhef U, o God, bo die hemele; laat U heerlikheid wees bo die hele aarde.
PSALMS 57:7-11 Die Boodskap (DB)
Mense wat oneerlike dinge sê, het hulle bes probeer om my onder te kry. Hulle het my vertrap. Maar gelukkig het hulle self in die gat geval wat hulle vir my gegrawe het. God, daar is vrede in my hart. Ek voel weer veilig. Ek is rustig en kalm. Daarom wil ek sing. Ek wil lofliedere sing om U te eer. Ek sal baie vroeg in die môre opstaan. Laat ek my musiekinstrumente nader trek. Daarmee wil ek die dag wakker sing. Tussen verskillende volke sal ek U prys, Here. Ek sal lofliedere sing om U tussen vreemde nasies te eer. Ek doen dit omdat u liefde vir my baie groot is. Dit is so groot dat ’n mens dit nie kan meet nie! En U bly getrou.
PSALMS 57:7-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het vir my voete ’n lokval gestel. Ek voel terneergedruk. Hulle het ’n gat voor my gegrawe, maar het self daarin geval. Sela Ek vertrou geheel en al op U. Op U, o God, vertrou ek onwrikbaar. Ek wil lofliedere sing. “Word vroeg wakker!” sê ek. “Harp en lier, word wakker!” Ek wil die dagbreek wakker maak! Voor die volke wil ek U prys, Here, tussen die nasies wil ek u lof besing. Want u trou is hoër as die hemele, u waarheid reik tot in die wolke.