PSALMS 68:7-18

PSALMS 68:7-18 Bybel vir almal (ABA)

God laat die mense wat alleen in die wêreld is, in 'n huis woon. Hy bring gevangenes uit die tronk en Hy laat dit goed gaan met hulle. Maar mense wat opstandig is teen Hom, moet woon op 'n kaal en droë plek. O God, toe U begin loop het voor u volk, toe U deur die wilde woestyn geloop het, Sela toe U gekom het, toe het die aarde gebewe, en reën het uit die lug geval. Want God was naby, Sinai-berg was hier, God was naby, Hy, die God van Israel. O God, U het oral baie reën laat val, U het u droë land weer laat lewe. Die mense wat aan U behoort, het daar gewoon, U was goed, o God, U het gesorg vir die mense wat swaarkry. Toe die Here gesê het hulle moet dit doen, het die vroue die goeie nuus gebring: “Baie soldate, konings en hulle leërs, het gevlug. Hulle het gevlug.” Die vroue wat by die huis gebly het, verdeel die goed wat hulle mans saamgebring het, niemand bly by die skaapkrale nie. Daar is beeldjies van duiwe, mense het hulle oorgetrek met silwer, en hulle vlerke is van goud. Toe die Almagtige die konings na al die kante toe gejaag het, het dit gesneeu op Salmon-berg. Basan-berg, jy wat 'n groot berg is, Basan-berg, berg wat baie hoë punte het, al die berge wat baie hoë punte het, hoekom is julle jaloers op die berg waar God wil woon, die berg waar die Here altyd wil woon? God het baie oorlogkarre, twee maal 10 000 en nog baie duisende. Die Here is in hulle. Soos Hy op Sinai-berg was, so is Hy nou in die tempel.

PSALMS 68:7-18 Die Boodskap (DB)

God tel eensames op en maak hulle deel van ’n familie, Hy sluit tronkdeure vir gevangenes oop, maar laat al sy vyande diep in ’n woestyn bly. God, daardie dag toe U u volk in Egipte gaan haal het, toe U ’n pad deur die woestyn oopgestap het, het die aarde gebewe van vrees, die hemel het strome water voor U uitgegiet. Dit alles het daar by Sinai gebeur voor U, o God; daar het alles en almal voor Israel se God gebewe! God, U het die hemel geskeur, stortreën het oor die aarde uitgesak, ’n droë land het skielik weer begin leef. U het vir u eie mense ’n blyplek gegee. God, U is so ontsettend goed; daarom gee U vir swak mense net die allerbeste, u hulpelose volk kry selfs ’n eie land. “Goeie nuus! Goeie nuus!” roep God uit. Magtige leërs wat met God se volk baklei, het die hasepad gekies, konings het in alle rigtings gehardloop. Hulle het gevlug. Terwyl Israel se soldate nog gerus het na hulle groot oorwinning, het die vroue by die huis al die buit begin verdeel, kosbare skatte is onder mekaar uitgedeel. God het die onmoontlike reggekry, ja, so verrassend soos sneeu op die donkerste berg in Israel, so verrassend, so groot is God se oorwinning. Julle, reuseberge wat bo die aarde uittroon, waarom kyk julle so jaloers na die berg daar waar God se woonplek staan? Daar bly Hy vir altyd. Julle jaloesie help net mooi niks, want God is by sy volk. Duisende hemelse oorlogswaens omring God se woonplek. Toe U na die gebeure by Sinai u woonplek binnegegaan het, was u hemelse leërmag saam met U.