DIE OPENBARING 11:1-4 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 11:1-4 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe is daar vir my 'n meetstok gegee wat soos 'n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die mense wat God daar aanbid. Maar die voorhof, wat buitekant die tempel is, moet jy heeltemal uitlaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is, en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap. “Ek sal aan my twee getuies opdrag gee, en hulle sal, met rouklere aan, my boodskap twaalf honderd en sestig dae lank verkondig.” Hulle is die twee olyfbome en ook die twee lampe wat voor die Here van die aarde staan.

DIE OPENBARING 11:1-4 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN 'n riet soos 'n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer. Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.

DIE OPENBARING 11:1-4 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe is daar aan my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Gaan meet die tempel van God en die altaar en die mense wat in die tempel aanbid. Die voorhof wat buitekant die tempel geleë is, moet jy weglaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die nasies oorgegee is. Hulle sal die heilige stad 42 maande lank met die voete vertrap. En Ek sal aan my twee getuies, met sakklere aan, opdrag gee om die wil van God vir 1 260 dae lank te verkondig.” Hulle is die twee olyfbome en ook die twee kandelare wat voor die Here van die hele aarde staan.

DIE OPENBARING 11:1-4 DB (Die Boodskap)

God gee toe vir my ’n liniaal. “Staan op. Gaan meet die tempel van God, altaar en al. Tel die mense wat besig is om God te aanbid. Skryf dit neer sodat daar presies onthou sal word hoe dit gelyk het. Moenie die plein buite die tempel meet nie. Los dit maar. Dit gaan vir al die ongelowiges wat God nie dien nie, gegee word. Niemand sal dit onthou nie. Hulle gaan hier in die heilige stad instroom en alles vertrap. Dit gaan darem net ’n beperkte tyd van 42 maande wees. “Intussen sal Ek twee mense stuur wat die waarheid oor My praat. Hulle sal eenvoudig aantrek soos die profete van ouds wat die volk op die regte pad wou hou. Hulle sal 1 260 dae lank (42 maande) vir die mense van My vertel. Dit is darem nie te lank nie.” Hulle kan vergelyk word met twee olyfbome en twee kandelare. Die olyfbome gee die olie sodat die kandelare altyd kan brand: dit laat ’n mens dink aan hoe die Gees werk. Hulle staan voor God wat oor die hele aarde heers.

DIE OPENBARING 11:1-4 ABA (Bybel vir almal)

'n Engel het vir my 'n meet-stok gegee en hy het vir my gesê: “Jy moet kom en jy moet die tempel van God in die hemel meet, jy moet ook die altaar meet en jy moet die mense tel wat in die tempel vir God aanbid. Maar jy moenie die oop stuk grond buite die tempel meet nie, los dit, want God het dit vir die ander volke gegee. Hulle sal alles in die gewyde stad 42 maande lank plat trap.” En God het gesê: “Ek sal vir my twee getuies sê hulle moet rouklere dra en hulle moet 1 260 dae lank my boodskap bring.” Die twee getuies is die twee olyfbome en twee lampe wat voor die Here van die aarde staan.

DIE OPENBARING 11:1-4 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Daar is toe aan my 'n meetstok gegee, wat net soos 'n staf lyk, met die opdrag: “Staan op, en gaan meet die tempel van God en die altaar, en tel die mense wat in die tempel aanbid. Die voorhof wat buite die tempel is, moet jy buite rekening laat, en nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is. Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. En Ek sal my twee getuies opdrag gee om, in sak geklee, twaalfhonderd-en-sestig dae lank te gaan profeteer. Hulle is die twee olyfbome, en ook die twee kandelare wat voor die Here van die aarde staan.

DIE OPENBARING 11:1-4 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En 'n riet soos 'n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof wat buite die tempel is, laat weg en meet dit nie; want dit is aan die heidene gegee, en die heilige stad sal hulle twee en veertig maande lank vertrap. En Ek sal aan my twee getuies mag gee, en hulle sal duisend twee honderd en sestig dae lank profeteer, bekleed met sakke. Dit is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.