DIE OPENBARING 11:5-19 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 11:5-19 AFR83 (Afrikaans 1983)

As iemand hulle kwaad wil aandoen, kom daar vuur uit hulle monde uit en verteer hulle vyande. Só moet elkeen doodgemaak word wat hulle kwaad sal wil aandoen. Hulle het die mag om die hemel toe te sluit, sodat daar gedurende die hele tyd wanneer hulle God se boodskap verkondig, geen reën sal val nie. Hulle het ook die mag om al die water in bloed te verander en om die aarde met allerhande plae te tref so dikwels as hulle dit nodig vind. Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onderaardse diepte uit kom, teen hulle oorlog maak, hulle oorwin en hulle doodmaak. Hulle lyke sal in die hoofstraat van die groot stad lê waar hulle Here ook gekruisig is. Die stad word sinnebeeldig Sodom en Egipte genoem. Mense van al die volke, stamme, tale en nasies sal hulle lyke drie en 'n half dae lank daar sien lê en nie toelaat dat hulle begrawe word nie. Die bewoners van die aarde sal bly wees oor hulle dood en hulle daaroor verheug. Hulle sal vir mekaar geskenke stuur. Hierdie twee profete was immers vir die bewoners van die aarde tot 'n teistering. Ná die drie en 'n half dae het daar egter asem en lewe van God af in hulle gekom. Hulle het opgestaan, en groot vrees het almal oorval wat hulle gesien het. Hulle hoor toe 'n harde stem uit die hemel vir hulle sê: “Kom op hierheen!” Toe het hulle in 'n wolk na die hemel toe opgevaar, en hulle vyande het dit gesien. Op daardie oomblik was daar 'n groot aardbewing, en 'n tiende van die stad het inmekaargestort. Sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geraak en aan die God van die hemel die eer gegee. Die tweede “Wee!” is verby. Kyk, die derde kom gou. Toe het die sewende engel op sy trompet geblaas. Daar was stemme in die hemel wat hard uitgeroep het: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” Die vier en twintig ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het toe gekniel met hulle gesigte na die grond toe en het God aanbid en gesê: “Ons dank U, Here God, Almagtige, U wat is en wat was, dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers. Die nasies was woedend, maar nou het die tyd vir u oordeel gekom. Die eindtyd het aangebreek: die dooies word geoordeel; aan u dienaars, die profete, en aan die gelowiges, dié wat U vrees, klein en groot, word hulle loon gegee; en dié wat die aarde vernietig, word vernietig.” Toe het God se tempel, wat in die hemel is, oopgegaan, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar het toe weerligstrale, dreunings, donderslae, 'n aardbewing en 'n groot haelstorm gekom.

DIE OPENBARING 11:5-19 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil. En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is. En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en 'n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het. En ná die drie en 'n halwe dag het 'n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en 'n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. En hulle het 'n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou. En in dié uur het daar 'n groot aardbewing gekom, en 'n tiende van die stad het geval, en seweduisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring. Die tweede wee het verbygegaan; kyk, die derde kom gou. EN die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid. En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het. En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf. En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.

DIE OPENBARING 11:5-19 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

As iemand hulle leed wil aandoen, kom daar vuurvlamme uit hulle monde wat hulle vyande verbrand. Elkeen wat hulle leed wil aandoen, moet só doodgemaak word. Hulle beskik oor die mag om die hemel te sluit sodat dit nie sal reën nie vir die volle tyd wat hulle die wil van God verkondig. Hulle beskik ook oor die mag om die waters in bloed te verander en om die aarde met elke moontlike plaag te tref, so dikwels as wat hulle dit nodig vind. Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die bodemlose put uit opgekom het, teen hulle oorlog maak en hy sal hulle oorwin en doodmaak. Hulle lyke sal langs die breë straat van die groot stad lê. Dit is die stad wat figuurlik Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook gekruisig is. Vir drie en ’n half dae lank sal mense vanuit al die volke, stamme, taalgroepe en nasies hulle lyke sien lê. En hulle sal nie toelaat dat die lyke in ’n grafkamer begrawe word nie. Die bewoners van die aarde sal juig oor hulle dood en hulle sal baie bly wees daaroor en aan mekaar geskenke stuur, omdat hierdie twee profete die bewoners van die aarde geteister het. Maar na drie en ’n half dae het die lewegewende Gees van God in hulle gekom. Toe hulle op hulle voete orent kom, het ’n groot skrik almal wat hulle gesien het, oorweldig. Hulle het ook ’n kragtige stem van die hemel af hoor sê: “Kom op hierheen!” Hulle het toe in ’n wolk na die hemel toe opgevaar terwyl hulle vyande toekyk. Op daardie selfde uur was daar ’n geweldige aardbewing en ’n tiende van die stad het inmekaargetuimel. In die aardbewing is 7 000 mense gedood en die oorblywende mense het beangs geword en aan die God van die hemel eer betoon. Die tweede verskrikking is verby. Kyk, die derde een kom spoedig. Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. Daar was kragtige stemme in die hemel wat sê: “Die koninklike heerskappy oor die wêreld behoort nou aan ons Here en sy Christus, en Hy sal as koning heers vir altyd.” Die 24 ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het op hulle gesigte neergeval en God aanbid en gesê: “Here God, Almagtige, U wat is en wat was, ons dank U dat U nou u groot mag opgeneem het en as koning heers. Die nasies het baie kwaad geword, maar nou het die tyd van u oordeel aangebreek om dié wat dood is, te oordeel; om u diensknegte, die profete, te beloon en dié wat aan God toegewy is, en dié wat ontsag het vir u Naam, klein en groot, en dié wat die aarde vernietig, óók te vernietig.” Toe is God se tempel in die hemel geopen, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daar was toe weerligstrale, dreunings, donderslae, ’n aardbewing en ’n hewige haelstorm.

DIE OPENBARING 11:5-19 DB (Die Boodskap)

As iemand hulle probeer seermaak of benadeel, kom daar vuur uit hulle monde uit. Die vuur verskroei natuurlik al wat vyand is, net soos in Elia se tyd. So word hulle vyande vernietig. Hulle kan ook keer dat daar ’n druppel reën val solank hulle die mense van God vertel. Soos Moses van ouds kan hulle die water oral ondrinkbaar maak. Hulle verander dit in bloed. Hulle kan ook - as hulle natuurlik wil - die aarde en die mense met allerhande plae tref. Hulle sal van God preek tot God besluit dit is genoeg. Dan sal ’n oorlog teen hulle losbrand. Die bose dier sal uit die bodemlose onderaardse diepte uitkom en woes teen hulle veg en wen. Hy sal hulle doodmaak en die lyke net daar in die strate van die groot stad Jerusalem laat lê. Niemand sal dit eens begrawe nie. Dis mos ’n skande! Hierdie stad is net so boos soos Sodom van ouds. Soos mense destyds in Egipte onderdruk en sleg behandel is, doen hulle dit nou hier in Jerusalem ook. Ja-nee, dit is mos die einste stad waarin hulle Here ook aan die kruis doodgemaak is. Mense van oral af sal die lyke daar in die straat bekyk. Hulle wou die lyke mos nie begrawe soos dit hoort nie. Dit sal drie en ’n halwe dae so aanhou. Wat nog erger is, is dat daar feeste sal uitbreek. Mense oor die hele wêreld kan hulle blydskap nie in toom hou nie! Hulle gee vir mekaar geskenke, die ene vrolikheid! Die rede vir al die opgewondenheid is die lyke in die straat. Daardie boodskappers van God het immers die mense se gewete baie omgekrap en hulle skuldig laat voel. Drie en ’n halwe dae het verbygegaan. Toe gryp God in en gee die asem wat lewe gee vir hulle terug. Die twee boodskappers van God kom toe weer regop. Die mense wat dit gesien het, het hulle asem weggeskrik. Hulle het soos riete gebewe, so bang was hulle. Iemand uit die hemel praat toe helder en duidelik met die twee boodskappers van God: “Kom hiernatoe.” Voor die oë van hulle vyande is die twee boodskappers in ’n wolk na God toe. Toe begin die hele aarde geweldig skud. ’n Tiende van die stad het inmekaargestort. Sewe duisend mense is in die aardbewing dood. Die mense wat in die stad oorgebly het, was paniekbevange. Hulle het daar en dan vir God grootgemaak en alle eer aan Hom gegee. Die tweede verskrikking was nou verby. Maar oppas! Die derde verskrikking is op pad, en vinnig ook! Toe blaas die sewende engel op sy trompet. ’n Geweldig harde stem uit die hemel sê toe: “Ons Here en sy Messias regeer nou oor die wêreld. Almal weet dit! Hy sal vir ewig en altyd bly regeer.” Die 24 leiers van die kerk (wat op die trone in die hemel gesit het) het eenvoudig voor God neergeval en Hom aanbid: “Here God, vir wie anders kan ons dankie sê as maar net vir U? Niemand is so sterk soos U en kan doen wat U doen nie. U is nou daar soos U nog altyd daar was. U gebruik die groot krag wat U het en U regeer. “Mense wat U nie dien nie probeer uit woede teen U wal gooi. Dit is tevergeefs, want U gaan hulle hulle verdiende straf gee. Die tyd het gekom om almal wat al dood is deur God se oordeel te laat toets. Ja, die tyd vir God se groot prysuitdeling is op hande: die mense wat Hom getrou gedien het, sal Hy beloon. Sy boodskappers en al die ander mense wat aan Hom behoort, sal nie oorgesien word nie. “Of iemand nou belangrik of onbelangrik is, as hy God as God erken en gerespekteer het, nooi God hom na sy prysuitdeling uit. “Die tyd is ook daar dat God die mense sal vernietig wat in hulle eie lewe net ’n pad van vernietiging agtergelaat het.” Toe skuif die deure van God se tempel in die hemel oop. Die ark, wat die teken van God se ooreenkoms met sy mense is en waar God spesiaal teenwoordig is, het in die tempel gestaan, oop en bloot vir almal om te sien. Weerligstrale het geslaan en die donder het gedreun. Groot haelstene het geval en die aarde het gebewe.

DIE OPENBARING 11:5-19 ABA (Bybel vir almal)

As 'n vyand die twee getuies wil seermaak, dan kom daar vuur uit hulle mond en die vuur verbrand die vyand. Ja, as 'n vyand die twee getuies wil doodmaak, dan moet die twee getuies die vyand só doodmaak. God het ook gesê dat hulle mag sê dit moenie reën nie, en dan sal dit nie reën nie. Terwyl hulle God se boodskap bring, sal dit nie reën nie. God het ook gesê hulle mag water verander sodat dit bloed word en hulle mag die aarde op baie maniere laat swaarkry, so baie maal soos hulle wil. Maar nadat die twee getuies God se boodskap gebring het, sal die dier kom wat in die onderwêreld woon, en hy sal oorlog maak teen die twee getuies. Hy sal hulle oorwin en hy sal hulle doodmaak. En die lyke van die twee getuies sal in die straat van die Groot Stad lê. 'n Mens moet dit geestelik verstaan, daardie stad se naam is Sodom en Egipte. Dit is dieselfde stad waar die mense die twee getuies se Here ook gekruisig het. Mense van al die volke en stamme en tale en lande sal na hulle lyke kyk, drie en 'n half dae lank. Die mense sal sê niemand mag hulle lyke begrawe nie. En die mense wat op die aarde woon, sal bly wees omdat die twee getuies dood is. Hulle sal juig en hulle sal vir mekaar presente stuur, want die twee getuies was profete en hulle het die mense laat swaarkry. Maar ná drie en 'n half dae het God sy asem in die twee getuies geblaas, en hulle het weer gelewe. Hulle het regop gestaan, en almal wat hulle gesien het, was baie bang. Hulle het gehoor dat Iemand hard uit die hemel roep: “Julle moet opkom hiernatoe!” En die twee getuies het in 'n wolk opgegaan na die hemel, terwyl hulle vyande vir hulle gekyk het. Op dieselfde tyd was daar 'n groot aardbewing, en dit het een tiende van die stad verwoes. Daar het 7 000 mense gesterf in die aardbewing. Die ander mense het baie bang geword en hulle het die God van die hemel geprys. Die tweede swaarkry is verby! Die derde swaarkry sal gou kom! Die sewende engel het sy trompet geblaas. Toe het die engele in die hemel hard geskree en gesê: “Die konings van die wêreld regeer nie meer nie! Ons Here en sy Christus regeer nou! Ons Here sal altyd en altyd regeer!” Die 24 ouderlinge wat op hulle trone voor God sit, het gaan lê met hulle gesigte teen die grond en hulle het vir God aanbid. Hulle het gesê: “Ons sê vir U dankie, Here God, Almagtige! U is altyd daar en U was altyd daar! U wys dat U baie sterk is en U regeer! Die volke was kwaad, maar nou het U kwaad geword! Ja, dit is nou die tyd wanneer U die mense moet oordeel, die mense wat gesterf het. Dit is nou die tyd wanneer U die profete moet beloon, die profete wat vir U gedien het. Dit is nou die tyd wanneer U almal moet beloon, almal wat aan U behoort, almal wat vir U respekteer, grootmense en kinders. Dit is nou die tyd wanneer U die mense moet doodmaak wat die aarde verwoes.” En die deure van God se tempel in die hemel het oopgegaan, en 'n mens kon die verbondskis in die tempel sien. Toe was daar weerlig en donderweer, dit het baie geraas. Daar was ook 'n aardbewing en groot stukke hael het geval.

DIE OPENBARING 11:5-19 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

As iemand hulle kwaad wil aandoen, vlam daar vuur uit hulle monde wat hulle vyande verteer; en as iemand hulle kwaad wil aandoen, moet hy ook so doodgemaak word. Hulle beskik oor die volmag om die hemel te sluit, sodat dit gedurende die tyd wat hulle profeteer, nie sal reën nie. Hulle het ook die volmag om, so dikwels as hulle wil, die water in bloed te verander, en om die aarde met elke moontlike plaag te tref. Wanneer hulle hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onpeilbare diepte verrys, teen hulle oorlog maak, en die oorhand oor hulle kry, en hulle doodmaak. Dan sal hulle lyke langs die hoofstraat van die groot stad lê, daardie stad wat, figuurlik gesproke, Sodom en Egipte genoem word, en waar ook hulle Here gekruisig is. Drie en 'n half dae lank sal mense vanuit die volke en stamme en tale en nasies hulle lyke daar sien lê, maar nie toelaat dat hulle liggame in 'n grafkamer begrawe word nie. Die aardbewoners sal oor hulle jubel en bly wees, en vir mekaar geskenke stuur, want hierdie twee profete het die aardbewoners gefolter.” Maar ná drie en 'n half dae het die lewegewende asem van God in hulle ingegaan. En hulle het op hulle voete gekom, terwyl diegene wat hulle gesien het, deur groot vrees oorval is. Toe het hulle 'n harde stem uit die hemel vir hulle hoor sê: “Kom op hierheen!” En hulle het in 'n wolk na die hemel opgevaar, terwyl hulle vyande hulle agternakyk. Op daardie uur het daar 'n groot aardbewing plaasgevind, en 'n tiende van die stad het inmekaar gestort. In die aardbewing het seweduisend mense omgekom, maar die res het vreesbevange geraak, en aan die God van die hemel heerlikheid betoon. Die tweede ramp het verbygegaan, en kyk, die derde een kom gou. Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. In die hemel het luide stemme opgeklink wat uitroep: “Die heerskappy van ons Here en sy •Christus oor die wêreld het aangebreek, en Hy sal as koning heers, vir ewig en ewig.” Ook die vier-en-twintig ouderlinge op hulle trone voor God het op hulle gesigte voor God neergeval en Hom aanbid, met die woorde: “Ons dank U, Here God, Almagtig, U wat is en wat was, omdat U u groot mag opgeneem het, en as koning heers. Die nasies was woedend, maar u toorn het ontvlam, en die bestemde tyd het aangebreek om u oordeel oor die dooies te vel, en om u diensknegte, die profete, en die •heiliges, en hulle wat ontsag het vir u Naam, klein en groot, te beloon, en om die vernietigers van die aarde te vernietig.” Toe is God se tempel in die hemel geopen, en die •verbondsark in sy tempel het sigbaar geword. Daar was ook weerligstrale, dreunings, donderslae, 'n aardbewing en 'n groot haelstorm.

DIE OPENBARING 11:5-19 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En as iemand hulle wil seermaak, gaan daar vuur uit hulle mond en verteer hulle vyande; en as iemand hulle wil seermaak, moet hy op hierdie manier doodgemaak word. Hulle het mag om die hemel toe te sluit, sodat dit nie reën in die dae van hulle profesie nie; en hulle het mag oor waters om dit in bloed te verander en om die aarde te slaan met al die plae, so dikwels as wat hulle wil. En wanneer hulle hul getuienis voltooi het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak. En hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ons Here ook gekruisig is. En hulle uit die volke en geslagte en tale en nasies sal hulle lyke drie en 'n half sien, en hulle sal nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. En die bewoners van die aarde sal oor hulle bly wees en vrolik wees en geskenke aan mekaar stuur; want hierdie twee profete het die bewoners van die aarde gepynig. En ná drie en 'n half dae het die Gees van die lewe van God in hulle ingegaan, en hulle het op hulle voete gaan staan; en groot vrees het geval op die wat hulle gesien het. En hulle het 'n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen. En hulle het opgevaar na die hemel in 'n wolk; en hulle vyande het hulle aanskou. En in dieselfde uur was daar 'n groot aardbewing, en die tiende van die stad het geval, en in die aardbewing is sewe duisend mense gedood; en die oorblyfsel het bevrees geword en aan die God van die hemel eer gegee. Die tweede wee is verby; en kyk, die derde wee kom gou. En die sewende engel het geblaas; en daar was groot stemme in die hemel wat gesê het: Die koninkryke van hierdie wêreld het die koninkryke van onse Here en van sy Christus geword; en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid. En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle stoele gesit het, het op hulle aangesig geval en God aanbid, en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom; want jy het jou groot mag na jou geneem en as koning geregeer. En die nasies was toornig, en u toorn het gekom en die tyd van die dode, dat hulle geoordeel sou word, en dat U loon sou gee aan u dienaars, die profete, en aan die heiliges en die wat u Naam vrees, klein en groot; en die wat die aarde verwoes, moet vernietig. En die tempel van God is in die hemel geopen, en die ark van sy testament is in sy tempel gesien, en daar was weerligstrale en stemme en donderslae en 'n aardbewing en groot hael.