DIE OPENBARING 12:1-9 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 12:1-9 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe het daar 'n groot teken in die hemel verskyn: daar was 'n vrou met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre. Sy was swanger en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar. Daar het ook 'n ander teken in die hemel verskyn: daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. Sy stert het 'n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan wat op die punt was om 'n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring. Sy het 'n kind in die wêreld gebring, 'n seun, bestem om al die nasies met 'n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe, en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar 'n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg. Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.

DIE OPENBARING 12:1-9 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood. En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank. En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

DIE OPENBARING 12:1-9 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

’n Groot teken het in die hemel sigbaar geword: ’n vrou wat met die son omklee is, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon met twaalf sterre. Sy was verwagtend en het geskreeu van die geboortepyne en die benoudheid. Daar het ook ’n ander teken in die hemel sigbaar geword: Kyk net – ’n groot rooi draak met sewe koppe en tien horings en op sy koppe was daar sewe koningskrone. Sy stert het ’n derde van die sterre van die hemel meegesleur en hulle op die aarde neergegooi. Die draak het reg voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om wanneer sy geboorte skenk, haar kind op te vreet. Sy het geboorte geskenk aan ’n manlike kind, wat al die nasies met ’n ysterstaf sal beheer. Haar kind is weggeruk van die draak af, na God en na sy troon toe. Die vrou het na die woestyn toe gevlug, waar sy ’n plek gehad het wat deur God vir haar voorberei is sodat hulle haar daar 1 260 dae lank kan versorg. Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Die draak en die engele onder sy beheer het aan die oorlog deelgeneem, maar hy is verslaan. In die hemel was daar geen plek meer vir die draak en die engele onder sy beheer te vind nie. Die reuse draak is uitgegooi, dit is die slang van die oertyd wat ook die duiwel en Satan genoem word, en wat die hele bewoonde wêreld verlei. Hy is op die aarde neergegooi, asook sy bose engele saam met hom.

DIE OPENBARING 12:1-9 DB (Die Boodskap)

In die hemel sien ek toe iets gebeur waaruit ons ’n belangrike les kan leer. Ek het ’n vrou gesien. Haar klere was so helder soos die son self en sy het op die maan gestaan, so belangrik was sy. Op haar kop was ’n kroon wat net mense kry wat wen en nie verloor nie. Die kroon was van twaalf sterre gemaak. Sy het ’n baba verwag. Omdat sy op die punt was om die baba te kry, het sy van die pyn geskree. Maar dit was nie al nie. Ek sien toe ’n groot draak in die lug met ’n bloeddorstige rooi kleur. Hy het sewe koppe en tien horings gehad. Op elke kop was daar ook ’n kroon soos ’n koning sou dra. Dit was duidelik dat hierdie draak sterk was en dat baie aardse leiers agter hom aangeloop het. Hy was vernietigend. Hy swaai sy stert en slaan ’n derde van die sterre uit die hemel uit dat hulle tot op die aarde val. Die draak het reg voor die vrou gaan staan om die kind te verslind wat sy besig was om te kry. Die kind word toe gebore. Dit was ’n seun, maar nie sommer enige seun nie. Hy is die Een wat oor al die mense in hierdie wêreld sal regeer. Wie nie na Hom luister nie, sal onder sy verskriklike straf deurloop. Die draak was te stadig. Toe die Seun gebore is, is Hy opgeraap en na God toe, wat oor alles heers, gevat. Die vrou het die woestyn in gevlug waar God vir haar ’n spesiale plek reggemaak het. Sy het so lank as wat dit nodig was (omtrent so 1 260 dae) daar gebly. God het vir haar alles gegee wat sy nodig gehad het. Daar breek toe ’n oorlog in die hemel uit. Die oorlogsgeneraal van God, Migael, en sy engele pak toe die draak in ’n oorlog. Die draak en sy engele het hulle bes probeer, maar tevergeefs. Hulle het liederlik verloor. Daar was toe nie meer vir hulle ’n plek in die hemel nie. Hulle is verbied om hulle voete daar te sit. So is die groot draak uit die hemel uitgesmyt. Ek praat nou van die slang van wie ons lank terug al in die Bybel lees. Sy ander name is duiwel en Satan. Hy het al die mense wat op die aarde bly heeltemal op die verkeerde pad gelei. Juis hy is saam met sy engele uit die hemel gegooi.

DIE OPENBARING 12:1-9 ABA (Bybel vir almal)

Ek het 'n groot teken in die hemel gesien: Daar was 'n vrou. Die son was haar klere, die maan was onder haar voete, en op haar kop was 'n kroon van twaalf sterre. Die vrou was swanger en sy het geskree, want sy was besig om 'n baba te kry en sy het baie pyn gehad. En ek het gekyk en ek het nog 'n teken in die hemel gesien: Daar was 'n groot draak! Die draak was baie rooi en hy het sewe koppe en tien horings gehad. Daar was sewe krone op sy koppe. Die draak het sy stert gebruik en hy het een derde van die sterre in die lug afgeruk en op die grond gegooi. Hy het gaan staan voor die vrou wat besig was om 'n kind te kry. Die draak wou die kind opvreet wanneer die kind gebore word. Die vrou het 'n seun gekry. God het besluit dat die seun die volke met 'n yster-septer moet regeer. En God het die kind vinnig weggeneem na die hemel, na God se troon. Toe het die vrou na die woestyn gevlug. Daar was 'n plek in die woestyn, 'n plek wat God vir haar gereedgemaak het. Daar het God 1 260 dae lank vir haar gesorg. Toe was daar oorlog in die hemel. Migael en sy engele het oorlog gemaak teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gemaak teen Migael en sy engele. Maar die draak en sy engele het verloor. Daar was nie meer plek vir hulle in die hemel nie. God het die groot draak uit die hemel gegooi. Die draak is die ou slang, die mense noem hom “ die duiwel” en “ Satan.” Hy bedrieg al die mense van die wêreld. God het hom en sy engele op die aarde gegooi.

DIE OPENBARING 12:1-9 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe het daar 'n indrukwekkende teken in die hemel verskyn: 'n vrou beklee met die son, met die maan onder haar voete, en op haar kop 'n kroon van twaalf sterre. Sy was swanger, en omdat sy in kraam was, het sy van geboortepyn geskree. En 'n ander teken het in die hemel verskyn: Kyk, daar was 'n groot vuurrooi draak, met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone. Sy stert het 'n derde van die hemel se sterre saamgesleep en dit op die aarde neergegooi. Die draak het toe voor die vrou wat op die punt was om geboorte te skenk, gaan staan om, sodra sy geboorte skenk, haar kind te verslind. Sy het geboorte geskenk aan 'n manlike kind, bestem om al die nasies met 'n ysterstaf te regeer. En haar kind is weggevoer na God en sy troon. Die vrou het egter die woestyn in gevlug, na 'n plek wat daar vir haar deur God gereedgemaak is, sodat hulle haar daar twaalfhonderd-en-sestig dae lank kon versorg. En daar het oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak oorlog gevoer. Die draak en sy engele het ook oorlog gevoer, maar was nie sterk genoeg nie – daarom was daar nie meer vir hulle plek in die hemel te vind nie. Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele.

DIE OPENBARING 12:1-9 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En daar het 'n groot wonder in die hemel verskyn; 'n vrou bekleed met die son, en die maan onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; En sy wat swanger was, het gehuil, baar in geboorte en pyn gehad om te baar. En daar het 'n ander wonder in die hemel verskyn; en daar was 'n groot rooi draak met sewe koppe en tien horings en sewe krone op sy koppe. En sy stert het die derde deel van die sterre van die hemel getrek en hulle op die aarde gegooi; en die draak het voor die vrou gestaan wat gereed was om te baar, om haar kind te verslind sodra dit gebore is. En sy het 'n manlike kind gebaar wat al die nasies met 'n ysterstaf sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en na sy troon. En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend twee honderd en sestig dae lank. En daar was oorlog in die hemel: Migael en sy engele het teen die draak geveg; en die draak het geveg en sy engele, En nie oorwin nie; en hulle plek is nie meer in die hemel gevind nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word Duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei; hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.