DIE OPENBARING 14:1-11 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 14:1-11 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe het ek die Lam op Sionsberg sien staan en by Hom honderd vier en veertig duisend mense met sy Naam en sy Vader se Naam op hulle voorkoppe geskrywe. En ek het 'n geluid uit die hemel uit hoor kom wat soos die gedruis van 'n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer geklink het. Die geluid wat ek gehoor het, was ook soos dié van siterspelers wat op hulle siters speel. Hierdie mense sing 'n nuwe lied daar voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand anders as net hierdie honderd vier en veertig duisend mense, wat van die aarde af losgekoop is, kon hierdie lied leer nie. Dit is hulle wat hulle nie met vrouens besoedel het nie; hulle het kuis gebly. Hulle volg die Lam waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense uit losgekoop as eerstelinge vir God en vir die Lam. Uit hulle mond het daar nooit 'n leuen gekom nie. Hulle is onberispelik. Toe het ek 'n engel hoog in die lug sien vlieg. Hy het 'n goeie boodskap gehad wat vir ewig van krag bly. Hy moes dit aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taal en volk verkondig, en hy het met 'n harde stem uitgeroep: “Vrees God en gee aan Hom die eer, want die tyd het aangebreek vir sy oordeel. Aanbid Hom wat die hemel en die aarde, die see en die waterbronne gemaak het.” 'n Tweede engel het agter die eerste aan gevlieg en uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon wat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink het.” 'n Derde engel het agter die eerste twee aan gevlieg en hard uitgeroep: “Wie die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorkop of op sy hand aanvaar, sal van die wyn van God se toorn moet drink. Dit word onverdun in die beker van sy oordeel ingeskink. In die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam sal hy met vuur en swael gepynig word. Die rook van hierdie pyniging styg tot in alle ewigheid op, en hierdie mense het dag en nag geen rus nie, hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en dié wat die merk van sy naam aanvaar.”

DIE OPENBARING 14:1-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd-vier-en-veertigduisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe. En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van 'n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters. En hulle het 'n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd-vier-en-veertigduisend wat van die aarde vrygekoop is. Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God. EN ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het. En 'n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon, die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery. En 'n derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie — hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.

DIE OPENBARING 14:1-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op Sionsberg, en by Hom 144 000 met sy Naam en dié van sy Vader op hulle voorkoppe geskryf. En ek het van die hemel af ’n geluid gehoor soos die gedruis van ’n groot waterval en soos die gerammel van swaar donderweer. Die geluid wat ek gehoor het, was soos dié van musikante wat op hulle siters speel. Hulle sing ’n nuwe lied in die teenwoordigheid van die troon, die vier lewende wesens en die ouderlinge. Niemand behalwe die 144 000 wat van die aarde af losgekoop is, was in staat om hierdie lied te bemeester nie. Dit is hulle wat hulle nie met vroue besoedel het nie omdat hulle onthouding beoefen het. Hulle volg die Lam waar Hy ook al lei. Hulle is onder die mense uit losgekoop as ’n eersteling van die oes, gewy aan God en aan die Lam. En in hulle mond vind jy geen leuen nie. Hulle is vlekkeloos. Toe het ek ’n ander engel in die middel van die hemelruim sien vlieg. Hy het die ewige Goeie Nuus gebring. Hy moes die Goeie Nuus bring aan die bewoners van die aarde, aan elke nasie, stam, taalgroep en volk. En hy het toe met ’n kragtige stem uitgeroep: “Eerbiedig God en bewys Hom eer, want die uur van sy oordeel het aangebreek. Val in aanbidding voor Hom neer wat die hemel en die aarde, die see en die waterfonteine gemaak het.” ’n Ander engel, ’n tweede, het gevolg en uitgeroep: “Die magtige Babilon het geval, ja, geval! Babilon het al die nasies bedwelm met die wyn van haar passie vir seksuele sonde.” Nog ’n engel, ’n derde, het agter die ander gevolg en met ’n kragtige stem uitgeroep: “As iemand neerkniel voor die monster en sy standbeeld en ’n merk op sy voorkop of op sy hand het, sal hy ook van die wyn van God se woede moet drink. Dié wyn word onverdun in die beker van sy wraak ingeskink. Hulle sal ook gefolter word in vuur en swael in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam. Die rookwolk van hulle foltering styg vir altyd na bo, en hulle het dag en nag nie rus nie; dit is húlle wat die monster en sy standbeeld aanbid, en wat die merk van sy naam dra.”

DIE OPENBARING 14:1-11 DB (Die Boodskap)

Ek kyk toe weer mooi, en wat sien ek? Op die heilige berg Sion het Jesus, die Lam, gestaan en by Hom was 144 000 mense. Elkeen van hulle het die Naam van die Lam en die Naam van sy Vader duidelik op hulle voorkoppe geskryf gehad. Ek het toe iemand uit die hemel hoor praat. Dit het geklink soos ’n geweldige donderstorm met water wat neergiet. Maar die stem het tegelyk soos pragtige musiek geklink. Al hierdie mense het die pragtigste lied gesing wat niemand nog ooit gehoor het nie. Voor God op sy troon en die vier lewende wesens en die kerkleiers het die lied opgeklink. Snaaks genoeg kon niemand anders hierdie lied aanleer of sing nie. Dit was spesiaal net vir die 144 000. God het hulle mos vrygekoop van dit wat hulle op die aarde gebind het. Hierdie mans het nie onsedelik saam met vroue geleef nie. Hulle is rein. Hulle het die Lam gevolg net waar Hy gegaan het. God het hulle eerste uit al die mense sy eiendom gemaak. Hulle is die eerstes van nog baie ander wat aan God en die Lam gaan behoort. Hulle het ook nooit vir enigiemand gelieg nie. Teen hulle is daar niks te sê nie. Toe sien ek nog ’n ander engel wat bo my tussen die wolke vlieg. Die engel het oorgeloop van die goeie nuus van God en wou dit vir almal vertel. Dit is die nuus wat vir ewig en altyd goed sal bly. Die engel moes sorg dat al die mense op die aarde dit hoor, maak nie saak wie dit is of waar hulle bly nie. Daarom het die engel hard geskree sodat almal dit kon hoor: “Betoon respek vir God, want vir Hom moet julle ontsag hê. “Maak Hom groot, want die tyd is hier dat mense voor God gaan verskyn om te hoor wat sy oordeel oor hulle is. “Aanbid Hom! Hy het die hemel gemaak. Die aarde met die see en fonteine het Hy met sy hande gemaak.” Dit was skaars verby of ’n tweede engel was daar: “Dit is klaarpraat met Babilon, die stad vol sondige mense; ja, die grote Babilon is verby! Sy wou mos al die mense forseer om soos sy te leef asof God nie bestaan nie. So, sonder God, het hulle geleef soos mense wat hulle dronk drink.” ’n Derde engel kom toe en skreeu net so hard: “As iemand die dier met sy standbeeld aanbid en die dier se merk op sy voorkop of hand dra, sal hy ’n ander soort wyn drink; die wyn van God se straf. God se woede en ontevredenheid sal wees soos ’n glas wat vol wyn gegooi word. Die mense wat aan die dier behoort, sal dit dan moet drink, of hulle wil of nie! Dit sal wees soos iemand wat in ’n verskriklike warm vuur baie seer brand. Die engele en die Lam sal staan en kyk hoe dit gebeur. Die vuur se rook sal wys hoe seer hierdie mense brand. En dit sal nooit einde kry nie. Die arme mense wat die dier aanbid en met hom gespog het deur sy merk te dra, gaan baie swaarkry. Hulle sal dag en nag die ondraaglikste pyn moet verduur.

DIE OPENBARING 14:1-11 ABA (Bybel vir almal)

En ek het gekyk en gesien die Lam staan op Sionsberg! Saam met Hom was daar 144 000 mense. Die Naam van die Lam en die Naam van die Vader was op hulle voorkoppe geskryf. Toe hoor ek die engele in die hemel sing. Hulle stemme was so hard soos baie water wat raas, soos baie harde donderweer, soos wanneer mense op harpe speel. Hulle het 'n nuwe lied gesing voor God se troon en voor die vier diere en voor die ouderlinge. Net die 144 000 mense kon daardie lied leer, niemand anders nie, want God het hulle losgekoop. Hulle het nie onsedelik gelewe nie, hulle was maagde. Hulle het oral saam met die Lam gegaan. God het hulle vrygekoop. Ja, hulle was die eerste mense wat aan Hom en aan die Lam behoort het, God het hulle losgekoop om aan Hom te behoort. Hulle het nooit leuens vertel nie, hulle het heeltemal reg gelewe. Ek het 'n ander engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het 'n boodskap gehad, 'n boodskap wat altyd goed is. Hy moes die boodskap bring vir die mense van al die lande, stamme, tale en volke. Die engel het hard geskree en gesê: “Julle moet vir God respekteer, want Hy gaan nou die mense oordeel! Julle moet Hom aanbid! Hy het die hemel en die aarde en die see en die fonteine gemaak.” 'n Tweede engel het gekom. Hy het geskree en gesê: “ Babilon, die groot stad, is afgebreek en verwoes! Ja, dit is plat! Babilon was soos 'n vrou wat onsedelik lewe, dit was vir haar baie lekker om so te lewe. En sy het vir die mense van die ander volke geleer om onsedelik te lewe.” 'n Derde engel het gekom. Hy het hard geskree en gesê: “God sal die mense straf wat die dier en sy beeld aanbid, die mense wat die dier se merk op hulle voorkoppe of op hulle hande het! God is baie kwaad vir hulle. Hy sal hulle straf en Hy sal vir hulle die beker van swaarkry laat drink. Hy sal hulle seermaak met vuur en swael. God se engele en die Lam sal dit sien gebeur. Die vuur wat hulle seermaak, hou aan om altyd te brand, en hulle kan nooit rus nie, nie in die dag nie en ook nie in die nag nie. So sal dit gaan met almal wat die dier en sy beeld aanbid en wat die merk van sy naam gekry het.”

DIE OPENBARING 14:1-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom is daar honderd vier-en-veertigduisend mense met sy Naam, en ook sy Vader se Naam, op hulle voorkoppe geskryf. En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor, soos die gedruis van baie waters en die gerammel van swaar donderweer. Die geluid wat ek gehoor het, het geklink soos dié van lierspelers wat hulle liere bespeel. Hulle het 'n nuwe lied voor die troon en in die teenwoordigheid van die vier lewende wesens en die ouderlinge gesing. Niemand kon egter dié lied leer nie, behalwe die honderd vier-en-veertigduisend mense wat van die aarde losgekoop is. Hulle is die mense wat hulle nie met vroue besoedel het nie, omdat hulle kuis is. Hulle volg die Lam, waar Hy ook al gaan. Hulle is uit die mense losgekoop, as eerstelinge vir God en die Lam. En oor hulle lippe het geen enkele leuen gekom nie. Hulle is onberispelik. Toe het ek 'n ander engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het 'n ewige evangelie ontvang, om dit te gaan verkondig aan die aardbewoners, aan elke nasie en stam en taal en volk. Met 'n harde stem het hy uitgeroep: “Julle moet ontsag hê vir God en heerlikheid bewys aan Hom, want die tyd van sy oordeel het aangebreek. Aanbid Hom wat die hemel, die aarde, die see en die fonteine geskep het. ” Ná hom het 'n ander engel, 'n tweede een, gekom en uitgeroep: “Geval, geval het Babilon, die magtige, sy wat al die nasies van die wyn van die wellus van haar hoerery laat drink het. ” Ná hom het 'n ander engel, 'n derde een, gekom en met 'n harde stem uitgeroep: “As iemand die dier en sy beeld aanbid, en 'n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.” En die rook van hulle foltering bly opstyg vir ewig en ewig, en hulle wat die dier en sy beeld aanbid, kry dag en nag geen rus nie, ook nie hulle wat die merk van sy naam ontvang het nie.

DIE OPENBARING 14:1-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend, met die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe. En ek het 'n stem uit die hemel gehoor, soos die stem van baie waters en soos die stem van 'n groot donderslag, en ek het die stem van siters met hul siters gehoor. En hulle het soos 'n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon daardie lied leer nie, behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde losgekoop is. Dit is hulle wat nie met vroue verontreinig is nie; want hulle is maagde. Dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook al gaan. Hulle is onder die mense losgekoop, as eerstelinge vir God en die Lam. En in hulle mond is geen bedrog gevind nie, want hulle is onberispelik voor die troon van God. En ek het 'n ander engel in die middel van die hemel sien vlieg met die ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan elke nasie en geslag en tale en volk, en met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom eer; want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het. En 'n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon, die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die toorn van haar hoerery. En die derde engel het hulle gevolg en met 'n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en sy merk op sy voorhoof of in sy hand ontvang, Hy sal drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng in die beker van sy grimmigheid geskink word; en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die aangesig van die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie, wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam aanneem.