DIE OPENBARING 17:3-18 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 17:3-18 AFR83 (Afrikaans 1983)

Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na die woestyn toe geneem. Daar het ek 'n vrou gesien wat op 'n helderrooi dier sit. Die dier was oortrek met godslasterlike name en het sewe koppe en tien horings gehad. Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy 'n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid. Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het 'n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.” En ek het gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die gelowiges, van die bloed van die mense wat vir Jesus getuig het. Toe ek haar sien, het ek my baie verwonder. Die engel sê toe vir my: “Waarom verwonder jy jou? Ek sal jou vertel wat die verborge betekenis is van die vrou en van die dier wat haar dra, wat die sewe koppe en die tien horings het. “Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie. Hy gaan uit die onderaardse diepte uit kom en gaan na die verderf toe. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die skepping van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe staan nie, sal verwonderd wees as hulle die dier sien, want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees. “Hier is verstand en wysheid nodig. Die sewe koppe is sewe berge. Daar by hulle het die vrou haar setel. Verder is hulle ook sewe konings. Die eerste vyf het geval. Die sesde is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort rukkie bly. Die dier wat eers was en nie nou is nie, is self die agste. Hy hoort by die sewe en gaan na die verderf toe. “Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap gekry nie, maar hulle kry saam met die dier een uur lank gesag as konings. Hulle het een en dieselfde doel voor oë, en hulle stel hulle mag en gesag tot die dier se beskikking. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.” Verder het hy vir my gesê: “Die waters wat jy gesien het waar die sedelose vrou bly, is volke en stamme, nasies en tale. “Die tien horings wat jy gesien het, en die dier, hulle sal die sedelose vrou haat en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verbrand. God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het. “Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde uitoefen.”

DIE OPENBARING 17:3-18 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En hy het my in die gees weggevoer na 'n woestyn, en ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand 'n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was 'n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra. Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is. Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf. En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin — want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings — en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou. En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale. En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde van God volbring is. En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.

DIE OPENBARING 17:3-18 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Die engel het my toe deur die Gees meegevoer na die woestyn toe. Daar het ek ’n vrou gesien wat op ’n bloedrooi monster sit. Die monster was aan alle kante vol godslasterlike name geskryf, en hy het sewe koppe en tien horings gehad. Die vrou het pers en bloedrooi klere aangehad en was getooi met goud, kosbare stene en pêrels. In haar hand het sy ’n goue beker gevul met vieslikhede en die onrein dinge van haar seksuele wanpraktyke vasgehou. Op haar voorkop was ’n geheimsinnige naam geskryf: “Groot Babilon, die moeder van dié wat seksuele wanpraktyke beoefen en van die losbandighede op die aarde.” Ek het ook gesien dat die vrou dronk was van die bloed van hulle wat aan God toegewy is, van die bloed van hulle wat getuies van Jesus is. Ek het haar aangestaar, geheel en al verwonderd. Die engel sê toe vir my: “Waarom is jy so verwonderd? Ek sal jou vertel wat die misterie van hierdie vrou is, en van die monster met die sewe koppe en tien horings wat haar ronddra. “Die monster wat jy gesien het, wás eers, maar is nie nou meer nie. Hy gaan uit die bodemlose diepte uit opkom om dan na die verderf toe te gaan. Die bewoners van die aarde wie se name nie van die fondamentlegging van die wêreld af in die Boekrol van die Lewe opgeskryf staan nie, sal verwonderd wees wanneer hulle die monster sien, want eers was hy en nou is hy nie meer nie en tog sal hy wees. “In hierdie geval is onderskeidingsvermoë nodig vir elkeen wat oor wysheid beskik. Die sewe koppe is die sewe heuwels waarop die vrou sit. Verder is daar ook sewe konings. Vyf konings het reeds geval. Die sesde een is nou hier. Die ander een het nog nie gekom nie; wanneer hy kom, moet hy net vir ’n kort rukkie bly. En die monster wat eers was en nie meer is nie, is self die agtste koning. Hy hoort by die sewe, en is op pad na sy vernietiging toe. “Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie heerskappy ontvang nie, maar kry saam met die monster een uur lank gesag as konings. Hulle het net een doelwit in gedagte en hulle stel hulle krag en mag tot beskikking van die monster. Hulle sal teen die Lam oorlog maak, maar die Lam – saam met dié wat Hy geroep en uitverkies het en wat betroubaar is – sal hulle oorwin, want Hy is die Here van die heersers en die Koning van die konings.” Die engel het ook aan my gesê: “Die waterstrome wat jy gesien het waar die prostituut sit, verteenwoordig volke, skares mense, nasies en taalgroepe. En die tien horings wat jy gesien het en die monster, hulle sal die prostituut haat en haar kaalgestroop en verlate maak. Hulle sal haar vleis opeet en haar met vuur verskroei. “God het dit in hulle harte geplant om aan sy bedoeling uitvoering te gee. Hulle het een en dieselfde plan gehad: om hulle heerskappy tot beskikking van die monster te stel totdat God se woorde in vervulling gegaan het. “Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”

DIE OPENBARING 17:3-18 DB (Die Boodskap)

Die engel vat my toe die woestyn in. Ek was baie bewus van die Heilige Gees by my. Daar in die woestyn sien ek toe ’n beeld van die stad wat lyk soos ’n vrou. Sy het op ’n bloedrooi dier gesit. Die dier was oortrek met die vieslikste vloekwoorde wat God baie lelik beledig het. Die dier het sewe koppe gehad en tien horings. Hy het nogal in die oë van mense baie sterk gelyk. Die vrou was in pers en rooi klere uitgedos. Sy het ook pragtige juwele gedra: dit was alles van goud, pêrels en ander duur edelstene. Geld en rykdom was al wat vir haar belangrik was. In haar hand het sy ’n goue beker vasgehou. Die beker was propvol van haar vieslikhede en vuil onsedelikheid. Vir God was dit walglik. Sy het ook ’n naam gehad wat op haar voorkop geskryf was. Dit het ’n geheime betekenis gehad. Daar het gestaan: “Babilon, die groot en beroemde stad. Die moeder van alle mense wat hulle rug vir God draai en hulle met die vieslikhede van hierdie wêreld besig hou.” Ek het mooi gekyk en gesien dat die vrou dronk was. Ja, sy was dronk van al die bloed van God se mense en die mense wat doodgemaak is omdat hulle Jesus Christus gedien het. My mond het oopgehang toe ek haar sien. Ek kon my oë nie glo nie! Die engel sê toe vir my: “Hoekom is jy so verbaas? Ek sal die geheim vertel van die vrou en die dier met die sewe koppe en tien horings wat haar dra. Dit was in die verlede belangrik, maar nou is dit weg. In die toekoms sal dit weer uit die onderaardse diepte uitkom, net om totaal vernietig te word. Mense sal vreeslik beïndruk wees as hulle die dier sien, omdat hy in die verlede daar was, toe verdwyn het, maar skielik weer in die toekoms te voorskyn sal kom. Maar dit is nie waar van alle mense nie. Dit is net waar van mense wie se naam nie van die begin af in die boek van die ewige lewe geskrywe is nie. “Om al hierdie dinge te verstaan moet ’n mens mooi dink. Kophou is die antwoord. Die sewe koppe van die dier stel die sewe heuwels voor waarop die vrou sit, met ander woorde, waarop die stad gebou is. Daar was ook sewe regeerders. Vyf van hulle was al klaar daar. Die sesde een regeer nou. Die sewende een is nog op pad. Hy sal nie lank regeer nie. Dan is daar die dier wat in die verlede daar was, maar nou van die toneel verdwyn het. Hy is deel van sy sewe voorgangers, maar is tegelyk die agtste regeerder. Hy is op pad om sy moses teë te kom. Hy gaan vernietig word. “Die tien horings wat jy gesien het, is die tien regeerders wat nog nie begin regeer het nie. Hulle sal saam met die dier ’n uur lank soos konings kan regeer. Al tien het net een doel voor oë: hulle wil al hulle mag en invloed vir die dier gee. Hulle sal saam oorlog maak teen die Lam, maar die Lam sal hulle ’n goeie pak slae gee. Die Lam is die regeerder van al die regeerders. Al sy mense kan weet dat Hy hulle spesiaal na Hom toe geroep het. Hulle is spesiaal gekies en het aan Hom getrou gebly.” Die engel sê toe verder: “Die baie water wat jy gesien het, waaroor die slegte vrou sit, moet vergelyk word met al die mense van die wêreld. Dit maak nie saak waar hulle vandaan kom, hoe hulle lyk of watter taal hulle praat nie. Die tien horings (dit is mos die tien regeerders) wat jy gesien het en die rooi dier sal niks vir die slegte vrou voel nie. Hulle sal haar molesteer en sonder ’n draad klere aan laat lê. Dan sal hulle haar met hulle tande uitmekaarskeur en opeet. Wat oorbly, sal hulle met vuur verbrand. God self het daarvoor gesorg dat die regeerders op die idee gekom het om hulle mag vir die dier te gee. Hulle het presies gedoen wat God wou gehad het. So sal dit aangaan tot alles wat God gesê het, presies gebeur het. Die vrou wat jy gesien het, is die groot en belangrike stad wat oor al die heersers van die wêreld getroon en geheers het.”

DIE OPENBARING 17:3-18 ABA (Bybel vir almal)

Die Gees het in my gekom en die engel het my na die woestyn geneem. En ek het 'n vrou gesien wat sit op 'n dier wat baie rooi was. Daar was name geskryf op die dier, name wat vir God gelaster het. Die dier het sewe koppe en tien horings gehad. Die vrou het klere gehad wat pers en baie rooi was. Sy het baie goud en juwele en pêrels gedra. In haar hand was 'n goue beker. Die goue beker was vol slegte en onrein dinge, dit was vol onsedelike dinge. Op haar voorkop was daar 'n naam geskryf wat niemand verstaan het nie. Daar was geskryf: “Groot Babilon, die ma van al die prostitute, die ma van al die slegte dinge wat op die aarde is.” Ek het gesien dat die vrou dronk is, want sy het die bloed gedrink van die mense wat aan God behoort, die mense wat gesterf het omdat hulle in Jesus glo. Ek was baie verbaas toe ek die vrou sien. Maar die engel het vir my gesê: “Hoekom is jy verbaas? Ek sal vir jou vertel wat beteken die vrou en die dier wat haar dra, die dier wat sewe koppe en tien horings het. Jy het 'n dier gesien. Hy het voorheen gelewe en hy lewe nie nou nie, maar hy sal uitkom uit die onderwêreld, en dan sal God hom doodmaak. Al die mense op die aarde sal baie verbaas wees wanneer hulle die dier sien, want die dier het voorheen gelewe, hy lewe nie nou nie, maar hy sal weer lewe. Wie sal verbaas wees oor die dier? Dit is die mense wie se name nie geskryf is in die boek van die lewe nie. God het party mense se name in die boek van die lewe geskryf voordat Hy die wêreld gemaak het. “Nou moet 'n mens goed dink en slim wees: Die sewe koppe is die sewe berge waar die vrou sit. Hulle is ook sewe konings. Vyf konings is klaar dood. Die sesde koning regeer nou. Die sewende koning sal nog kom, maar hy moet net 'n kort tydjie regeer. Die dier wat voorheen gelewe het en wat nie nou lewe nie, is die agste koning, maar hy is ook een van die eerste sewe konings. God sal hom doodmaak. “Jy het tien horings gesien. Dit is tien konings. Hulle het nog nie begin regeer nie. Hulle sal mense kry om oor te regeer, maar hulle sal net een uur lank regeer. Hulle sal saam met die dier regeer. Hulle dink almal dieselfde en hulle doen alles wat hulle kan om die dier te help. Hulle sal oorlog maak teen die Lam, maar die Lam sal hulle oorwin, want die Lam is die Here van almal wat regeer en Hy is die Koning van al die konings. Hy het mense gekies om aan Hom te behoort, en daardie mense sal altyd in Hom glo.” Die engel het vir my gesê: “Jy het gesien die prostituut sit by baie water. Die water is die mense van baie volke en stamme en lande en tale. “Jy het tien horings gesien. Die tien horings en die dier sal die prostituut haat. Hulle sal sê dat almal haar moet los. Hulle sal haar kaal maak en hulle sal haar eet en haar verbrand. Want God sal hulle laat doen wat Hy wil hê. Hulle sal almal dieselfde dink en doen, en hulle sal regeer om die dier te help. Dit sal so wees totdat alles gebeur soos God gesê het dit moet gebeur. “Jy het 'n vrou gesien. Dit is die Groot Stad wat regeer oor al die konings van die aarde.”

DIE OPENBARING 17:3-18 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Ek is deur die Gees meegevoer na 'n woestyn, en het daar 'n vrou sien sit op 'n helderrooi dier, wat oortrek was met godslasterlike name, en wat sewe koppe en tien horings het. Die vrou het purperrooi en helderrooi klere gedra, en was versier met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy 'n goue beker gehou, vol afskuwelikhede, en die onrein dinge van haar hoerery. En op haar voorkop was 'n naam geskryf, 'n misterie: “Babilon die Grote, die moeder van die prostitute, en van al die afskuwelikhede van die aarde.” Ek het ook gesien dat die vrou dronk is van die bloed van die •heiliges, en van die bloed van die getuies van Jesus. Toe ek haar sien, was ek uitermate verbaas. Die engel sê toe aan my: “Waarom is jy so verbaas? Ek sal die misterie aan jou verduidelik van die vrou, en die dier met sy sewe koppe en tien horings wat haar dra. Die dier wat jy gesien het, was eers, maar is nou nie meer nie; en hy is op die punt om uit die onpeilbare diepte op te kom, op pad na sy ondergang. Die aardbewoners wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boekrol van die lewe opgeskryf is nie, sal verbaas wees wanneer hulle die dier sien, want eers was dit, maar is nou nie meer nie, en sal tog weer wees. “Hiervoor is insig met wysheid nodig. “Die sewe koppe is sewe berge waarop die vrou sit. Daar is ook sewe konings. Vyf het tot 'n val gekom; daar is nou net een – die ander een het nog nie gekom nie. Wanneer hy egter opdaag, moet hy vir 'n klein rukkie bly. En die dier wat eers was, maar nie nou is nie, is self die agtste; hy kom uit die sewe voort, en is op pad na sy ondergang. Die tien horings wat jy gesien het, is tien konings. Hulle het nog nie die koningskap ontvang nie, maar hulle het vir een uur lank saam met die dier volmag, soos konings. Hulle het net een doel voor oë, en dit is om hulle krag en volmag aan die dier beskikbaar te stel. Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam sal hulle oorwin, omdat Hy die Heerser van die heersers en die Koning van die konings is, en saam met Hom is die geroepenes, uitverkorenes en getroues.” En die engel sê aan my: “Die waters wat jy gesien het, waar die prostituut bly, is die volke en skares en nasies en tale. Die tien horings wat jy gesien het, en ook die dier, sal die prostituut haat, en haar kaal en verlate maak. Hulle sal haar vleis eet, en haar met vuur verbrand. Want God het dit op hulle harte gelê om sy bedoeling uit te voer, en om een doelwit voor oë te hê: om hulle koningskap aan die dier beskikbaar te stel, totdat God se woorde hulle volledige doel bereik het. Die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde het.”

DIE OPENBARING 17:3-18 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En hy het my in die gees weggevoer na die woestyn, en ek het 'n vrou sien sit op 'n skarlakenrooi dier, vol name van godslastering, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purperrooi en bloedrooi kleur en versier met goud en edelgesteentes en pêrels, met 'n goue beker in haar hand vol gruwels en die vuilheid van haar hoerery; En op haar voorhoof was 'n naam geskrywe: VERborgenheid, DIE GROTE BABILON, DIE MOEDER VAN DIE HOERE EN gruwels van die aarde. En ek het die vrou dronk gesien van die bloed van die heiliges en van die bloed van die martelare van Jesus, en toe ek haar sien, het ek my met groot bewondering verwonder. En die engel het vir my gesê: Waarom was jy verwonderd? Ek sal jou die verborgenheid vertel van die vrou en van die dier wat haar dra, wat die sewe koppe en tien horings het. Die dier wat jy gesien het, was en is nie; en hulle sal uit die afgrond opklim en na die verderf gaan; en die bewoners van die aarde sal hulle verwonder wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskrywe is nie, as hulle die dier sien wat was, en is nie, en is tog. En hier is die verstand wat wysheid het. Die sewe koppe is sewe berge waarop die vrou sit. En daar is sewe konings: vyf het geval, en een is, en die ander het nog nie gekom nie; en as hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, selfs hy is die agtste, en is van die sewe, en gaan na die verderf. En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koninkryk ontvang het nie; maar ontvang mag as konings een uur saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en krag aan die dier gee. Hulle sal oorlog voer teen die Lam, en die Lam sal hulle oorwin, want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings; en die wat saam met Hom is, is geroepe en uitverkore en getrou. En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer sit, is volke en menigtes en nasies en tale. En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar woes en naak maak en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. Want God het dit in hulle harte gegee om sy wil te vervul, en om saam te stem en hulle koninkryk aan die dier te gee, totdat die woorde van God vervul sal word. En die vrou wat jy gesien het, is daardie groot stad wat heers oor die konings van die aarde.