DIE OPENBARING 18:1-17 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion

DIE OPENBARING 18:1-17 AFR83 (Afrikaans 1983)

Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel uit sien afkom. Hy het groot gesag gehad, en die aarde is deur sy heerlikheid verlig. Hy het met 'n sterk stem uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon. Dit het die blyplek van die bose geeste geword, die skuilplek van alle onrein geeste, die skuilplek van alle onrein roofvoëls en die skuilplek van alle onrein en afskuwelike diere, omdat al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid gedrink het. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die sakemanne van die aarde het ryk geword uit haar grenselose weelde.” Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie aan haar sondes deel kry en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie. Haar sondes het tot aan die hemel opgehoop, en God het haar ongeregtighede onthou. Behandel haar soos sy julle behandel het, en vergeld haar dubbel soveel as wat sy julle aangedoen het. In die beker waarin sy vir julle ingeskink het, moet julle vir haar twee keer soveel inskink. In die mate waarin sy gepronk en in wellus gelewe het, in dié mate moet julle haar pyn en droefheid aandoen. Sy sê by haarself: ‘Ek sit as koningin op my troon. Ek is nie weduwee nie, en treur sal ek nooit nie.’ Daarom sal al die plae haar op een dag tref: pes, droefheid en hongersnood. Sy sal met vuur verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.” Die konings van die aarde wat onsedelik met haar gelewe en hulle daarin verlustig het, sal huil en te kere gaan oor haar wanneer hulle die rook sien soos sy verbrand word. Hulle sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word, en sal sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, Babilon, die sterk stad! In een oomblik het die oordeel oor jou gekom!” Die sakemanne van die aarde huil en kerm oor haar, omdat daar niemand meer is om hulle goed te koop nie: goue goed en silwergoed, edelstene en pêrels, fyn pers klere en helderrooi syklere, allerhande skaars soorte hout, allerhande dinge van ivoor en allerhande dinge van duur hout, van koper, van yster en van marmer, kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, koring en meel, beeste en skape, perde, waens en slawe en selfs die lewens van mense. Daar sal gesê word: “Hierdie produkte wat die lus van jou lewe was, is nou daarmee heen. Al die weelde en skittering is nou vir jou verlore en sal nêrens en nooit meer gevind word nie.” Die sakemanne wat met hierdie goed handel gedrywe en so van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir die pyniging wat haar aangedoen word. Hulle sal huil en kerm en sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helderrooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels! In een oomblik is soveel rykdom verwoes!”

DIE OPENBARING 18:1-17 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN ná hierdie dinge het ek 'n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou. Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het. Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie — daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie, koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele. En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie. Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê: Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is! En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan

DIE OPENBARING 18:1-17 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hierna het ek ’n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik en die aarde is deur sy glans verlig. Hy het met ’n kragtige stem uitgeroep: “Geval, geval het die grote Babilon! Dit het die wegkruipplek geword van die bose geeste, ’n skuilplek van elke onrein gees, ’n nes van elke onrein roofvoël en van haatlike diere. Al die nasies het dronk geword van die dwelmdrank van haar seksuele wanpraktyke. Die konings van die aarde het ongeoorloofde seksuele verhoudings met haar gehad, en die handelaars van die aarde het ryk geword uit haar grenslose weelde.” Toe het ek ’n ander stem uit die hemel hoor sê: “Verlaat haar, my volk, sodat julle nie deel het aan haar sondes en haar plae julle nie ook tref nie. Haar sondes het so hoog soos die hemel opgehoop en God het haar wandade onthou. Gee aan haar terug wat sy uitgedeel het, en gee aan haar dubbel soveel as wat sy aan julle gedoen het. In die beker waarin sy vervolging vir julle gemeng het, moet julle twee keer soveel inskink. In dieselfde mate waarin sy haarself verheerlik en weelderig geleef het, moet julle haar ook pyn en smart aandoen. In haar hart spog sy: ‘Ek sit as ’n koningin op my troon. Ek is nie ’n weduwee nie; smart sal ek nooit ken nie.’ Daarom sal al haar plae haar op een dag oorweldig: dodelike siekte, smart en hongersnood. Sy sal deur vuur verteer word, want krágtig is die Here God wat haar oordeel.” Die konings van die aarde wat seks met haar gehad het en hulle in weelderigheid gebaai het, sal huil en met groot droefheid reageer wanneer hulle die rook van haar uitgebrande liggaam sien. Omdat haar pyniging hulle die skrik op die lyf jaag, sal hulle ver weg gaan staan terwyl hulle sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik is dit tog vir die groot stad Babilon, die magtige stad! Binne een uur het die oordeel jou getref!” Die handelaars van die aarde huil en rou oor haar omdat niemand meer hulle vragte goed koop nie: vragte goud en silwer, kosbare stene en pêrels, fyn pers klerasie en bloedrooi sy, elke soort hout, elke ivoorvoorwerp, elke kosbare voorwerp van hout, koper of yster of marmer, kaneel en speserye, wierook, reukolie en reukwater, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie en slawe – sy het selfs met menselewens gesmous. Hulle sê: “Hierdie luukse waarna jy in jou diepste binneste gesmag het, is jou nou ontneem. Al die weelderige en blink dinge is nou vir jou verlore en hulle sal dit nêrens en nooit weer vind nie.” Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op ’n afstand gaan staan, omdat hulle bang is vir die foltering wat sy deurgaan. Hulle sal huil en rou terwyl hulle sê: “Hoe vreeslik, hoe vreeslik is dit tog vir die groot stad, uitgevat in fyn linneklere, pers en bloedrooi, en opgesmuk met goud, kosbare stene en pêrels. In een enkele uur is soveel rykdom uitgewis!”

DIE OPENBARING 18:1-17 DB (Die Boodskap)

Toe dit alles verby was, sien ek ’n ander engel uit die hemel afkom. Dit was ’n baie sterk engel. Die aarde het sommerso geblink van die helder glans van die engel. Hy het ’n verskriklik harde stem gehad. Hy skree toe: “Dit is verby met daardie belangrike stad Babilon. Sy word met die grond gelykgemaak. Dit het ’n spookdorp geword, vol demone. Oral het bose geeste hulle intrek geneem. Allerhande vieslike vlieënde goed het daar kom nes maak. Diere waarvan God niks hou nie, het daar opgedaag. Al hierdie goed is regtig vieslik en haatlik! Al die mense van die aarde kon nie genoeg kry van haar verraad teen God nie. Hulle het dit soos wyn opgeslurp. Die regeerders, wat hulle mense moes lei, het die stad eerder gedien as vir God. Die sakemanne het miljoene gemaak uit haar lewe vol vieslikhede.” Net toe hoor ek iemand anders uit die hemel praat: “My volk, sorg dat julle uit die stad wegkom; gee pad, sodat julle nie met al daardie slegte dinge deurmekaarraak nie. Ja, gee pad sodat al haar rampe julle nie ook tref nie. Sy het so baie verkeerde dinge gedoen. As jy dit op mekaar pak, sal die hoop so hoog soos die hemel wees. So iets sal God nooit vergeet nie! Hy onthou elke verkeerde ding wat sy gedoen het. Maak met haar wat sy met julle gemaak het. Betaal haar dubbel en dwars terug vir wat sy aan julle gedoen het. As sy julle met een hou geslaan het, slaan haar dubbel so hard terug. Sy het haar vreeslik belangrik gehou en ’n wilde, losbandige lewe gelei. Laat haar nou net soveel swaarkry en verdriet ly. Weet julle hoekom? Sy was die een wat vir haarself gesê het: ‘Hier sit ek, die groot heerser oor almal. Ek is nie alleen nie. Ek het baie wat agter my staan. Daar sal nooit trane van verdriet oor my wange loop nie!’ Ja-nee, sy het daarna gesoek! Die rampe wat haar gaan tref, gaan haar op een dag saam tref. Sy gaan baie hartseer wees, sy gaan niks hê om te eet nie en die dood gaan sy wrede greep op haar kry. Sy sal met vuur tot op die grond afgebrand word. Ja, dit alles sal gebeur, want God is die Sterke. Hy is die Here. Hy is die Een wat sê wat met die stad gaan gebeur.” Die regeerders van hierdie wêreld sal bitterlik oor haar huil as hulle die wolke rook sien wat uit die brandende stad opborrel. Hulle het mos saam met die stad geleef asof God nie daar is nie. Ja, saam met haar het hulle vieslik geleef. Hulle sal haar nie gaan help nie, maar net van ver af staan en kyk. Hulle is te bang hulle gaan net so swaarkry soos sy. Hulle sal net sê: “Ag, genugtig; hoe jammer! Die groot, belangrike stad; die sterk stad Babilon! Ai, kyk net; in ’n enkele oomblik het jy reguit in God se straf vasgeloop!” Die besigheidsmanne van die wêreld is net so hartseer oor haar. Hulle huil net sulke lang trane. Niemand wil nou meer hulle goed koop nie. Al die goed wat mense eers so graag wou gehad het, lê nou in hope op die mark, want niemand wil dit meer hê nie. Daar lê goud, silwer, edelstene, pêrels; daar is die mooiste materiale, linne en sy. Daar is die mooiste kleure, pers en rooi. Die verskillende houtgoed is net so mooi. Die hout ruik lekker en sommige artikels is uit duur hout gemaak, en ivoor ook! Goed van brons, yster en marmer staan ook oral rond. Om nie eens te praat van al die duur kruie nie. Oral lê daar kaneel, speserye en verskillende kruie wat lekker ruik, soos mirre en wierook. Aan eetgoed is daar ook nie ’n tekort nie. Duur kos, olie, wyn, meel en koring is vrylik beskikbaar. Selfs diere soos beeste, skape en perde kan ’n mens daar kry en daar is tot perdekarre! Om nie eens te noem dat ’n mens selfs mense daar kan koop nie: ja, daar is selfs slawe beskikbaar. “Alles waarvoor julle geleef het, is daarmee heen. Dit wat julle so graag wou hê, is weg. Al die spoggerige luukshede het soos dou voor die oggendson verdwyn; dit is vir altyd weg!” Hierdie einste handelaars wat so ryk geword het uit die stad sal haar nie nou gaan help nie. Hulle sal net van ver af staan en kyk. Hulle is bang dat wat die stad tref, hulle ook gaan tref. Tog huil hulle kliphard: “Die arme, arme stad. Die groot, belangrike stad! Kyk net hoe het sy haar deftig opgetof met mooi pers en rooi klere. Kyk na al haar duur juwele: dis net pêrels en edelstene waar jy kyk! In ’n enkele oogwink sorg God dat daar van al hierdie rykdom en weelde niks oorbly nie.” Die skeepskapteins, matrose en almal wat iets met die see te doen het, het van ver af gestaan en kyk.

DIE OPENBARING 18:1-17 ABA (Bybel vir almal)

Nadat hierdie dinge gebeur het, het ek gesien dat 'n ander engel uit die hemel kom. Die engel was baie sterk, hy kon baie dinge doen, en die lig wat om hom was, het dit lig gemaak op die aarde. Die engel het hard geskree en gesê: “ Babilon, die groot stad, is afgebreek en plat! Ja, dit is plat! Die duiwels woon nou daar, al die onrein geeste kom daar bymekaar, al die onrein voëls kom daar bymekaar, al die onrein diere kom daar bymekaar, mense hou niks van daardie diere nie. Babilon is plat op die grond, want sy was soos 'n prostituut! Die mense van al die volke het onsedelik met haar gelewe, hulle het aangehou, hulle wou meer en meer kry! Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met haar en die handelaars van die aarde het ryk geword, want sy was sterk en het graag duur goed gekoop!” Toe het ek gehoor dat Iemand in die hemel sê: “My volk, julle moet uitkom uit daardie stad! Dan sal julle nie sonde doen saam met die mense van die stad nie, en God sal julle nie saam met hulle straf nie! Die mense van daardie stad doen baie sondes, dit is 'n groot hoop sondes, dit is so hoog soos die hemel! Ja, God het onthou dat hulle verkeerde dinge gedoen het! Julle moet dieselfde aan hulle doen wat hulle aan julle gedoen het, julle moet hulle twee maal straf vir elke verkeerde ding wat hulle gedoen het! Hulle het vir julle die beker van swaarkry gegee om te drink. Nou moet julle twee maal die beker van swaarkry vir húlle gee om te drink! Die mense van daardie stad is soos 'n vrou wat haarself baie mooi gemaak het en baie duur goed gekoop het. Nou moet julle haar baie laat seerkry en baie laat swaarkry! Want sy sê vir haarself: ‘Ek is 'n koningin! Ek is nie 'n weduwee nie! Ek sal nooit huil en treur nie!’ Daarom sal Ek haar op een dag baie maal straf: Sy sal pes kry, sy sal treur, sy sal honger wees, die Here God sal haar verbrand, want Hy straf haar en Hy is sterk!” Die konings van die aarde het onsedelik gelewe met die stad Babilon, en hulle het saam met haar duur goed gekoop. Maar hulle sal sien hoe sy brand, en hulle sal huil en kla oor haar. Hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. En hulle sal sê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Dit gaan sleg met Babilon, die sterk stad! God het haar vinnig gestraf, Hy het haar in een uur gestraf!” En die handelaars van die aarde sal huil en kla oor haar, want daar is niemand wat hulle goed koop nie. Niemand koop hulle goud, silwer, edelstene en pêrels nie. Niemand koop fyn materiaal, pers materiaal, sy, en materiaal wat rooi is nie. Niemand koop die baie soorte hout wat lekker ruik, die baie soorte goed van ivoor, die baie soorte goed van duur hout, van koper, yster en marmer nie. Ja, niemand koop die handelaars se kaneel, speserye, wierook, lekkerruik-olie, speserye wat lekker ruik, wyn, olyf-olie, die beste meel, koring, beeste, skape, perde, waens, slawe en mense nie. Ja, Babilon, jy het gehou van baie goed, maar nou is dit alles weg, al die duur goed, al die blink goed, jy sal dit nooit weer sien nie! Die handelaars het ryk geword, want hulle het baie goed aan haar verkoop. Maar hulle sal ver staan en kyk, want hulle sal bang wees dat God hulle ook sal straf. Hulle sal huil en kla. Hulle sal sê: “Dit gaan sleg met die Groot Stad! Baie sleg! Sy het mooi klere gedra, die materiaal was pers en baie rooi! Sy het goue goed gedra en sy het mooi gelyk, sy het edelstene en pêrels gedra! Maar in een uur het God die stad leeggemaak, die stad wat so ryk was!” Die kapteins van die skepe het ver gaan staan, en ook almal op die skepe en al die matrose en almal wat op die skepe werk.

DIE OPENBARING 18:1-17 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Hierna het ek 'n ander engel uit die hemel sien afkom. Hy het oor groot mag beskik, en die aarde deur sy heerlikheid verlig. Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep: “Geval, geval het Babilon die Grote! Sy het 'n woonplek vir demone geword, 'n skuilplek vir elke onrein gees, 'n skuilplek vir elke onrein voël, en 'n skuilplek vir elke onrein en veragtelike dier, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die wellus van haar hoerery. Die konings van die aarde het onsedelik met haar verkeer, en die handelaars van die aarde het ryk geword uit die aantrekkingskrag van haar weelde.” Toe het ek 'n ander stem uit die hemel hoor sê: “Gaan weg van haar, my volk, sodat julle nie ook deelneem aan haar sonde nie, en julle haar plae nie oor julle bring nie. Haar sonde het opgehoop tot aan die hemel, en God het haar onregverdige dade onthou. Vergeld haar soos sy julle dit laat ontgeld het, vergeld haar dubbeld, ooreenkomstig haar dade. In die beker waarin sy vir julle gemeng het, moet julle vir haar twee keer soveel meng. In dieselfde mate as wat sy haarself verheerlik en in weelde geleef het, moet julle haar ook pyn en smart aandoen. Want in haar hart sê sy, ‘Ek sit steeds as 'n koningin; ek is nie 'n weduwee nie, en smart sal ek beslis nie ervaar nie.’ Daarom sal die plae wat vir haar bedoel is, haar op een dag tref, dood en smart en hongersnood, en sy sal met vuur verbrand word; want magtig is die Here God, wat die oordeel oor haar gevel het. ” Die konings van die aarde wat onsedelik met haar verkeer het en uitspattig geleef het, sal oor haar huil en rou wanneer hulle die rook van haar verbranding sien. Hulle sal uit vrees vir haar foltering op 'n afstand staan en sê: “Wee, wee jou, groot stad, Babilon, magtige stad, binne 'n oomblik het jou oordeel aangebreek!” Ook die handelaars van die aarde huil en rou oor haar, omdat niemand hulle handelsware meer koop nie: skeepsvragte goud en silwer, edelstene en pêrels, fyn linne, purper materiaal, sy en helderrooi materiaal, elke geurige houtsoort, elke voorwerp van ivoor, elke voorwerp van kosbare hout, van koper, van yster en van marmer, kaneel en speserye, reukwerk, reukolie en wierook, wyn en olyfolie, meel en koring, beeste en skape, perde, rytuie, slawe, en ook menselewens. “En die vrug van jou hartsbegeerte is jou nou ontneem. Al die weelde en luukshede is nou vir jou verlore; dit is beslis nie meer te vinde nie.” Die handelaars van hierdie dinge wat hulleself deur haar verryk het, sal op 'n afstand staan, uit vrees vir haar foltering. Hulle huil en rou onophoudelik, terwyl hulle sê: “Wee, wee jou, groot stad, uitgedos in fyn linneklere, purperrooi en helderrooi, en opgesmuk met goud en edelstene en pêrels! Want binne 'n oomblik is soveel rykdom uitgewis! ” Elke stuurman, en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat 'n lewe maak uit die see, het op 'n afstand gestaan.

DIE OPENBARING 18:1-17 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En ná hierdie dinge het ek 'n ander engel uit die hemel sien neerdaal, met groot mag; en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het kragtig met 'n sterk stem uitgeroep en gesê: Geval, geval het Babilon, en het 'n woonplek van duiwels geword en 'n houvas van elke onreine gees en 'n hok van elke onrein en haatlike voël. Want al die nasies het gedrink van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde het met haar gehoereer, en die handelaars van die aarde is ryk geword deur die oorvloed van haar lekkernye. En ek het 'n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het aan haar ongeregtighede gedink. Vergeld haar soos sy jou vergeld het, en verdubbel vir haar dubbel volgens haar werke: vul in die beker wat sy volgemaak het vir haar dubbel. Hoeveel het sy haarself verheerlik en heerlik gelewe, soveel pyniging en droefheid gee haar, want sy sê in haar hart: Ek sit 'n koningin en is geen weduwee nie, en sal geen droefheid sien nie. Daarom sal haar plae op een dag kom, dood en rou en hongersnood; en sy sal met vuur verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. En die konings van die aarde wat gehoereer het en heerlik saam met haar gelewe het, sal haar ween en oor haar betreur as hulle die rook van haar brand sien, staan van ver af uit die vrees vir haar pyniging en sê: Wee, helaas, die groot stad Babel, daardie magtige stad! want in een uur kom u oordeel. En die handelaars van die aarde sal oor haar ween en treur; want niemand koop meer hulle goed nie; die koopware van goud en silwer en edelgesteentes en pêrels en fyn linne en purper en sy en bloedrooi stowwe en al jou hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van kosbaarste hout, en van koper en yster en marmer, en kaneel en reuke en salf en wierook en wyn en olie en fynmeel en koring en diere en skape en perde en strydwaens en slawe en siele van mense. En die vrugte waarna jou siel begeer het, het van jou gewyk, en alles wat lekker en goed was, het van jou gewyk, en jy sal dit glad nie meer vind nie. Die handelaars van hierdie dinge wat deur haar ryk gemaak is, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, huil en weeklaag, en gesê: Wee, helaas, daardie groot stad wat bekleed was met fyn linne en purperrooi en bloedrooi stowwe en versier was met goud en edelgesteentes en pêrels! Want in een uur het so groot rykdom tot niet geraak. En elke skeepshoof, en die hele menigte op skepe, en matrose en almal wat op see handel dryf, het van ver af gestaan