DIE OPENBARING 2:12-20 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DIE OPENBARING 2:12-20 AFR83 (Afrikaans 1983)
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het: Ek ken die plek waar julle bly, daar waar die troon van die Satan is. Tog bly julle aan my Naam getrou en julle het nie julle geloof in My afgesweer nie, selfs nie in die tyd toe Antipas, my getroue getuie, doodgemaak is daar by julle waar die Satan bly nie. Maar Ek het 'n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het. So is daar onder julle dan ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang en dieselfde sondes doen. Bekeer julle nou, anders kom Ek gou na julle toe en sal Ek daardie mense bestry met die swaard van my mond. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry. Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet.
DIE OPENBARING 2:12-20 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het: Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Ántipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon. Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer. So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat. Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee 'n wit keursteen, en op dié steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang. EN skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper: Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste. Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet.
DIE OPENBARING 2:12-20 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Skryf aan die voorganger van die gemeente in Pergamum: So sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het: Ek weet goed waar jy woon, waar die troon van Satan is. Tog het jy lojaal aan My gebly en nie die vertroue in My afgesweer nie, veral gedurende die tyd toe Antipas, my betroubare getuie, daar by julle waar Satan woon, doodgemaak is. Maar Ek het ’n paar klagtes teen jou: Jy verdra mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Dit is hy wat Balak beïnvloed het om ’n struikelblok in die pad van die Israeliete te plaas, naamlik om te eet van die afgodsoffervleis en om seksuele sondes te pleeg. Net so is daar in jou geledere ook aanhangers van die leer van die Nikolaïete wat ook só optree. Kom dan tot inkeer; anders kom Ek baie gou na jou toe en sal Ek teen hulle oorlog maak met die skerp swaard van my mond. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek van die weggesteekte manna gee, asook ’n wit steentjie met ’n nuwe naam op gegraveer wat niemand anders ken nie behalwe die een wat dit ontvang het. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God; Hy het oë soos ’n vuurvlam en sy voete is net soos gepoleerde koper: Ek ken jou handel en wandel, ook jou liefde, vertroue, bediening en volharding. Ek weet ook dat jou handel en wandel nou selfs nog beter is as voorheen. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy die vrou Isebel laat begaan. Sy noem haarself ’n profetes. Sy onderrig en verlei my diensknegte om seksuele sondes te doen en om afgodsoffervleis te eet.
DIE OPENBARING 2:12-20 DB (Die Boodskap)
Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Pergamum: Dit is die boodskap van Hom wie se woorde diep sny soos ’n swaard wat aan albei kante skerp gemaak is. Ek weet waar julle bly. Dit is waar Satan se troon staan, maar nogtans bly julle My dien. Julle is nie bang om te sê dat julle in My glo nie. Selfs toe Antipas doodgemaak is omdat hy, sonder om ’n tree terug te staan, mense van My vertel het, het julle ook nie julle geloof weggesteek nie. So te sê op die voorstoep van Satan self het julle My bly dien. Maar Ek het nog ’n klomp probleme met julle. Party van julle gemeentelede luister na alles wat Bileam sê. Dit is mos hy wat vir Balak geleer het hoe om die Israeliete om te praat om afgode te begin dien. Die Israeliete het selfs aan die vieslike en onsedelike feeste deelgeneem en lekker aan afgodsvleis gesmul. Julle laat julle net so deur die Nikolaïete mislei. Julle eet maar alles wat hulle sê vir soetkoek op. Los hierdie dinge en luister weer voluit na My. As julle dit nie doen nie, sal julle gou julle fout agterkom. Ek sal die klomp ongehoorsames onder julle tref met die skerp swaard uit my mond. Hulle sal voel wat dit beteken om onder my oordeel deur te loop. Maak oop julle ore. Luister mooi na wat die Heilige Gees vir julle sê. Wie die wenpaal haal, sal beloon word. Ek sal vir hom gee van die hemelse brood wat weggesteek is. Ek sal ook vir hom ’n wit klippie gee. Op die klippie is ’n naam geskryf wat net vir hom bedoel is. Niemand, behalwe die een wie se klippie dit is, sal weet wat die naam is nie. Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Tiatira: Dit is ’n boodskap van die Seun van God af. Sy gloeiende oë kyk niks mis nie. Sy voete is van pragtige brons. Ek weet presies wat julle doen. Noem maar op: julle het mekaar lief; julle geloof is sterk; julle help mense wat julle hulp nodig het; julle gee nie sommer moed op nie. En wat hierdie dinge betref, gaan dit elke dag net beter met julle. Maar daar is iets waarvan Ek nie hou nie en waaroor Ek julle kwalik neem. Julle laat daardie vrou Isebel toe om te doen wat sy wil. Sy noem haarself mos iemand wat God se boodskap verkondig. Al wat sy doen, is om die mense wat My dien te mislei om verkeerde dinge aan te vang. Sy leer hulle om afgode te dien. Daar neem hulle aan onsedelike feeste deel en hulle sit sommer saam met die afgode aan tafel ook.
DIE OPENBARING 2:12-20 ABA (Bybel vir almal)
“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Pergamum skryf: Die Een wat die skerp swaard het, sê: Ek weet waar jy woon. Satan se troon is daar, maar jy hou aan om in My te glo. Ja, Satan woon daar by julle. En die mense het vir Antipas daar by julle doodgemaak omdat hy aangehou het om vir mense te vertel van My, maar jy was nie bang om te sê dat jy in My glo nie. Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen 'n paar dinge verkeerd. Party van jou mense doen die dinge wat Bileam vir die mense geleer het. Hy het vir Balak gesê hoe hy die Israeliete sonde kan laat doen. Hy het gesê Balak moet vir hulle afgod-offervleis laat eet en hy moet hulle onsedelik laat lewe. Dieselfde gebeur daar by jou. Daar is ook party mense wat die dinge glo wat die Nikolaïete vir hulle leer. Maar jy moet lewe soos Ek wil hê. As jy dit nie doen nie, dan sal Ek gou kom en Ek sal die swaard wat in my mond is, gebruik om oorlog te maak teen die mense wat die dinge glo wat die Nikolaïete vir hulle leer. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou van die manna gee, ander mense weet nie van daardie manna nie. Ek sal ook vir jou 'n wit klippie gee. Op die klippie is 'n nuwe naam geskryf. Niemand anders sal weet wat daardie naam is nie, net jy sal dit weet.” “Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Tiatira skryf: Die Seun van God se oë is soos 'n vuurvlam en sy voete is soos blink koper. Hy sê: Ek weet alles wat jy doen: Jy is lief vir My, jy doen wat jy sê jy sal doen, en jy dien die ander gelowiges. Ek weet jy kry swaar omdat jy aan My behoort, maar jy bly geduldig. Ek weet jy doen nou baie meer dinge vir My, meer as wat jy gedoen het toe jy in My begin glo het. Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen niks teen die vrou Isebel nie. Sy sê sy is 'n profeet, maar sy leer dinge wat nie waar is nie, sy leer dit vir die mense wat My dien. Sy leer vir hulle om onsedelik te lewe en om afgod-offervleis te eet.
DIE OPENBARING 2:12-20 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Pergamum: “Dit sê Hy wat die skerp swaard met die twee snykante het, “ ‘Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon. Maar Ek hou 'n paar dinge teen jou: Jy het mense in jou midde wat die leer van Bileam aanhang. Hy het Balak geleer om 'n strik vir die kinders van Israel te stel, naamlik om van die afgodsoffers te eet, en hulle onsedelik te gedra. Net so het jy ook mense wat die leer van die Nikolaïete aanhang, wat hulle op hierdie manier gedra. Kom dan tot bekering, anders sal Ek baie gou na jou toe kom, en met die swaard van my mond teen hulle oorlog maak. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek van die verborge manna gee, en Ek sal vir hom 'n wit klippie gee, ja, 'n klippie waarop 'n nuwe naam gegraveer is, en wat niemand anders ken nie, behalwe die een wat dit ontvang.’ ” “Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Tiatira: “Dit sê die •Seun van God, wat oë het soos 'n vlammende vuur, en voete soos gloeiende koper, “ ‘Ek ken jou dade en liefde en geloof en diens en volharding, en weet dat jou latere dade die eerstes oortref. Maar Ek hou dit teen jou dat jy die vrou Isebel net laat begaan – sy wat haarself 'n profetes noem, en my diensknegte leer en verlei om te hoereer en om afgodsoffers te eet.
DIE OPENBARING 2:12-20 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En skryf aan die engel van die gemeente in Pergamos; Dit sê hy wat die skerp tweesnydende swaard het; Ek ken jou werke en waar jy woon, ook waar die troon van Satan is; en jy hou vas aan my Naam en het my geloof nie verloën nie, selfs in daardie dae waarin Antipas my getroue martelaar was, wat onder julle gedood is, waar Satan woon. Maar Ek het 'n paar dinge teen jou, want jy het daar die wat die leer van Bíleam vashou, wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te gooi, om afgodsoffers te eet en om te hoereer. So het jy ook die wat die leer van die Nikolaïete vashou, wat ek haat. Bekeer julle; anders sal Ek gou na jou toe kom en teen hulle veg met die swaard van my mond. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê; Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om van die verborge manna te eet, en Ek sal hom 'n wit steen gee, en op die steen 'n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang. En skryf aan die engel van die gemeente in Tiatira; Dit sê die Seun van God, wat sy oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos fyn koper; Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lankmoedigheid en jou werke; en die laaste om meer te wees as die eerste. Nietemin het ek 'n paar dinge teen jou, omdat jy daardie vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my dienaars te verlei om te hoereer en om afgode-offers te eet.