DIE OPENBARING 21:1-27
DIE OPENBARING 21:1-27 Die Boodskap (DB)
Ek sien toe ’n splinternuwe hemel en aarde. Die aarde, soos ons dit ken, het verdwyn en die hemel, soos ons dit ken, was nie meer daar nie. Ek sien toe ook hoe God sy stad, die nuwe Jerusalem, uit die hemel laat afkom. Die stad was pragtig, soos ’n bruid wat haar vir haar bruidegom mooigemaak het. Ek hoor toe ’n harde stem sê: “God bly nou by en tussen die mense; ja, Hy gaan saam met hulle bly. Hulle sal sy mense wees. Hy sal hulle God wees en by hulle wees. As daar trane oor hulle wange loop, sal God self dit afdroog. Niemand sal meer daar doodgaan nie. Niemand sal hartseer wees of pyn ken nie. Hierdie slegte dinge van voorheen sal vir ewig en altyd verby wees.” Die Een wat op die troon sit, sê toe: “Kyk mooi, Ek maak alles nuut!” Verder sê Hy: “Skryf dit neer. Hierdie woorde kan mense maar glo, want dit is waar! Wat Ek gesê het, het gebeur. Alles begin by My en Ek besluit waar alles gaan eindig. Ek is die begin en die einde. As iemand geestelik dors is, sal Ek vir hom sorg. Ek sal vir hom water gee wat ’n mens se geestelike dors les en hom vir ewig laat leef. Dit alles is gratis. Die persoon wat enduit as Christen volhou, sal soos ’n egte kind al hierdie dinge van My erf. Dit is my ooreenkoms. Ek sal vir hom God wees, en hy sal my kind wees. “Maar ’n see van brandende vlamme en swael wag vir ander mense: dit is daardie lafhartige mense wat nie na My luister nie. Hulle doen die vieslikste dinge. Hulle gee nie om om ander mense dood te maak nie. Hulle slaap rond en doen seksuele dinge wat ’n mens nie behoort te doen nie. Om nie eens te praat van hoe hulle afgode dien en soos towenaars allerhande geestelike magte vir hulle eie voordeel probeer manipuleer nie. Dit is ook hulle wat so lieg. Nou ja, vir hulle wag daar geen toekoms nie, net die tweede dood.” Een van die sewe engele kom toe nader (dit was een van die engele wat een van die sewe bakke met die laaste plae oor die aarde uitgegooi het). Hy sê vir my: “Kom, ek wil vir jou die bruid wys, die vrou met wie die Lam gaan trou.” Hy vat my toe in die gees na ’n massiewe, hoë berg toe. Daar wys hy my dit toe: die stad wat God s’n is, Jerusalem, daal voor my oë van die hemel af ondertoe. Dit kom van God self af, en dit kon ’n mens aan die stad self sien. Dit was so oorweldigend en wonderlik! Dit het geskitter soos die wonderlikste edelsteen, helder soos ’n diamant. Rondom die stad was ’n hoë, dik muur. Daar was twaalf poorte in die stad, drie na elke windrigting se kant toe. By elke poort het ’n engel gestaan. Die twaalf name van die stamme van Israel is op die poorte aangebring. Die dik stadsmuur is op twaalf fondamente gebou, met die name van die twaalf apostels van die Lam daarop. Die engel wat met my gepraat het, het ook ’n goue liniaal gehad. Dit was om die stad noukeurig op te meet; ja, die hele stad met sy poorte en mure. Die stad was vierkantig; dit was net so lank as wat dit breed was. Die engel het toe die stad gemeet. Dit was 12 000 kilometer lank. Sy breedte en hoogte was presies dieselfde. Hy het ook die hoogte van die muur gemeet. Dit het volgens menslike mate 144 meter hoog gestaan. Die muur was van die pragtigste edelgesteentes gebou. Die stad self was van die suiwerste goud. Dit het geblink en geskitter, byna asof ’n mens na glas kyk. Die fondamente van die stadsmuur was die ene edelstene. Dit was oortrek met jaspis, saffiere, agaat, smarag, oniks, sardis, chrisoliet, beril, topaas, krisopraas, hiasint en ametis, twaalf soorte altesaam. Die twaalf poorte was elkeen uit ’n soliede pêrel gemaak. Die strate van die stad was van goud, skitterblink soos glas. Dit was of ’n mens daardeur kon sien. Ek het gekyk, maar geen tempel in die stad gesien nie. Dit was nie meer nodig nie, want die Here God, die Een wat die sterkste van almal is en alles kan doen, was in die stad. Met Hom en die Lam daar was ’n tempel onnodig. Daar was ook nie meer ’n son of maan nodig om lig te gee nie. Die grootheid en heerlikheid van God self het die stad verlig. Ja, die Lam was soos ’n helder lig in die stad. Al die mense van die wêreld sal in die lig kan kom leef. Die leiers en heersers van die wêreld sal kom en so wys hoe groot en belangrik die stad regtig is. Die poorte sal nooit toegemaak word nie. Of anders gestel: dit sal die hele dag lank oop bly. Omdat God se lig daar is, word dit nooit nag nie. Niemand buite die stad sal geëer word nie. Almal wat roem of eer werd is, sal na die stad toe kom. Wat die moeite werd is om te eer, sal ’n mens in die stad kry. Niks waarvan God nie hou nie, sal in die stad toegelaat word nie. Mense wat hulle vieslik gedra, lieg en bedrieg, sal nie welkom wees nie. Net mense wie se name in die Lam se boek geskryf is, sal toegelaat word. Dit is die boek waarin almal wat vir ewig saam met God gaan leef, se naam geskryf staan.
DIE OPENBARING 21:1-27 Bybel vir almal (ABA)
Toe sien ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde. Want die eerste hemel en die eerste aarde was nie meer daar nie. Die see was ook nie meer daar nie. Toe sien ek die gewyde stad, die Nuwe Jerusalem, kom af uit die hemel, van God af. Die stad was gereed, soos 'n bruid wat haarself mooi gemaak het vir haar man. Toe hoor ek iemand praat by God se troon. Hy het hard gesê: “Kyk, God woon nou by die mense! Ja, Hy sal by hulle woon! En hulle sal sy volke wees! God sal self by hulle wees! God sal al die trane van hulle oë afvee! Hulle sal nooit sterf nie! Hulle sal nooit huil en kla nie! Hulle sal nooit seerkry nie! Want die ou dinge het verbygegaan!” En God wat op die troon sit, het gesê: “Kyk! Ek verander alles! Ja, Ek maak alles nuut!” God het ook gesê: “Jy moet skryf wat Ek sê, want Ek doen altyd wat Ek sê, Ek praat altyd die waarheid.” God het vir my gesê: “Alles is verby! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. As iemand geestelik dors is, dan sal Ek vir hom water gee wat hom altyd laat lewe, water wat verniet is. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou baie goeie dinge gee. Ek sal jou God wees en jy sal my kind wees. Maar al die mense wat bang is en die mense wat nie glo nie, sal in die see van vuur en swael kom, en ook die mense wat baie verkeerde dinge doen en die mense wat ander mense doodmaak en die mense wat onsedelik lewe en die mense wat toor en die mense wat afgode dien en die mense wat lieg. Die see van vuur en swael is die tweede dood.” Een van die sewe engele het na my toe gekom. Dit was een van die sewe engele wat God se straf gebring het, God se sewe laaste strawwe in sewe bakke. Die engel het vir my gesê: “Jy moet saam met my kom! Ek sal vir jou die bruid wys, die vrou van die Lam!” Die Gees het in my gekom, en die engel het my na 'n groot, hoë berg geneem. Toe het hy vir my die gewyde stad, Jerusalem, gewys. Die stad het afgekom uit die hemel, van God af. Die stad was vol lig, die lig wat om God, die Koning, is. Die stad het geblink soos 'n baie duur edelsteen, soos jaspis wat baie blink is. Die stad het 'n groot, hoë muur gehad. In die muur was twaalf poorte. By die twaalf poorte was twaalf engele, en op die poorte was die name van die twaalf stamme van die Israeliete geskryf. Daar was drie poorte in die muur oos van die stad, drie poorte in die muur noord van die stad, drie poorte in die muur suid van die stad en drie poorte in die muur wes van die stad. Die muur van die stad het twaalf fondamente gehad. Op die fondamente was die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf. Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meet-stok gehad om die stad en die poorte en die muur te meet. Die stad was vierkantig: dit was so lank soos dit breed was. Die engel het die stad gemeet: dit was 12 000 stadioi lank en 12 000 stadioi breed en 12 000 stadioi hoog. Hy het die muur ook gemeet. Dit was 144 el hoog. Die engel het gemeet hoeveel el dit was, soos mense altyd 'n el meet. Die muur was van jaspis. Die stad was van die beste goud, dit het geblink soos die mooiste glas. Op die fondamente van die muur was daar baie mooi edelstene. Op die eerste fondament was jaspis. Op die tweede fondament was saffier. Op die derde fondament was agaat. Op die vierde fondament was smarag. Op die vyfde fondament was oniks. Op die sesde fondament was karneool. Op die sewende fondament was chrisoliet. Op die agste fondament was beril. Op die negende fondament was topaas. Op die tiende fondament was chrisopraas. Op die elfde fondament was hiasint. Op die twaalfde fondament was ametis. Die twaalf poorte was twaalf pêrels. Ja, elke poort was gemaak van een pêrel. Die straat van die stad was van die beste goud, dit het gelyk soos glas, 'n mens kon daardeur sien. Ek het nie 'n tempel in die stad gesien nie, want die Here God wat alles kan doen, en die Lam, was die stad se tempel. Daar was nie 'n son of 'n maan om vir die stad lig te gee nie. Dit was nie nodig nie, want die lig wat om God die Koning is, het daar lig gegee. En die Lam was die lamp vir die stad. Die volke sal lewe in die stad se lig, en die konings van die aarde sal na die stad kom, en dit sal wys hoe belangrik die stad is. Die stad se poorte sal nooit toe wees in die dag nie. En daar is nooit nag nie. Die konings van die aarde sal presente van die volke na die stad bring. Hulle sal die stad prys en sê hoe belangrik dit is. Maar mense en dinge wat onrein is, sal nooit in die stad ingaan nie, ook nie mense wat dinge doen wat baie lelik is en mense wat lieg nie. Maar party mense sal in die stad ingaan. Hulle name is geskryf in die boek van die lewe, die boek van die Lam.
DIE OPENBARING 21:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood. EN een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op 'n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos 'n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. En dit het 'n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel. Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte. En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam. En hy wat met my gespreek het, het 'n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet. En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend-vyfhonderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk. En hy het sy muur gemeet op honderd-vier-en-veertig el, volgens 'n mens se maat, wat die maat van 'n engel is. En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag; die vyfde sardoniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrísopraas, die elfde hiasint, die twaalfde ametis. En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas. En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags — want nag sal daar nie meer wees nie — sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.
DIE OPENBARING 21:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos 'n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.” Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. “Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.” Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. “Kom,” het hy gesê, “ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na 'n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom. Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos 'n kristalhelder opaal. Die stad het 'n groot hoë muur met twaalf poorte. By die poorte is daar twaalf engele, en op die poorte is daar name geskrywe, dié van die twaalf stamme van die volk Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stad se muur het twaalf fondamente, en daarop is daar ook twaalf name, dié van die twaalf apostels van die Lam. Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet. Die stad is vierkantig, net so lank as wat hy breed is. Hy het die stad toe met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en die hoogte daarvan is dieselfde, twaalf duisend kilometer. Hy het ook die muur om die stad gemeet. Dit is honderd vier en veertig meter hoog. Die engel het die mate van mense gebruik. Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk. Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos 'n spieël. 'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. Die mense sal die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring. Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.
DIE OPENBARING 21:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos 'n bruid wat versier is vir haar man. Ek het toe 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of 'n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge het verbygegaan.” Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut. ” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet! Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood.” Daarop het een van die sewe engele wat die sewe bakke vol van die sewe laaste plae vashou, gekom en met my gepraat en gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” Hy het my toe deur die Gees na 'n groot en hoë berg geneem, en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het. Die stad was vol van die heerlikheid van God – haar glans het net soos dié van 'n baie kosbare edelsteen gelyk, soos kristalhelder •jaspis. Die stad het ook 'n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele. Op die poorte is name gegraveer, die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stadsmuur het twaalf fondamente, en daarop is ook twaalf name. Dit is die name van die twaalf •apostels van die Lam. Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad, haar poorte en haar muur te meet. Die stad is vierkantig uitgelê, haar lengte is dieselfde as haar breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet, twaalfduisend stadion – die lengte, breedte en die hoogte daarvan is dieselfde. Hy het ook die muur van die stad gemeet – honderd vier-en-veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is. Die boumateriaal van die muur was jaspis, en dié van die stad suiwer goud, so blink soos 'n skoon spieël. Die fondamente van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondament met •jaspis, die tweede met •lasuursteen, die derde met •chalcedoon, die vierde met •smarag, die vyfde met •sardoniks, die sesde met •karneool, die sewende met •chrisoliet, die agtste met •berilsteen, die negende met •topaas, die tiende met •chrisopraas, die elfde met •hiasint en die twaalfde met •ametis. En die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, so blink soos deurskynende glas. 'n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel. Ook het die stad nie die son en die maan nodig om haar te verlig nie, want die heerlikheid van God het haar verlig, en die Lam is haar lamp. En die nasies sal leef in haar lig, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid na haar toe bring. Haar poorte sal bedags nie gesluit word nie, en daar sal ook nie meer nag wees nie. Hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies na haar toe bring. En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam.
DIE OPENBARING 21:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak, die ou slang, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom duisend jaar lank gebind, En gooi hom in die afgrond en sluit hom toe en sit 'n seël op hom, dat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar vervul sou wees nie; en daarna moet hy 'n kort tydjie ontbind word. En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en oordeel is aan hulle gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is ter wille van die getuienis van Jesus en vir die woord van God, en wat die dier nie aanbid het nie, en ook nie sy beeld, en het sy merk nie op hulle voorhoofde of in hulle hande ontvang nie; en hulle het geleef en saam met Christus geregeer duisend jaar lank. Maar die res van die dooies het nie weer lewend gemaak voordat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Geseënd en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank. En as die duisend jaar verby is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word, En hy sal uittrek om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, Gog en Magog, om hulle bymekaar te bring vir die oorlog; hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgetrek oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verteer. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is, en sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dooies, klein en groot, voor God sien staan; en die boeke is geopen, en 'n ander boek is geopen, dit is die boek van die lewe; en die dooies is geoordeel uit wat in die boeke geskrywe is, volgens hulle werke. En die see het die dooies gegee wat daarin was; en die dood en die doderyk het die dode oorgegee wat in hulle was, en hulle is elkeen geoordeel volgens sy werke. En die dood en die hel is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En elkeen wat nie opgeskryf gevind is in die boek van die lewe nie, is in die poel van vuur gewerp. Die stad is vierkantig, net so lank as wat hy breed is. Hy het die stad toe met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en die hoogte daarvan is dieselfde, twaalf duisend kilometer. Hy het ook die muur om die stad gemeet. Dit is honderd vier en veertig meter hoog. Die engel het die mate van mense gebruik. Die muur is met opaal gebou en die stad self met suiwer goud wat soos 'n skoon spieël lyk. Die fondamente van die stadsmuur is met allerhande edelstene versier: die eerste fondament met opaal, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agste met beril, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint en die twaalfde met ametis. Die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, blink soos 'n spieël. 'n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam. Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan. Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie. Die mense sal die luister en die rykdom van die nasies daarheen bring. Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kom nie, maar net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan.
DIE OPENBARING 21:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie. Ek het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ’n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is. Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.” Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder: “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.” Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Iemand wat dors het, sal Ek verniet laat drink uit die fontein met lewegewende water. Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees. “Maar vir die oneerlikes, onbetroubares, korruptes, moordenaars, persone wat seksuele sondes doen, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars wag die poel wat met vuur en swael brand. Dit is die tweede dood.” Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou wat vol was met die laaste sewe plae, nadergestaan en aan my gesê: “Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” Hy het my toe in die Gees na ’n groot en hoë berg geneem en die heilige stad Jerusalem, wat van God af uit die hemel afgekom het, aan my gewys. Die stad was gevul met die heerlikheid van God. Dit het gestraal, net soos ’n baie kosbare steen, soos ’n kristalhelder jaspis. Die stad het ook ’n groot en hoë muur gehad waarin twaalf poorte was. By die poorte is daar twaalf engele, met twaalf name op die poorte gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van Israel. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. Die stadsmuur het twaalf fondamentstene waarop die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf staan. Die engel wat met my in gesprek was, het ’n goue liniaal vasgehou. Die doel was om daarmee die stad self, sy poorte en sy muur te meet. Die stad is vierkantig uitgelê, sy lengte dieselfde as sy breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet. Die lengte, die breedte en ook die hoogte daarvan is dieselfde – 12 000 stadia. Hy het ook die muur van die stad gemeet. Dit is 144 el hoog. (Die engel het volgens ’n aardse maat gemeet.) Die boumateriaal van die muur is jaspis en dié van die stad self suiwer goud, so helder soos skoon glas. Die fondamentstene van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier: die eerste fondamentsteen met jaspis, die tweede met saffier, die derde met agaat, die vierde met smarag, die vyfde met sardoniks, die sesde met karneool, die sewende met chrisoliet, die agtste met berilsteen, die negende met topaas, die tiende met chrisopraas, die elfde met hiasint, en die twaalfde met ametis. Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die strate van die stad is van suiwer goud, so helder soos deurskynende glas. Ek het nie ’n tempel in die stad gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is sy tempel. Die stad het ook nie die son en die maan nodig om dit te verlig nie, want die heerlikheid van God het dit verlig, en die Lam is sy kandelaar. Die nasies sal in die stad se lig lewe en die konings van die aarde bring hulle glorie daarheen. Die poorte van die stad sal bedags nooit gesluit word nie, en daar sal nie meer nag wees nie. Die nasies sal hulle glorie en eerbetoon na die stad toe bring. Niks wat besoedel is en niemand wat gruwelik en vals optree, sal ooit hulle voete in die stad sit nie, slegs dié wat opgeskryf is in die Boekrol van die Lewe, dit is die Boekrol van die Lam.