DIE OPENBARING 5:1-7 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
DIE OPENBARING 5:1-7 AFR83 (Afrikaans 1983)
In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek 'n boekrol gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. Toe het ek 'n sterk engel gesien wat met 'n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, 'n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.
DIE OPENBARING 5:1-7 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit
DIE OPENBARING 5:1-7 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Ek het toe in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ’n boekrol gesien, vol geskryf aan die binne- én die buitekant, en deur sewe seëls deeglik verseël. Ek het ook ’n sterk engel gesien wat met ’n kragtige stem uitroep: “Wie is waardig genoeg om die boekrol oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. Ek het toe bitterlik gehuil omdat niemand gekry is wat waardig genoeg is om die boekrol oop te maak om daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge egter vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid, het oorwin en kan die boekrol en sy sewe seëls oopmaak.” Toe het ek tussen die troon en die vier lewende wesens en tussen die ouderlinge ’n Lam sien staan, soos Een wat geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad, dit is die sewe Geeste van God wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het toe vorentoe getree en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.
DIE OPENBARING 5:1-7 DB (Die Boodskap)
Ek het weer na God op die troon gekyk. Nou het Hy in sy regterhand ’n boek gehou. Dit was van hoek tot kant vol geskryf, selfs op die buiteblad. Die boek was egter toe en verseël met sewe seëls. Niemand het dus geweet wat daarin staan nie. Toe sien ek ’n sterk engel. Hy roep toe hard uit dat almal kan hoor: “Wie is belangrik genoeg om die boek oop te maak? Wie mag die seëls breek?” Daar was niemand nie! Daar is oral gesoek; in die hemel, oral op die aarde en selfs onder die aarde. Daar was nie een wat die boek kon oopmaak en lees wat daarin staan nie. Toe ek sien hulle kan niemand kry nie, het ek in trane uitgebars. Een van die leiers van die kerk kom troos my toe: “Hou net dop wat gebeur. Niemand en niks kan die Leeu, uit die nageslag van Juda, wen nie. Hy is nie verniet ’n agteragterkleinkind van koning Dawid nie. Hy sal die seëls kan breek en die boek kan oopmaak.” Ek kyk toe weer mooi. My oë gly oor die troon en die vier lewende wesens tot tussen die leiers van die kerk wat daar sit. Daar, in die middel van almal, sien ek toe ’n Lam staan. Die snymerk oor sy keel asof Hy geslag was, het my dadelik opgeval. Al was Hy ’n lam, was Hy duidelik baie, baie sterk. Dit kon ek aan sy sewe horings sien. Hy het ook sewe oë gehad. Dit het beteken dat God se Gees self deur en saam met Hom werk. Daar is nie ’n plek in hierdie wêreld waar die Heilige Gees nie is nie. Toe loop die Lam na God se troon toe. Daar vat Hy die boek wat God in sy regterhand hou.
DIE OPENBARING 5:1-7 ABA (Bybel vir almal)
Ek het gesien die Persoon wat op die troon sit, het 'n boekrol in sy regter-hand. Daar was baie woorde op die boekrol geskryf, binne en buite. Die boekrol was toegeplak met sewe seëls. Ek het 'n sterk engel gesien. Hy het hard geskree en gesê: “Wie mag die boekrol oopmaak? Wie mag die seëls op die boekrol breek en die boek oopmaak?” Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boekrol oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie gehuil omdat daar niemand was wat die boekrol kon oopmaak of daarin kon kyk nie. Maar een van die ouderlinge het vir my gesê: “Jy moenie huil nie! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Wortel van Dawid, het oorwin. Daarom kan Hy die sewe seëls breek en die boekrol oopmaak.” Toe sien ek 'n Lam. Die Lam het by die troon gestaan, tussen die vier diere en die ouderlinge. Dit het gelyk of die Lam geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die Sewe Geeste van God. God stuur hulle oor die hele aarde. En die Lam het gegaan en die boekrol geneem uit die regter-hand van die Persoon wat op die troon sit.
DIE OPENBARING 5:1-7 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit 'n boekrol gesien, aan die binnekant en die buitekant vol geskryf, en met sewe seëls goed verseël. Ek het ook 'n sterk engel gesien, wat met 'n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boekrol oop te maak en die seëls daarvan te breek?” Niemand – nie in die hemel, nie op die aarde, nie onder die aarde – was egter in staat om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. Ek het baie gehuil, omdat daar niemand gevind kon word wat waardig is om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.” En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, 'n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. En Hy het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.
DIE OPENBARING 5:1-7 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien wat van binne en van agter geskryf is, verseël met sewe seëls. En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en die seëls daarvan los te maak? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak of daarin te kyk nie. En ek het baie gehuil, omdat niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie. En een van die oudstes het vir my gesê: Moenie huil nie; kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Wortel van Dawid, het die oorhand gekry om die boek oop te maak en die sewe seëls daarvan los te maak. En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en van die vier lewende wesens, en in die midde van die ouderlinge, staan 'n Lam soos dit geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God het oor die hele aarde uitgestuur. En hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.