DIE OPENBARING 5:6-14
DIE OPENBARING 5:6-14 Bybel vir almal (ABA)
Toe sien ek 'n Lam. Die Lam het by die troon gestaan, tussen die vier diere en die ouderlinge. Dit het gelyk of die Lam geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die Sewe Geeste van God. God stuur hulle oor die hele aarde. En die Lam het gegaan en die boekrol geneem uit die regter-hand van die Persoon wat op die troon sit. Toe die Lam die boekrol neem, het die vier diere en die 24 ouderlinge voor die Persoon gekniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. Elkeen het 'n harp gehad en goue bakke. Die goue bakke was vol wierook. Die wierook is die gebede van die gelowiges. Toe sing die diere en die ouderlinge hierdie nuwe lied vir die Lam: “Net U mag die boekrol neem! U mag die seëls breek en die boekrol oopmaak! Want die mense het U doodgemaak, ja, U het gesterf en U het mense gekoop vir God, mense van al die stamme, tale, volke en lande! U het gesê God regeer oor hulle, hulle is soos die priesters wat vir God werk, en hulle sal oor die aarde regeer!” Toe sien en hoor ek baie engele wat sing. Die engele was rondom God se troon en rondom die diere en die ouderlinge. Daar was baie miljoene engele. Hulle het hierdie woorde hard gesing: “Almal moet sing oor die Lam wat gesterf het. Hulle moet vertel dat Hy sterk en ryk is, en dat Hy wysheid en krag het, hulle moet Hom eer en prys en loof!” Toe hoor ek hoe sing alles wat lewe, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, en alles wat in hulle is. Hulle het hierdie woorde gesing: “Ons prys Hom wat op die troon sit en ons prys die Lam, ons eer en prys Hulle, Hulle wat sterk is, altyd en altyd!” En die vier diere het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en hulle het gebid tot God en die Lam.
DIE OPENBARING 5:6-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. Toe sien ek, en ek hoor 'n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende; en met 'n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier-en-twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.
DIE OPENBARING 5:6-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, 'n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het 'n siter gehad en 'n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. Toe sing hulle 'n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.” Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge 'n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor uitroep: “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.” Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.” Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.
DIE OPENBARING 5:6-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, 'n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. En Hy het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Toe Hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neergeval. Elkeen het 'n lier en 'n goue bak vol reukwerk, wat die gebede van die •heiliges is, vasgehou. Toe sing hulle 'n nuwe lied: “U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers. ” Toe ek weer kyk, hoor ek die sang van baie engele rondom die troon, en van die lewende wesens en die ouderlinge. Daar was tienduisend maal tienduisende, duisend maal duisende, wat met harde stemme uitroep: “Waardig is die Lam wat geslag is, om die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof te ontvang.” En ek het die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see, en alles wat daarin bestaan – hoor uitroep: “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.” Die vier lewende wesens het ook uitgeroep: “•Amen!” En die ouderlinge het neergeval in aanbidding.
DIE OPENBARING 5:6-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en van die vier lewende wesens, en in die midde van die ouderlinge, staan 'n Lam soos dit geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God het oor die hele aarde uitgestuur. En hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. En nadat Hy die boek geneem het, val die vier lewende wesens en vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, met elkeen van hulle siters en goue skale vol reuke, wat die gebede van die heiliges is. En hulle het 'n nuwe lied gesing en gesê: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak, want U is gedood en het ons deur u bloed vir God losgekoop uit elke geslag en taal en volk, en nasie; en het ons vir onse God konings en priesters gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers. En ek het gesien en die stem van baie engele rondom die troon en die diere en die ouderlinge gehoor, en hulle getal was tienduisend maal tienduisend en duisende duisende; Met 'n groot stem sê: Die Lam wat geslag is, is waardig om krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en seën te ontvang. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, en wat in die see is, en alles wat daarin is, het Ek hoor sê: Seën en eer en heerlikheid en krag kom aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam vir ewig en altyd. En die vier lewende wesens het gesê: Amen. En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat tot in alle ewigheid lewe.
DIE OPENBARING 5:6-14 Die Boodskap (DB)
Ek kyk toe weer mooi. My oë gly oor die troon en die vier lewende wesens tot tussen die leiers van die kerk wat daar sit. Daar, in die middel van almal, sien ek toe ’n Lam staan. Die snymerk oor sy keel asof Hy geslag was, het my dadelik opgeval. Al was Hy ’n lam, was Hy duidelik baie, baie sterk. Dit kon ek aan sy sewe horings sien. Hy het ook sewe oë gehad. Dit het beteken dat God se Gees self deur en saam met Hom werk. Daar is nie ’n plek in hierdie wêreld waar die Heilige Gees nie is nie. Toe loop die Lam na God se troon toe. Daar vat Hy die boek wat God in sy regterhand hou. Dít het die hemel in beroering gebring! Nie slegs die vier lewende wesens nie, maar ook al 24 leiers van die kerk sak toe uit eerbied en aanbidding op hulle knieë voor die Lam neer. Elkeen van hulle het ’n goue musiekinstrument vasgehou. Hulle het ook goue bakke by hulle gehad. Uit die bakke het daar die lekkerste geur gekom. Ek kon sien dat dit die gebede van die Christene was wat vir almal in die hemel so lekker is om te hoor. Die vier wesens en die leiers van die kerk begin toe die pragtigste lied sing wat ek nog ooit gehoor het. Dit was die eerste maal dat hulle die lied gesing het. “O, hoe groot en belangrik is U. U kan die boek vat en die seëls breek! U is mos soos ’n lam wat geslag is. U bloed, ja, u lewe, het U gegee sodat mense God se mense kon wees, maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie. U sorg dat hulle God as heerser oor almal erken. U maak dat hulle God met oorgawe, soos priesters, dien. Hulle sal ook eendag oor al die mense van hierdie wêreld heers.” Toe ek weer kyk, het ek derduisende engele gesien wat rondom die groepie leiers van die kerk, die vier lewende wesens en die troon staan. Hulle het in ’n massakoor hard gesing: “Die Lam met die wond aan sy nek is die belangrikste onder die belangrikstes. Soek jy krag? Jy sal dit by Hom kry. En rykdom? Dit is by Hom. En die kuns om te leef? Gaan leer maar by Hom. By Hom is die mag en die belangrikheid en eer en lof, ja, sommer alles.” Toe hoor ek hoe alles in die skepping ook saam begin sing. Letterlik alles en almal, of hulle in die hemel, op aarde, onder die aarde of in die see was, het gesing. Selfs alles in die see het saamgesing. Die ganse heelal het gesing: “Vir God wat op die troon sit en die Lam loof ons met al die goeie en mooi woorde wat ons ken. Al die eer en grootheid, al die krag is Hulle s’n vir ewig en altyd, sonder ophou.” Die vier lewende wesens het gesê: “Beslis, ja!” Die 24 leiers van die kerk het weer gekniel en God en die Lam aanbid.
DIE OPENBARING 5:6-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het ek tussen die troon en die vier lewende wesens en tussen die ouderlinge ’n Lam sien staan, soos Een wat geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad, dit is die sewe Geeste van God wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het toe vorentoe getree en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Net toe Hy die boekrol vat, het die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in aanbidding voor die Lam neergeval. Elkeen het ’n siter en ’n goue bak vol wierook vasgehou, dit is die gebede van die gelowiges. Toe sing hulle ’n nuwe lied met dié woorde: “U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie. U het hulle vir ons tot konings en priesters gemaak.” Toe het ek gekyk en ek het die stemme gehoor van baie engele wat rondom die troon gestaan het, asook van die lewende wesens en ouderlinge. Hulle getal was tienduisende, eintlik miljoene der miljoene. Hulle het in ’n magtige koor gesing: “Die Lam wat geslag is, is waardig genoeg om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lofprysing te ontvang.” Die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see en alles wat in hulle bestaan, het ek hoor sê: “Aan Hom wat op die troon sit en aan die Lam, kom toe die lofprysing en die eerbetoning, die heerlikheid en die krag vir altyd en altyd.” Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het neergeval en Hom begin aanbid.