DIE OPENBARING 6:15-17
DIE OPENBARING 6:15-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die konings van die aarde, die hoofamptenare en die opperbevelhebbers, die rykes en die magtiges, ja, al die mense, slawe en vryes, het in die grotte en onder die kranse van die berge weggekruip. Hulle het vir die berge en die kranse gesê: “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?”
DIE OPENBARING 6:15-17 Bybel vir almal (ABA)
Die konings van die aarde, die belangrike mense, die generaals, die ryk mense, die mense wat oor ander mense regeer, die slawe en die mense wat nie slawe is nie, hulle almal het gaan wegkruip in grotte en tussen die rotse op die berge. Hulle het vir die berge en rotse gesê: “Julle moet op ons val, julle moet ons toemaak! Ons wil nie hê dat God ons moet sien nie, God wat op die troon sit. Ons wil nie hê dat die Lam ons moet straf nie! Want die tyd is nou hier wanneer Hulle ons sal straf, en ons sal nie aanhou lewe nie!”
DIE OPENBARING 6:15-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?
DIE OPENBARING 6:15-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die konings van die aarde en die hoofamptenare, die chiliarge, die rykes en die invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens het in die grotte en onder die kranse in die berge weggekruip. Hulle het na die berge en kranse geroep: “Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly?”
DIE OPENBARING 6:15-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die konings van die aarde en die groot manne en die rykes en die owerstes van owerstes en die helde en elke slaaf en elke vryman het hulle verberg in die holtes en in die rotse van die berge; en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Want die groot dag van sy toorn het gekom; en wie sal staande kan bly?
DIE OPENBARING 6:15-17 Die Boodskap (DB)
Dit maak nie saak wie nie, almal moes hardloop: groot leiers, generaals, rykes, sterkes, werkers, gewone mense, almal. Uit die klowe en grotte kon ’n mens die geroep hoor. Die mense daar het die berge en rotse uit angs gesmeek: “Val asseblief op ons. Begrawe ons. Steek ons weg vir God wat oor alles heers. Ja, steek ons weg sodat ons nie hoor hoe kwaad die Lam vir ons is nie.” En kan ’n mens hulle kwalik neem? Die dag waarop hulle finaal deur God veroordeel gaan word, lê voor die deur. Nie ’n enkele een sal kan ontsnap nie.
DIE OPENBARING 6:15-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die konings van die aarde en die hoogste amptenare, die militêre leiers, die rykes en die magtiges, elke slaaf en elke vrymens het gaan wegkruip in die grotte en onder die bergkranse. Hulle sê toe vir die berge en die kranse: “Val op ons en verberg ons voor die oë van Hom wat op die troon sit en van die wraak van die Lam!” Die belangrike dag van hulle wraak het aangebreek en wie kan staande bly?