ROMEINE 12:16-21
ROMEINE 12:16-21 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet altyd gereed wees om saam te werk met mekaar. Julle moenie dink dat julle baie belangrik is en dat julle nie by mense kan wees wat nie so belangrik soos julle is nie. Julle moenie dink julle weet alles nie. Wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie ook slegte dinge aan hulle doen nie. Julle moet goeie dinge doen. Al die mense moet dink dit is goeie dinge. Julle moet baie hard probeer om in vrede te lewe met ander mense. Liewe vriende, wanneer mense slegte dinge aan julle doen, dan moet julle nie self vir hulle straf nie. Julle moet wag, God sal hulle straf, want in die Ou Testament is geskryf: Die Here sê: Dit is Ék wat mense sal straf oor wat hulle verkeerd gedoen het. Maar daar is ook geskryf: Wanneer jou vyande honger is, dan moet jy vir hulle kos gee om te eet, en wanneer hulle dors is, dan moet jy vir hulle iets gee om te drink. As jy dit doen, dan sal hulle baie skaam word, hulle sal nie meer jou vyande wil wees nie. Jy moenie dat slegte dinge jou oorwin nie. Jy moet goeie dinge doen, sodat jý die slegte dinge kan oorwin.
ROMEINE 12:16-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
wees eensgesind onder mekaar; moenie na hoë dinge streef nie, maar voeg julle by die nederige; moenie eiewys wees nie; vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here. As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop. Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
ROMEINE 12:16-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,” sê die Here. “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
ROMEINE 12:16-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie. Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld,” sê die Here. Maar: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof.” Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.
ROMEINE 12:16-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees eensgesind onder mekaar. Moenie let op hoë dinge nie, maar neerbuig teenoor mense met 'n lae eiendom. Wees nie wys in jou eie voorstellings nie. Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie. Verskaf dinge wat eerlik is in die oë van alle mense. As dit moontlik is, so veel as wat in julle lê, leef in vrede met alle mense. Geliefdes, moenie julleself wreek nie, maar gee plek vir die toorn, want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld, spreek die Here. Daarom, as jou vyand honger het, voed hom; as hy dors het, gee hom drink, want so moet jy kole vuur op sy hoof hoop. Moenie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
ROMEINE 12:16-21 Die Boodskap (DB)
Leef in harmonie met mekaar. Moenie baklei nie. Moenie beter as ander mense probeer wees nie. Maak vriende met mense wat nie te veel van hulleself dink nie. Onthou: julle beskik nie oor al die kennis en wysheid in die wêreld nie. Wees nederig. Moenie net regsit om ander mense in eie munt terug te betaal as hulle iets verkeerds aan julle gedoen het nie. Doen liewer goeie dinge sodat ander mense kan sien dat julle God dien. Doen van julle kant af alles in julle vermoë om in vrede met ander mense te leef. Laat staan al julle wraakplanne, my liewe broers en susters. Dit pas glad nie by gelowiges nie. Los sulke dinge vir God. Daar staan immers in die Bybel: “‘Ek alleen het die reg om te straf; Ek sal wraak neem,’” sê die Here. “‘As jou vyand honger is, moet jy sorg dat hy iets te ete kry. As hy dors is, moet jy hom iets gee om te drink. As jy dit doen, sal jy hom verskriklik skaam maak.’” Moenie toelaat dat dit wat sleg is in jou lewe die oorhand kry nie. Oorwin die Bose deur te doen wat God van jou vra.
ROMEINE 12:16-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Konsentreer op dit wat onderlinge eensgesindheid bevorder. Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie. Moenie vir enigiemand kwaad met kwaad terugbetaal nie; wees positief teenoor alle mense. Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense. Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.” Doen eerder wat die Skrif sê: “As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.” Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom.