ROMEINE 12:3-8
ROMEINE 12:3-8 Bybel vir almal (ABA)
God was baie goed vir my. Daarom sê ek vir elkeen van julle: Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles. Julle moet onthou dit is God wat vir julle elkeen sê hoe julle Hom moet dien. Ons is soos 'n mens se liggaam. 'n Mens het een liggaam, maar die liggaam het baie dele, en elke deel doen iets anders. Dit is dieselfde met ons. Ons is baie mense, maar ons behoort aan Christus en daarom is ons soos een liggaam, ons behoort almal aan mekaar. God het genadegawes vir ons gegee, maar God het nie dieselfde genadegawes vir ons almal gegee nie. As party van ons die boodskappe van God vir die ander gelowiges kan bring, dan moet ons die regte boodskappe vir hulle bring. As party van ons die ander gelowiges kan dien, dan moet ons hulle dien. As party van ons vir die ander gelowiges kan leer, dan moet ons vir hulle leer. As party van ons vir die ander gelowiges kan help om reg te lewe, dan moet ons vir hulle help. As party van ons vir die ander gelowiges van ons eie goed en geld kan gee, dan moet ons baie gee. As party van ons leiers kan wees, dan moet ons hard werk om goeie leiers te wees. As party van ons goed kan wees vir mense wat swaarkry, dan moet dit vir ons lekker wees om dit te doen.
ROMEINE 12:3-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat 'n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie 'n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
ROMEINE 12:3-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar. Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.
ROMEINE 12:3-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. Want soos ons baie ledemate in een liggaam het, en nie al die ledemate dieselfde funksie vervul nie, net so is ons, al is ons baie, een liggaam in •Christus, en individueel lede van mekaar. Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof; as dit is om ander te dien, gebruik dit dan vir dienswerk. Wie onderrig kan gee, moet onderrig; wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen; wie leiding kan gee, moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen.
ROMEINE 12:3-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, om nie van homself meer te dink as wat hy behoort te dink nie; maar om nugter te dink, soos God aan elkeen die maat van geloof gegee het. Want soos ons baie lede in een liggaam het, en al die lede nie dieselfde amp het nie: So is ons, wat baie is, een liggaam in Christus en elkeen lede van mekaar. Terwyl ons dan gawes het wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is, of dit nou profesie is, laat ons profeteer volgens die verhouding van geloof; Of bediening, laat ons wag op ons bediening; of hy wat leer, op lering; Of hy wat vermaan, op vermaning; wie gee, laat hom dit eenvoudig doen; hy wat regeer, met ywer; hy wat barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.
ROMEINE 12:3-8 Die Boodskap (DB)
Weet julle, God is baie goed vir my. Hy het my as sy apostel aangestel om sy wil bekend te maak. Daarom kan ek vir julle almal sê dat julle nie te veel van julleself moet dink nie. Nee, wees nederig. Onthou dat julle geloof ’n geskenk uit God se hand is. Wees dankbaar vir die geloof wat julle wel van Hom ontvang het. En hou op om julle met ander te vergelyk. Ek wil dit met die beeld van ’n liggaam verduidelik. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Ons as kerk is ook soos ’n liggaam. Ons is Christus se liggaam hier op aarde. Net soos die verskillende liggaamsdele elkeen sy eie funksie het, het ons as gelowiges ook verskillende funksies. Om ons te help om hierdie funksies te vervul het God vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het. As jou hemelse geskenk is om God se boodskap bekend te maak, doen net dit. Maak sy wil bekend in die geloof wat jy daarmee saam uit God se hand ontvang het. As jy oor die gawe beskik om ander mense te dien, dien hulle dan met oorgawe. As jou hemelse geskenk is om ander te leer waaroor ons verhouding met God gaan, doen net dit. As jy die gawe het om ander mense te vermaan en te vertroos, doen dit. As jou hemelse gawe is om jou besittings met ander te deel, moet dan nie suinig wees nie. As dit God se geskenk aan jou is dat jy een van die leiers in die kerk moet wees, doen dit met toewyding. En as jy oor die gawe beskik om mense te help wat in nood verkeer, doen dit met blydskap.
ROMEINE 12:3-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Namens Hom wat my in sy genade tot sy apostel gemaak het, sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het. Ons besit elkeen een liggaam wat uit baie ledemate bestaan en wat elkeen sy eie spesiale funksie het. Net so is dit ook met Christus se liggaam. Al is ons baie, vorm ons saam een liggaam omdat ons aan Christus verbind is, en as ledemate van hierdie één liggaam hoort ons saam en het ons mekaar nodig. Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. As God aan jou die gawe gegee het om te profeteer, moet jy dit aanwend in ooreenstemming met ons geloofsoortuigings. As dit is om ander te dien, doen dit met oorgawe. As jy onderrig gee, gee dan kwaliteitonderrig. As dit is om ander op te beur, lê jou daarop toe. As jy materiële ondersteuning kan gee, doen dit sonder bymotiewe. As God aan jou leierseienskappe gegee het, hanteer dit met toewyding. En as jy die gawe het om ander in hulle nood by te staan, doen dit met ’n vrolike hart.