ROMEINE 15:1-5
ROMEINE 15:1-5 Bybel vir almal (ABA)
As ons geloof sterk is, dan moet ons die gelowiges help wie se geloof swak is. Ons moenie doen wat vir óns lekker is nie. Ons moet die dinge doen wat vir ons naaste lekker is, want dan doen ons wat goed is, en so word ons naaste se geloof sterker. Julle moet dit weet: Christus het ook nie net dinge gedoen wat lekker is vir Hom nie. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Die mense wat vir U beledig, is die mense wat my beledig het. Want alles wat in die Ou Testament geskryf is, is voorheen geskryf om vir ons te leer, sodat ons kan aanhou glo. Dit is geskryf om ons te help en te bemoedig. Dan sal ons seker weet dat God ons sal red. Dit is God wat ons help om aan te hou glo en wat ons bemoedig. Ek bid dat Hy vir julle sal help om altyd gereed te wees om saam te werk met mekaar, dit is soos Christus Jesus dit wil hê.
ROMEINE 15:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie. Want elkeen van ons moet die naaste behaag met die oog op wat goed is tot stigting. Want ook Christus het Homself nie behaag nie, maar soos geskrywe is: Die smaadhede van die wat U smaad, het op My geval. Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus
ROMEINE 15:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op ons wat sterk is in die geloof, rus die verpligting om die swakhede te verdra van dié wat nie sterk is nie. Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.” Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê.
ROMEINE 15:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ons wat sterk is in die geloof, is verplig om die swakhede te dra van diegene wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy medemens behaag met die oog op wat vir hom goed is en hom kan opbou. •Christus het tog ook nie Homself behaag nie, maar, soos daar geskryf staan: “Die beledigings van hulle wat U beledig, het My getref.” Alles wat vroeër opgeteken is, is tog vir ons tot lering opgeteken, sodat ons hoop kan hê deur die volharding en die bemoediging wat ons uit die Skrif ontvang. En mag die God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus
ROMEINE 15:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ons wat sterk is, behoort dan die swakhede van die swakkes te dra en nie onsself te behaag nie. Laat elkeen van ons sy naaste behaag tot sy voordeel tot opbou. Want selfs Christus het Homself nie behaag nie; maar soos geskrywe is: Die smaad van die wat U smaad het, het op my geval. Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering geskryf, sodat ons deur geduld en vertroosting van die Skrifte hoop kan hê. En die God van lydsaamheid en vertroosting gee julle om eensgesind te wees onder mekaar volgens Christus Jesus.
ROMEINE 15:1-5 Die Boodskap (DB)
Dié van ons wie se geloof sterk is, het ’n plig teenoor ander Christene wie se geloof nog nie so sterk is nie. Ons moet hulle aanvaar en hulle bystaan. Geloof gaan tog nie net oor ons nie. Ons kan nie net daardie dinge doen wat ons gelukkig maak sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is. Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou. Christus het presies dit kom doen toe Hy op aarde was. Hy het nie na sy eie belange omgesien nie, maar na dié van ander. Dit is soos die Bybel sê: “Al die beledigings wat die mense na u kant toe gegooi het, het Ek gedra. Dit het alles op My afgekom.” Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan sodat ons elke dag kan uitsien na die terugkoms van die Here. Mag God, wat ons almal se geloof sterk maak en ons krag gee, julle help om regtig goed met mekaar oor die weg te kom. Dit is presies wat Christus Jesus wil hê.
ROMEINE 15:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dié van ons met ’n sterk geloof behoort die twyfel en vrese van ons medegelowiges met ’n sensitiewe geloof in aanmerking te neem en nie ons eie belange voorop stel nie. Ons moet aan die beswil van ons naaste dink en hulle so in hulle geloofslewe help opbou. Ook Christus het immers nie aan sy eie sin en wil voorkeur gegee nie. Soos die Skrif sê: “Dié wat U beledig, beledig ook vir My.” Ons moet leer uit wat al lank gelede reeds in die Skrif opgeteken is. Die standvastigheid en die bemoediging wat die Skrif aan ons gee, help ons om aan ons toekomsverwagting te bly vashou. Mag God, wat die bron is van standvastigheid en bemoediging, julle help om in volkome harmonie met mekaar te lewe – elkeen met die gesindheid van Christus teenoor julle medegelowiges.