ROMEINE 3:23-26
ROMEINE 3:23-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo.
ROMEINE 3:23-26 Bybel vir almal (ABA)
Want al die mense het sonde gedoen en hulle lewe nie soos God, die Koning, wil hê hulle moet lewe nie, maar God spreek hulle vry omdat Hy baie goed is vir hulle, omdat Christus Jesus hulle vrygemaak het. God het vir Christus laat sterf. Dit is die offer waarmee God die sonde versoen van die mense wat in Christus glo. So het God gewys dat Hy altyd doen wat reg is. Die mense het sonde gedoen in die tyd voordat Christus gekom het, maar God het hulle nie gestraf nie. Hy het die mense nie gou gestraf nie, Hy het gewag tot nou toe om te wys dat Hy mense vryspreek. So wys Hy dat Hy altyd doen wat reg is, Hy wat elke mens vryspreek wat in Jesus glo.
ROMEINE 3:23-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God — om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is.
ROMEINE 3:23-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar.
ROMEINE 3:23-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God; om sonder verdienste geregverdig te word uit sy genade deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Wie God voorgehou het om 'n versoening te wees deur geloof in sy bloed, om sy geregtigheid te verkondig tot vergewing van sondes wat verby is, deur die verdraagsaamheid van God; Om in hierdie tyd sy geregtigheid te verkondig, sê ek, sodat hy regverdig kan wees en regverdiger kan wees van hom wat in Jesus glo.
ROMEINE 3:23-26 Die Boodskap (DB)
Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie. God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie. God was ’n lang tyd geduldig met ons oor al ons sondes. Hy het ons nie links en regs daarvoor gestraf nie. Maar omdat God regverdig is en dit die een of ander tyd moet straf, het Hy besluit om ons sondes op Jesus Christus te laat neerkom. Daarom kan Hy nou elkeen vryspreek wat in Christus glo.
ROMEINE 3:23-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo.