ROMEINE 3:9-23

ROMEINE 3:9-23 Bybel vir almal (ABA)

Mag ons sê dat ons onskuldig is en dat ons nie sonde doen nie? Nee, nooit nie! Ek het in die begin van hierdie brief gesê dat almal skuldig is. Ek het gesê almal is vol sonde, die Jode én die mense wat nie Jode is nie. In die Ou Testament is daar geskryf: Niemand doen reg nie, nie een nie. Niemand is verstandig nie, niemand vra wat God wil hê nie. Niemand doen wat God wil hê nie, almal doen verkeerde dinge, nie een mens doen goed nie, niemand nie. Hulle sê dinge wat baie sleg is, hulle praat en dan bedrieg hulle ander mense, hulle woorde is so sleg soos die gif van slange. Hulle hou daarvan om mense te vervloek en om slegte dinge te sê. Hulle hou daarvan om mense dood te maak. Hulle breek alles en hulle maak mense baie seer. Hulle hou nie van vrede nie. Hulle respekteer nie vir God nie. Ons weet dat almal wat God se wette ken, moet doen wat die wette sê. Daarom kan niemand sê hy is onskuldig nie. Ja, God moet al die mense in die wêreld straf, want Hy sal niemand vryspreek omdat hy doen wat die wette sê nie. Die wette wys vir ons wat sonde is, die wette wys niks meer nie. Maar nou het God vir ons kom wys dat Hy mense vryspreek, maar nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Ons lees daarvan in die Wette van Moses en in die boeke van die profete. God spreek mense vry omdat hulle in Jesus Christus glo. Ja, God spreek almal vry wat glo, dit maak nie saak wie hulle is nie. Want al die mense het sonde gedoen en hulle lewe nie soos God, die Koning, wil hê hulle moet lewe nie

ROMEINE 3:9-23 Die Boodskap (DB)

Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie. Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie, niemand probeer om volgens God se wil te leef nie. Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie. Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs. Hulle kan nie voorbly om mekaar dood te maak nie. Agter hulle lê ’n spoor van vernietiging en ellende. Hulle weet nie wat dit beteken om in vrede met ander mense te leef nie. Hulle het geen eerbied vir God nie.” Ons weet dat alles wat Moses in die wet gesê het, spesifiek vir mense bedoel is wat onder die gesag van die wet staan. Daarom moet ons stilbly en ophou om so maklik die vinger na ander te wys. Ons almal staan skuldig voor God. Ons wat Jode is moenie dink dat God ons sal vryspreek as ons sy wet probeer gehoorsaam nie. Al wat die wet kan doen, is om vir ons te wys wat sonde is, maar dit help ons glad nie om op te hou verkeerde dinge doen nie. Ek het nou baie goeie nuus vir julle: dit waarvan die Bybel praat, naamlik dat God mense sal vryspreek van hulle sondes, selfs al doen hulle nie stiptelik alles wat die wet van God sê nie, het uiteindelik waar geword. Mense wat in Jesus Christus glo, word nou deur God van hulle sondes vrygespreek. Dit geld vir elkeen wat glo. Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie.

ROMEINE 3:9-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Waarop kom dit neer? Dat ons wat Jode is, voor God beter is as ander? Hoegenaamd nie! Ons het immers reeds duidelik aangetoon dat die Jode sowel as die nie-Jode almal onder die mag van die sonde verkeer. Dit is soos die Skrif sê: “Niemand is goed nie – selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie; niemand wat ernstig na God soek nie. Almal het hulle rug op God gekeer; almal het sleg geword. Daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een nie.” “Hulle keel is soos ’n geopende graf. Met hulle tonge pleeg hulle bedrog.” “Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe.” “Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid.” “Hulle is haastig om moord te pleeg. Oral waar hulle gaan, laat hulle verwoesting en ellende agter. Hulle weet nie waar ware vrede lê nie.” “Eerbied vir God speel by hulle geen rol nie.” Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God. Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie. Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk ons sonde. Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die Skrif al lankal getuig: God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo. Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.