ROMEINE 5:1-2
ROMEINE 5:1-2 Bybel vir almal (ABA)
God het ons vrygespreek omdat ons in Christus glo. Nou is daar vrede tussen ons en God, want ons Here Jesus Christus het vrede gemaak tussen ons en God. En Christus help vir ons wat glo, sodat ons elke dag kan weet dat God baie goed is vir ons. En ons is trots, want ons hoop en weet dat ons eendag by God, ons Koning, sal wees.
ROMEINE 5:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.
ROMEINE 5:1-2 Die Boodskap (DB)
Omdat ons glo, is daar nou vrede tussen God en ons. En dit alles is aan ons Here Jesus Christus te danke. Deur ons geloof het Hy gesorg dat ons nou in ’n splinternuwe verhouding met God staan. Ons leef nou dag vir dag net uit sy goedheid. Daarom is ons baie bly en opgewonde. Want ons weet dat God se nuwe wêreld op ons wag. Daar sal ons sy heerlikheid sien.
ROMEINE 5:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.
ROMEINE 5:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus •Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem ons op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.
ROMEINE 5:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus: Deur wie ons ook deur die geloof toegang het tot hierdie genade waarin ons staan en ons verheug in die hoop op die heerlikheid van God.
ROMEINE 5:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het. Deur Jesus Christus het ons, deurdat ons glo, toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee.