ROMEINE 5:12-15
ROMEINE 5:12-15 Bybel vir almal (ABA)
Daarom, een mens, Adam, het eerste sonde gedoen, en hy moes sterf. Van toe af doen al die mense sonde, en hulle moet almal sterf. Die mense het sonde gedoen voordat God vir hulle sy wette gegee het, maar hulle was nie skuldig nie, want hulle het nog nie die wette gehad nie. Hulle was nie skuldig nie, maar hulle het gesterf, van die tyd toe Adam gelewe het tot die tyd toe Moses die wette van God vir die Israeliete gegee het. Die dood het oor al die mense regeer. Die mense wat nie dieselfde sondes gedoen het wat Adam gedoen het nie, het ook gesterf. Ja, Adam het sonde gedoen en gesterf, en dit het gewys wat Christus moes kom doen, Christus, die Een wat later gekom het. God se genade is anders as die sonde en dit is sterker as die sonde. Een mens, Adam, het sonde gedoen, en daarom het baie mense gesterf. Maar God se genade is baie beter. Ja, God is baie goed, Hy het Een Mens, Jesus Christus, gegee, en dit is hoe God genadig was vir baie meer mense.
ROMEINE 5:12-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het — want vóór die wet was daar al sonde in die wêreld; maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Tog het die dood geheers van Adam af tot op Moses, ook oor hulle wat nie gesondig het in die gelykheid van die oortreding van Adam nie, wat 'n voorbeeld is van Hom wat sou kom. Maar dit is met die misdaad nie soos met die genadegawe nie; want as deur die misdaad van die één baie gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword.
ROMEINE 5:12-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie 'n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie. Daar is ooreenkoms tussen Adam en Hom wat sou kom, maar met die genadegawe is dit anders as met die oortreding. Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk.
ROMEINE 5:12-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Vóór die wet was daar reeds sonde in die wêreld, maar as daar nie 'n wet is nie, word sonde nie toegereken nie. Nietemin het die dood van Adam af tot by Moses geheers, ook oor dié mense wat nie gesondig het op dieselfde wyse as wat Adam oortree het nie. Adam is 'n voorbeeld wat heenwys na Hom wat sou kom. Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus •Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword.
ROMEINE 5:12-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood; en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. (Want tot die wet was daar sonde in die wêreld, maar sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie. Nietemin het die dood geheers van Adam af tot by Moses, selfs oor hulle wat nie gesondig het nie, na die gelykenis van Adam se oortreding, wat die figuur is van Hom wat sou kom. Maar nie soos die oortreding nie, so is ook die vrye gawe. Want as baie deur die oortreding van een gesterf het, veel meer het die genade van God en die gawe uit genade wat deur een mens, Jesus Christus is, vir baie oorvloedig geword.
ROMEINE 5:12-15 Die Boodskap (DB)
Dit is net een mens se skuld dat hierdie wêreld in so ’n groot gemors is: Adam. Dit is hy wat die sonde en die dood in die wêreld ingebring het. Omdat hy nie na God wou luister nie, het hy die hele wêreld saam met hom in die sonde en die dood ingesleep. Daarom is ons almal nou sondaars. Nog voordat God sy wet aan Moses gegee het, was daar al sonde in die wêreld. Dit was nog net nie so duidelik uitgespel nie. Tog heers die dood van Adam se tyd af oor alles en almal. Al die mense wat ná Adam geleef het, het ook doodgegaan, al het hulle nie presies dieselfde sondes as hy gedoen nie. Maar Adam wys ook vooruit na die Een wat ons uit die greep van sonde kom bevry het. Tog kan Adam se sonde en Christus se verlossing nie in dieselfde asem genoem word nie. As slegs een persoon se sonde in staat was om miljoene mense in die dood te dompel, dink net wat God kan regkry deur een Man, Jesus Christus. Omdat God so baie vir ons omgee, het Hy hierdie Man na ons toe gestuur om ons vry te kom maak. Jesus Christus is die sigbare bewys van God se ongelooflike goedheid.
ROMEINE 5:12-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Adam gesondig het, het sonde in die wêreld ingekom en deur Adam se sonde ook die dood. En so het die dood tot alle mense deurgedring, want almal het gesondig. Reeds voordat die wet gegee is, het mense gesondig, alhoewel sonde nog nie so spesifiek toegereken kan word as daar geen wet is nie. Die mense tussen Adam en Moses het in elk geval almal gesterf, al was hulle nie soos Adam ongehoorsaam aan ’n uitdruklike opdrag van God nie. Adam was in ’n sekere sin ’n heenwysing na Hom wat sou kom. Tog is daar ’n ernstige verskil tussen ons sonde en God se genadegeskenk van vergifnis. Want die oortreding van hierdie een mens, Adam, het die dood van baie veroorsaak, maar die ander mens, Jesus Christus, het soveel meer gedoen: die genade van God, ja, sy genadegeskenk wat Hy deur Jesus Christus aan baie mense gee, oortref alles!