ROMEINE 5:6-8
ROMEINE 5:6-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 'n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir 'n regverdige nie. Ja tog, vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
ROMEINE 5:6-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf. ’n Persoon sal kwalik bereid wees om vir ’n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir ’n besonder goeie mens te sterf. God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.
ROMEINE 5:6-8 Bybel vir almal (ABA)
Christus het gesterf toe ons nog swak was. Ja, Hy het op die regte tyd gesterf om die sondaars te red. Niemand sal lus wees om te sterf om 'n ander mens te red nie, ook nie as daardie ander mens reg lewe nie. Ja, miskien sal daar iemand wees wat dapper is en lus is om te sterf om 'n goeie mens te red. Maar Christus het gesterf om ons te red toe ons sondaars was. Daarom weet ons dat God baie lief is vir ons.
ROMEINE 5:6-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. Want nouliks sal iemand vir 'n regverdige sterwe — vir 'n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe — maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
ROMEINE 5:6-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe ons nog magteloos was, het Christus immers op die regte tyd vir goddeloses gesterf. 'n Mens sal nie maklik vir 'n •regverdige persoon sterf nie, al sou 'n mens dalk nog die moed hê om vir so 'n goeie persoon te sterf. God bewys egter sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
ROMEINE 5:6-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want toe ons nog kragteloos was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterf. Want beswaarlik sal iemand vir 'n regverdige sterwe, maar miskien sal sommige vir 'n goeie man dit selfs waag om te sterf. Maar God betuig sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
ROMEINE 5:6-8 Die Boodskap (DB)
Christus het op presies die regte tydstip vir ons gesterf. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer toe ons nog in die sonde rondgelê het. Dit is totaal ondenkbaar dat Christus bereid was om so iets vir ons te doen. Nie een van ons sal ooit ons lewe vir iemand anders prysgee nie. Ja, miskien nog vir ’n baie goeie vriend of vir die een of ander goeie mens. Maar God is heeltemal anders as ons. Hy wys juis hoe lief Hy ons het deurdat Jesus in ons plek doodgegaan het toe ons almal nog ’n spul sondaars was.